sg1105kos
Diverse

Sjokolade, ja jy mag maar!

Maak seker jy gebruik goeie sjokolade van die donkerder soort Sjokolade word gemaak van kakao, waarvan die boom inheems aan dele van Suid-Amerika is. Die vrug word geoes en die boontjies binne-in gefermenteer en gemaal tot ’n suiwer sjokolade-vloeistof. Dié vloeistof word dan geskei in kakao en kakaobotter. Albei word in donkersjokolade gebruik, maar die verhouding verskil van produk tot produk.

Kakao en kakaobotter is baie ryk aan verskeie voedingstowwe, soos die minerale magnesium, kalium, koper en yster. Die meeste vet in die kakaoboontjie (of dit nou kakaobotter of kakaopoeier is) is egter “neutraal” – dus nie “slegte” vet wat jou cholesterol opjaag nie.

Daar word altyd op die verpakking van goeie gehalte-sjokolade aangedui wat die persentasie kakao is. Hoe hoër die persentasie, hoe beter – bv. 60%, 70% of 85%. (“Cocoa Butter” en “Cocoa Mass” sal minstens onder die eerste 4 bestanddele op die verpakking gelys word as die gehalte goed is.)

Maar jy betaal natuurlik vir gehalte en daarom is goeie donkersjokolade gewoonlik ’n
bietjie duurder as minder gesonde sjokolade.

Wat is sjokolade?

1. Kakaobotter (in donkersjokolade met 75% en meer kakao) het meer van ’n sekere vet (steariensuur) as ander sjokolade. Jou liggaam absorbeer dit nie juis nie endit kan dus nie jou cholesterol verhoog nie. Kakaobotter bevat boonop van dieselfde soort vet as olyfolie wat jou cholesterolvlakke in toom hou.

2. Hoe donkerder die sjokolade, hoe meer antioksidante het dit gewoonlik. Antioksidante het baie gesondheidsvoordele. Só kan dit die “goeie” cholesterol in jou liggaam verhoog. Die antioksidante is ook belangrik vir ’n sterk immuunstelsel en kan selfs ’n rol speel om jou vel mooi te maak.

3. Studies wys kakao (soos in goeie sjokolade met 60% tot 70% en meer daarvan) bevat plantstowwe wat help om bloeddruk te verlaag. Dit kan ook insuliensensitiwiteit (as jy insulienweerstandig is) en die gebruik van glukose in jou liggaam (belangrik om jou gewig in toomte hou) verbeter.

4. Hoe minder “sjokolade” jou lekkerny bevat, hoe minder gesond is dit. Wees op jou hoede: sekere produkte het so min as 5% kakao. Die res is plantvette, suiker, melk en ander geurmiddels.

5. Hou matigheid voor oë en geniet sjokolade in die plek van die suiker wat jy byvoeg by jou tee/koffie/pap, ens., asook soet lekkernye en versoete produkte.

Eet en kook slim met sjokolade

1. Gebruik dit in kombinasie met vrugte of neute waar jy kan.

2. Gebruik altyd sjokolade met ’n kakao inhoud van hoër as 60%; 85% is koning vir ’n gesonde dieet.

3. Geregte met volume (soos veerligte koek of skuimpoedings) het gewoonlik minder kJ–mits jou porsie nie te groot is nie.

4. ’n Blokkie of twee donkersjokolade per dag kan deel wees van ’n gesonde dieet – maar verminder dan ander bronne van suiker (in lekkers, energiestafies en tee/koffie).

5. Gebruik heuning waar jy kan, dis die natuur se gesonder suiker. Dis soeter as suiker
en jy gebruik dusminder.

6. Kook met onversoete, rou kakaopoeier. Jou kos het dan meer antioksidante, “goeie” vette en minerale.

Sjokolade-feite

  • Goeie gehalte sjokolade (60% kakao en meer) bevat min kafeïen.
  • Dit het plantstowwe wat ’n natuurlike “antidepressant” is en jou goed laat voel.
  • Dit het belangrike minerale , bv. magnesium en kalsium, wat beengesondheid bevorder, en yster en koper, wat help om bloedarmoede te voorkom.

Klik vir ‘n heerlike meellose sjokoladekoek resep, hoor wat sê die ‘n kenner daaroor:

  • Verfynde meel is taboe vir baie gesondheidsbewustes en ook vir mense wat gluten-intolerant is. Hier is dus ’n heerlike alternatief.
  • Die koek is baie ryk, maar het net sowat 20 g koolhidrate per porsie. (Dieselfde as ’n sny brood met konfyt.)
  • Alle koringprodukte bevat gluten waarvoor sommige mense baie sensitief is. As jy dermprobleme het, is dié koek vir jou!
  • Frambose is ryk aan vitamiene en koper wat saam met yster werk om gesonde bloed te verseker. Dit bevat ook verskeie plant-voedingstowwe (soos karotenoïede en flavonoïede) in groot hoeveelhede. Dit tree dikwels as die liggaam se “beskermers” op – bv. teen selskade weens dit wat ons eet of doen.

Volg SARIE op Twitter en Facebook