Diverse

Skeppers

Tientalle en meer redes word aangegee, proefskrifte word daaroor geskryf en daar sal seker nog baie oor gedink en geredeneer word. Dis redelik universeel, met
net hier en daar hoë uitsonderings van ’n besonderse vrou wat óf deur geboorte ’n koningin geword het, soos Elizabeth I van Engeland, óf deur uitsonderlike wilskrag en talent selfs leërs aangevoer het, soos Jeanne d’Arc.

’n Boek waarna ek so twee, drie jaar gelede taamlik uitgesien het, was die bekende geskiedkundige Paul Johnson se Creators, ’n populêre werk oor die lewe,
suksesse, stryd en struwelinge van ware skeppende mense in “onlangse” eeue. Onder “ware skeppers” tel hy net kunstenaars, skrywers, ontwerpers – almal wat
volgens hom “iets uit niks” kon maak.

Wetenskaplikes, ontdekkers en selfs filosowe noem hy kortliks. Daarby wek hy die indruk dat hy dink die eintlike Renaissance was nie in Italië nie, maar in Engeland! Meesters soos Michelangelo en Dante word bloot terloops genoem, terwyl lang hoofstukke aan die Engelssprekende wêreld se skrywers afgestaan word.

Maar onlangs het ek die boek herlees om te kyk of ek te hard geoordeel het en toe val ’n paar interessante (eintlik maar bekende) feite my weer op: onder meerdie minagting, selfs veragting, tot in onlangse tye van die vrou as skeppende gees op soveel terreine. Vroue moes hulle “op hul plek hou of hul plek ken”, of so wil dit lyk. Binne ’n paar kort dekades het dinge radikaal verander, plek-plek met rukke en stote, maar die souspot is nou omgegooi. Ek het onlangs op die internet van ’n man gelees wat vrees dat mans oorbodig sal word met al die vroue-hoofbestuurders, vroue-sakeleiers, -kunstenaars, -skrywers, -digters, selfs vrouesoldate. Vroeër was ’n vrou wat nie getrou het nie, gedoem.

Daardie ou wat so bang is dat die man se rol uitgedien is, is dalk bang dat vroue mans later sal beveel om “hul plek te ken”!

Maar in agttiende-eeuse Engeland, volgens Johnson, het die meerderheid families van werklik skeppende vroue hulle eenvoudig verbied om voort te gaan met wat
hulle wou doen, veral ook wanneer hulle aan ’n effens hoër “klas” behoort het. Dit sou glo die sosiale stand van die familie skade berokken: “Hulle is te vrot om hul vroue te versorg.” Of dalk was dit ook ’n goeie skeut manlike jaloesie.

Want dit het verder gegaan as families en stand. Die Royal Academy is in 1768 gestig, met twee vroue as stigterslede. Daarna het hulle vir meer as ’n eeu nie
weer ’n vrou as lid verkies nie. Tot in die 1960’s is die paar vrouelede van die Academy nie toegelaat om  die jaarlikse groot banket by te woon nie. Eers ná die
afhandeling van die toesprake en die heildronk op die koningin (!) kon hulle by die manlike lede aansluit.

Die skilder Joshua Reynolds het glo sy begaafde suster verbied om te skilder, vertel Johnson. Die digter Wordsworth het sy suster nooit aangemoedig om te dig
nie, hoewel sy beslis skeppende talent getoon het. (Sy was eintlik die “insig” agter sy gedig “The Daffodils”.) Die beroemde Jane Austen is nie deur haar predikantfamilie ontmoedig nie, maar moes tuis haar ma en suster help en saam “social calls” doen.

Haar skryfplek in Bath was glo weinig meer as ’n deurloop-gangetjie!

Dit was ietwat anders gesteld met George Eliot (Mary Ann Evans) in die negentiende eeu. Sy moes lank by haar moeilike broer inwoon en het onder ’n manlike
skrywersnaam gewerk en beroemd geword. Toe sy eers “iemand” was, móés mans haar aanvaar en het sy dikwels op haar eie “manlike” byeenkomste bygewoon.
(Dit nogal met ou koningin Victoria op die troon!)

Ek vermoed die vroulike skeppende gees gaan in hierdie eeu blom soos nooit tevore nie. Manlike “vestings” wat nog staan, sal val. Christian Dior, die man van die “New Look” in 1947, het glo gereken dat ’n vrou mooi geskep is om uitbundig rojaal aangetrek te word. (Seker mits sy ’n baie ryk man het.)

Maar hoewel Johnson dit nie “tel” nie – hy bepaal hom immers by kunstenaars – bring vroue onder meer lewe in die wêreld, en bly die jong meisie Maria vir my
een van die grootste “skeppendes”. Sy het die Heiland in hierdie lewe in begelei. En sy en haar wenende vriendinne het tot die end by Hom gebly by die kruis.
Miskien is dit dié voorbeeld van skeppende moed.

  • http://tctwfcjbvxey.com/ yzvhnnjh

    yKNEnx uneyiohejtsz, [url=http://seqgtljicrby.com/]seqgtljicrby[/url], [link=http://ykdrwddouxqo.com/]ykdrwddouxqo[/link], http://ihipduqnujun.com/