Diverse

Skoonma

Elkeen het altyd ’n baie goeie saak. Soms het een net ’n beter saak as die ander. Maar ek verbeel my die ou rympie is taamlik waar: “Your son is your son until he takes him a wife. Your daughter is your daughter all your life.”

Maar skoonfamilie bly maar vir talle mense ’n tameletjie. Dink daaraan van ons oues se kant: Jou spogkind trou met sy of haar keuse. Maar met sy of haar keuse kry jy as ouer nóg familie by wat jy óf omhels, óf so-so aanvaar, óf liefs op ’n afstand hou. Persoonlikheids- en kultuurverskille speel ’n groot rol. Of sommer net daardie gevoel: “Ek hou van jou” of “Ek weet nie wat dit is nie, maar ons sal nie stryk nie.” En gewoonlik voel die ander party ook maar so.

Dieselfde geld jou kind se keuse. Skielik is daar iemand in jou gesin wat óf daar pas soos jou eie holtetjie in jou eie bed, óf om jou gemoed flap soos ’n tent in die stormwind. Jong verliefdes dink weer meestal nie daaraan dat wanneer jy jou groot liefde ontmoet jy ook heel moontlik ’n pa en ’n ma bykry nie. En swaers en skoonsusters. Die hele boksemdaais.

Dan beter die “chemie” tussen al die partye werk, of een of ander tyd begin barste wys soos ’n Johannesburgse troshuis wat in ’n rekordtyd geb(r)ou is. En dis gewoonlik die skoonma wat in die skurk-rol ingeskryf word. Dikwels verdiend, want ma’s van seuns wil nog oor hul seuns waak. Rina erken vandag dat sy respek gehad het vir my ma, maar dat dit moeilik was om die hegte ma-seun-verhouding tussen ons te hanteer. My pa het sy gemaklik as ouer aanvaar. Maar pa’s hou meestal nie daarvan om te sien hoe hul dogter vir ’n jong “ander” man ogies maak nie. Nie dat hulle daar veel aan kan doen nie. ’n Mens hoop maar die gesegde van “all your life” is waar.

Ek het eenmaal sit en luister hoe ’n skoondogter voor haar skoonma uitpak oor al die ouer vrou se sondes. Lg. het plek-plek duidelik op haar tande gekners, maar niks gesê nie. Dit was immers ons ooreenkoms voor ons sou praat: Gee elkeen ’n kans. Toe die skoonma egter aan die woord kom, het sy skaars honderd woorde gepraat voor Skoondogter haar met ’n tussenwerpsel onderbreek het. Dit het die hele tyd so gegaan. Ek kon die skoondogter nie stil kry nie en kon niks vir hulle doen of sê of troos nie. Hulle is in aparte motors daar weg. Later het ek die skoonma gebel en gesê jammer, ek verstaan. Van die dogter het ek nie weer gehoor nie. Dié mankementige verhouding het daardie dag in my studeerkamer sy laaste snik gesnik. Ora pro nobis – bid vir ons.

Aan die ander kant weet ek van ’n skoonma wat doelbewus haar kinders se huwelik probeer vernietig het. Sy het geslaag deur stelselmatig kwaadaardige saadjies
by haar kind te saai. Haar kind het later lank ná die egskeiding nog trane gehuil. Maar die skoonkind het die groot skok ná ’n tyd afgeskud en voortgegaan.

My eie skoonma het dikwels by ons kom kuier. Sy het my as ’n seun aanvaar. Sy kon met een enkele realistiese sin troos. Sy kon lag vir elke grappie, al was dit ook flou. Maar ’n mens het ook geweet: Sy’s ’n dame. En sy het haar uit ons sake gehou. Tog was nuuskierigheid net soms haar meester.

Op ’n dag het sy op ons groot stoep gesit en brei toe iemand met ’n storie by my aankom. Ma het fyn geluister en haar stoel al hoe nader aan my oop  studeerkamer geskuif terwyl ek die besoeker uitvra. Toe ek hom met sy eie leuen konfronteer, lag Ma tjie-tjie-tjie buite op die stoep. Die skuldige het sy kop laat sak en gebrom: “Dan lag die ou antie ook nog vir my!”

Ek vertel dit omdat ek soms na haar verlang. Ons was tuis by mekaar. Maar nie een van ons was daarop ingestel nie: Ons het gepás.

Vir dié met moeilike skoonma’s sê ek: Sing Dona nobis pacem – gee ons vrede. Vir dié met moeilike skoondogters sê ek: Bly liewer eenkant. Vir dié met goeie
skoonma’s sê ek: Genade bo genade. En vir dié met perfekte skoondogters: Veels geluk en Amen.

  • Dogter

    EK hou van die artikel.
    Ek probeer oral raad soek. Ek is nog nie getroud nie. Vir die eerste keer twyfel ek. My verloofde se ma het hom duidelik laat verstaan dat hy hul toestemming eers moet vra of hy met my mag trou… Ek was koud en het gevoel hier pas ek nie al het ek hom so lief. Sy ma maak nog al sy besluite al is hy diep in die 30… sy doen sy finansies… EK werk net so hard want finansieël sukkel ons en ek bring die meerderheid in, maar volgens haar werk net haar kind hard. Dis nie lekker nie. SOms voel dit dat ek liewers 20 jaar met gebroke hart sal sit as 20jaar met so skoonma

  • 8x20D2 azytmwexbdhh, [url=http://oseufaoglxed.com/]oseufaoglxed[/url], [link=http://mmcuedrwqjiy.com/]mmcuedrwqjiy[/link], http://fddvtogswfiz.com/

  • WELMA

    Hi wat doen jy met n skoonma wat, na 20 jaar se getroude lewe met my man herken teenoor ander mense dat sy my haat en al die jare net voorgegee het dat sy van my hou,sy haat my kinders .
    Probeer elke keer as ons met hulle in aan raking kom om my man dronk te kry om stryery tussen ons te veroorsaak. Loop en maak my sleg by haar dogters en ander mense.