totalsports_ladies_race_stellenbosch
Diverse

So tussen die ou en die nuwe jaar kom ek vir die heel eerste keer op Paternoster.

Portugese matrose het glo die Onse Vader, die Pater Noster, gebid terwyl hul skip in dié baai op die rotse geloop het. Dan’s daar nog die ander baai. Tietiesbaai, daar naby, wat ons seker almal leer ken het deur Pieter Pieterse se seekos-stories.

Sulke staaltjies het mos die manier om stuk-stuk ’n prentjie van ’n plek in jou kop te teken, en naderhand voel jy jy kén die plek – nog lank voordat jy dit gesien of ervaar het.

My uiteindelike kennismaking met Paternoster en sy kontrei was soet, want nader aan perfek-mooi kry jy nie. Dit ís toe die prentjie wat ek al die jare met my saamgedra het. Vir inkommers soos ek – dis nou Paternoster-taal vir besoekers, nuwelinge en toeriste – is dit ’n plek van kuier en kreef. Lang, lui kuiers op al wat ’n stoep en balkon is, om al wat ’n tafel, braaivleisvuur, kreef- of mosselpot is.

Dis ’n plek wat aan die hartsnare pluk. Op ’n bloumooi dag lê die see tot op die horison so stil soos ’n dam, en in die helder son staan huise, oud, nuut en gerestoureer, skitterwit. Daar’s dolfyne en walvisse. Strandlopertjies en seemeeue. Daar’s ’n koue see wat jou hart byna laat staan, skulpe vir optel en ’n strand vir ordentlik ver stap. Dis ’n plek waar die see jou nog aan die slaap sus.

En daar’s Afrikaans! Dít hoor jy op Paternoster – heerlik en in kleur en geur. Steve Hofmeyr se “Pampoen” by die padstal wat bokkoms en bokkom-brood verkoop, en ware Weskus-Afrikaans so voor die Paternoster Hotel waar die kreeflords onder die bome sake doen. Dis Afrikaans wat jou tone laat omkrul van lekkerkry. Maar wat jou ook soms na jou asem laat snak met sy kreatiewe kruheid.

En daar waar die son vroegoggend opkom, lê die bakkiesbootjies op die strand en wag op die vissermanne wat hulle see toe vat. Vir kreef en snoek en hotnotsvis. Vis om vars te koop, of toegedraai in koerantpapier saam met tjips by die Seemeeu-winkeltjie.

Maar op Paternoster gaan dit ook oor tradisionele vissermanne wat glo die regering is besig om hulle in te doen. Dit gaan oor visregte en permitte, oor kwotas en eise, en ’n gemeenskap wat swaarkry en sonder werk sit. Die see se rykdom behoort aan almal, sê hulle, en só moet dit ook verdeel word.

By Tietiesbaai kampeer vakansiegangers tot teenaan die see. Branders breek terwyl tente en woonwaens aan rotse klou, en gebraaide krewe aan roosters kleef. Tietiesbaai is midde-in die Cape Columbine-natuurreservaat – dis ook hier waar die veld sy blomme in blomtyd soos tapyte uitrol vir die wêreld om te aanskou.

Paternoster los jou nie sommer nie, sê die redakteur in haar Paternoster Koster-koerantjie. Suid-Afrika ook nie, dink ek terwyl ek op een van daardie lang stoepkuiers langs die see sit. Ongetwyfeld lê daar vanjaar vir ons vele uitdagings voor – op finansiële, politieke en sosiale gebied. Maar ek aanvaar dit eerder in mý land, waar ek die kleur van die see ken en stories bekende prentjies in my kop skilder.

Waar daar ’n Paternoster is wat die taal van my, en jou, hart verstaan.

Michélle van Breda

SARIE Februarie 2007