img_1664
Diverse

Martie Swanepoel blog: “Stakers beduiwel rekord-eksamen”

My kind skryf rekord-eksamen. Uiteindelik.

Na twee weke van spanning waarin vanjaar se matrieks gewonder het of hulle eksamen betyds gaan plaasvind, was dit ‘n verligting toe die skool aankondig die kinders sal nou rustig kan voortgaan met een van die belangrikste eksamens van hulle loopbane.

My kind het baie hard gewerk vir hierdie eksamen. Hy wil graag goed presteer sodat hy kan gaan studeer en ‘n positiewe bydrae tot hierdie land kan maak.

Vandag skryf hy Afrikaans.

Maar ‘n wettige betoging vind onder polisietoesig voor die skool plaas. Vakbondliedere word luidkeels gesing en vuvuzelas geblaas.

Die staking is ‘n saak tussen die regering en die stakers. Dit is nie veronderstel om die kinders te raak nie.

Wel, tot dusvêr het dit my kind se matriekjaar geraak.

Hoe moet die kinders studeer en eksamen skryf as vuvuzelas voor die skoolhekke geblaas word?

Die kinders van Parys is reeds senuweeagtig nadat stakers ‘n week gelede by die laerskool ingebars en kinders getraumatiseer het.

Ek bly oorkant die skool. Ek kan dus nie die lawaai wat my kind ontstel terwyl hy vir vanmiddag se vraestel studeer, ignoreer nie.

Dis hoekom ek besluit het om uit te stap met my kamera en die betogers af te neem. Ek wil vir julle wys hoe lyk dit voor die skool waar matrieks eksamen skryf.

Ek doen dit nie as verslaggewer nie. Ek doen dit as ‘n ma wat haar belasting betaal en tot dusvêr aan die toekoms van hierdie land geglo het.

Ek was so opgewonde oor die gees van samehorigheid na die sokker. Ek het selfs met ‘n negatiewe ekspat skoolmaat daaroor swaarde gekruis.

Jammer, Leon. Dis vir my bitter, maar ek trek my woorde oor jou negatiwiteit terug.

Nou voel ek bietjie soos ‘n gek hier waar ek voor my kind se skool staan en toekyk hoe grootmense kinders se eksamen benadeel en hulle emosioneel ontwrig.

Natuurlik geniet die stakers die aandag terwyl ek hulle afneem. Een betoger druk sy vuvuzela in my gesig en blaas so hard hy kan.

Hulle gluur my uitdagend aan.

Ek vra ‘n polisieman hoe kan hulle dit toelaat? Hy is skoon omgekrap met my dat ek dit durf vra.

“Is jou kind in dié skool? Skryf jou kind vandag eksamen?”

“Ja,”

“Dink jy dis reg wat hier gebeur?”

“Dit is ‘n vreedsame staking wat vooraf gereël is.”

Nou wonder ek hoekom ek dan nie “vreedsaam” oor die besigheid voel nie?

  • Gerda Joubert

    Ja ek stem, iemand het vanoggend oor RSG gese dis amper soos ‘n staatsgreep en ek stem saam. As dit blykbaar gereel is, is dit wettig! What rubbish! Ek kry die kinders baie jammer wat onder hierdie omstandighede moet funksioneer, want hulle kan nie hul beste doen nie.
    Dan staan jou wit, manlike kind laaste in die ry om by ‘n universiteit aanvaar te word, al het hy 80%, want bruin en swart wat 60% kry word eerste gekies??????? My hare rys sommer soos ek nou hier skryf!! Sterkte aan jou as ouer wat jou kind moet moed inpraat en hul probeer positief hou oor die land.

  • Heila

    Ek dink al die kinders ly onder die gestaak – swart wit of geel! Kan net bid dat hierdie gemors tot n einde kom ……..

  • Donné

    Martie, my hart gaan uit na al die onskuldige kinders wat nou op hierdie ongelooflike belangrike tyd van hul lewe die realiteit van wat ‘wetlik’ is in SA moet ervaar….ten koste van hul eksamenpunte! As ek sulke goed lees is dit net weer vir my ‘n bewys dat al die swaarkry van jou land verlaat die moeite werd is!!! Glo my, ons bid daagliks vir ons familie en vriende wat hierdie ‘wetlikheid’ moet ervaar en jou stem het geen inpak nie! Sterkte. Al wat jy kan doen is om jou kind te ondersteun! Ons bid vir julle en al die kinders wat onder hierdie omstandinghede ‘n weergawe van hul kennis moet gee om sodoende ‘n goeie toekoms in SA te kan ervaar.

  • E Kisling

    Sterkte aan al die matrieks met die eksamen!
    Hou uit en hou aan ,julle sal wel later die vrugte daarvan pluk.

  • Hannie

    Ek stem 100% met die staatsdiens werkers wat staak. Die feit dat daar mense is wat geweldadig is, en ander probeer intimideer, en ook die vandalisme, praat ek nie goed nie; dit is nie hoe dinge gedoen moet word nie. Dit is egter ‘n direkte gevolg van armoede en ongeletterdheid in ons land. (LW ONS LAND, insluitende wit, swart, pienk of pers, ALMAL)

    Dit is jammer dat dit elke jaar op so iets moet uitloop, en die staat behoort rerig hul prioriteite agter mekaar te kry, en hul werkers vergoed, volgens wat hulle toekom, inlyn met lewenskostes.

    Indien jy nog nie self in die posisie was waarin hulle hulself bevind nie, moet liewer nie klippe gooi nie. Wees liewer dankbaar vir daardie persoon wat jou elke dag na JOU kosbare bloedjies kyk, en help in hulle opvoeding. Hoe min jy ook al daarvan dink. En as jy nog steed kla, skuif hulle na ‘n private skool, waar daar nie hierdie probleme bestaan nie.

    Ek self kan getuig dat harde werk en toewyding jou uit moeilike situasies kan bring, en hoewel dit jammer is dat kinders op ‘n jong ouderdom daaraan blootgestel word, dis die realiteit van die lewe.