sep08izak9
Diverse

Stompiehare

Die jong vrou wat al sestien jaar lank my hare sny, het die spulletjie so bekyk en gesê: “Kom ons wees ‘n keer avontuurlik, kom ons sny alles af Caesar cut (so met ‘n punyjie na vore).”

Ek het gesit en hoe en ha. Sy het met die knipper nader gestaan: “Of ons kan sommer heelpad gaan. Nommer een, met net so ’n twee millimeter hare dwarsoor. Dit lyk baie netjies. Niks meer van ’n gekam nie . . .”

Toe sluk ek so ’n slag en sê: Laat maar waai! Ná sy klaar was, het ek in die groot spieël gekyk en by myself gedink: Nou lyk ek nes die Dalai Lama. Heeltemal nie onskaflik nie. Of ’n ou monnik – ook nie onskaflik nie. Ek het immers monnike een aand by Heiligenkreuz in die Weense woud die vespers hoor sing en ek sou nie omgegee het om kaalgeskeer net daar te bly nie: die koraalsang, die kleurglas, die aanbidding, die diens aan die Here.

Sedertdien knip my haarkapper my hare nommer een en so teen nommer-vier-lengte laat ek weer sny. My Chérie-kind sê dis te kort. Maar Louis sê as ek my sonbril op het, lyk ek soos ’n regte ou mafioso, ’n capo, en niemand sal met my lol nie. (’n Jong swart vrou het gister saam met my geloop van die winkelsentrum af al met Bathlaan langs, want, het sy gesê, sy voel onveilig in die strate en haar selfoon is al drie maal by haar afgevat en ek laat haar veilig voel. Hoe’s daai vir ’n haarsny?)

Ek het ook vir my ’n beanie vir my kop gekoop as ek laatmiddag gaan wandel. ’n Kaal kopvel kan nogal koud word.

Intussen het ’n nuwe, hersiene uitgawe van my boek Oorkom depressie, die siekte van ons tyd sy verskyning gemaak en ek kyk na my foto agterop en gaan vergelyk dit met die een op die agterkant van die uitgawe van 25 jaar gelede. Nogal ’n aansienlike verskil, met plooi hier en plooi daar. Maar ek troos my daaraan dat die boek mooi uitgegee is. Daarby: My haarstyl is deesdae glo mode. Ek en ’n vriend, wat onlangs ’n kursus chemoterapie ontvang het, het by ’n Sondagete lekker gelag oor ons bandietkoppe. Hy is ernstig siek en kla af en toe van depressie.

Ek het weer na die ou vertaling van Hooglied 4:1 gaan kyk: “. . . u hare is soos ’n kudde bokke wat van die gebergte van Gilead afgolf”. Mooi, indrukwekkend, ’n vrou se hare wat so “afgolf”. Maar ’n man se slierte met ’n blink bles wat deur die middel loer soos ’n papaja met baard, is ’n nagmerrie. Af daarmee, of hoe?

Elke keer wil my haarkapper weet wat die mense van my hare sê. Ek het gesê ek dink ek lyk kwaaier. Ja, het sy geweet te vertel, van haar klante het by my gewerk en wou by haar weet hoe sy met my oor die weg kom, glo omdat ek ’n moeilike baas was. Ek wou by haar weet wat sy daarop antwoord. Sonder om te blik of te bloos sê sy: “Aag, man, he’s just a teddy bear!” Nee, ek is eerder ’n mafioso!

Toe groet ek laas Sondag die lidmate ná die diens by die NG kerk Aasvoëlkop se hoofingang. Een vir een kom hulle verby en gee hand of ’n piksoentjie of ’n wangskuurtjie en selfs ’n drukkie. Hulle was blykbaar tevrede met die preek, of so het party gesê.

En terwyl ons nog so groet en selfs kort opmerking-geselsies maak, kom staan ’n aansienlike vrou hier skuins langs my en sê pront: “Dominee, ek wou jou komplimenteer met jou haarstyl, sommer van dag een af. Daai snit pas jou en dit lyk so lekker om aan te vat . . .”

“Nou, be my guest,” sê ek. En sy ook nie links nie en voel behoorlik oor my stompie-kopvel ten aanskoue van almal terwyl ek aanhou groet en die mense grinnik soos hulle verbykom. ’n Jongerige manlike lidmaat het my hand gegee en droogweg opgemerk: “Lyk my ek moet my hare ook so laat sny . . .”

Hy kan probeer en hoop, maar hy het nog te min myle op.