Diverse

Streicher se voetspore: “Mosambiek”

Die eerste aand in Mosambiek het ons gekamp. Dit was verskriklik warm daar was vir seker  ʼn drastiese verskil in die klimaat.

Vroeg die volgende oggend het ons vertrek, want daar was ʼn lang pad voor ons. Langs die pad het ons by ʼn skool verby gery. Dit was onder ʼn boom. Dit was hartseer om te sien, maar lekker om te sien dat die kinders wel leer.
 
Ons het baie laat by Linga-Linga aangekom, maar dit was lekker om weer by die see te wees.
 
Die volgende oggend het ek gesien hoe mooi die Lodge en die omgewing om my was. Ons is met ʼn boot oor na Inhambane waar ons die kattedraal, moskee, stasie en mark besoek het. Dit was baie lekker in die mark waar ek kon kyk na die plaaslike mense se produkte.

Op pad terug met die boot het daar ʼn wind opgesteek en die see het baie rof geraak. Dit het baie gestamp en my baie besig gehou. Ek moes vashou om nie oorboord te val nie, maar dit was nogal lekker. Die aand het ons ongelooflik lekker geëet aan al die vis, prawns en calamari wat ons by die mark gekoop het. Ek het baie lekker geslaap, in my bed wat uitkyk oor die see.
 
Die volgende oggend het ons reggemaak vir ʼn dag op die see, vir diepsee visvang. Ons het baie walvisse gesien. Dit is die eerste keer dat ek so naby aan dié diere gekom het.

Uiteindelik, na ʼn lang gewag, vat ʼn vis die aas, en dit was nie sommer enige vis nie, maar ʼn seilvis. Na meer as 20 minute het ek die vis tot by die boot gekry. Die skipper, William, het my gehelp om hom in die boot te kry. Ongelukkig het sy kiewe seergekry en ons kon hom nie terugsit in die water nie. Die vis was amper so lank soos ek en het byna 40 kg geweeg. Ongelukkig was dit die enigste  vis wat ons die dag gevang het. Nobert het ʼn hamerkophaai, en Andre ʼn Kuta verloor.
 
Die aand het ons by pelle se Lodge gaan eet. Hulle het van die seilvis vir voorgereg gaargemaak. Dit was heerlik. Daarmee saam het hulle vir ons steak gemaak. Dit was uitstekend. Lekkerder as by die huis.
 
Die volgende oggend is ons met kano’s na die mangroves. Dit was teen die stroom en het my baie moeg gemaak. Ek dink dit was die seilvis se gespook van die vorige dag wat my arms so moeg gemaak het. Daarna is ons na Pansy-eiland waar ons baie Pansy skulpe gesien het. Dit was baie mooi, maar die skulpe breek maklik. Ons het besluit om dit nie te probeer saamry al die pad tot in Egipte nie.
 
Van Linga-Linga het ons verder noord gegaan. Dit was een van die kortste ritte nog op vanjaar se Voetspore-reis. Dit was net drie ure se ry tot by Vilanculos waar ons gaan slaap het by ʼn Lodge.
 
Die volgende oggend is ons van die Lodge met ʼn rubber duck na Bazaruto. Eers het ons ʼn duin gaan uitklim, en toe gaan snorkel. Dis die mooiste wat ek nog ooit gesien het. Mens snorkel in, wat hulle noem, ʼn akwarium. Daar is baie koraal en ook baie mooi vissies. Net na een uur het ons teruggedraai Vilanculos toe. Die wind het begin waai, en ons was nie weer lus vir ʼn rowwe see nie.
 
Groete
 
Streicher.

  • Christelle Strydom

    Liewe Streicher
    Wat ‘n ongelooflike ervaring om so saam met jou pa en die voetspore span te kan wees. Baie dankie dat ons die voorreg het om dit saam met jou te kan deel. Geniet elke oomblik van hierdie "universiteit van die lewe". As dit jy is wat self jou dokument proeflees dan wil ek jou komplimenteer op jou werk. Hou so aan, ek lees graag verder oor al jul avonture.
    Groete
    Christelle