streicher
Diverse

Streicher se voetspore: “Soedan”

Die volgende dag se ry het ons lank gery in die rigting van Port Soedan. Ons kon toe nie Port Soedan haal nie, maar het ʼn baie lekker kamp in die woestyn gehad. Alles langs die pad lyk presies dieselfde want dit is woestyn, maar dit bly vir my baie interessant.

Ons was sommer vroeg-vroeg die volgende oggend in Soedan wat op die Rooi See is. Dit was my eerste besoek aan Port Soedan sowel as die Rooi See. Dit het baie lekker gelyk. Ons het probeer om in die Rooi See te swem, maar dit het nie lekker uitgewerk nie. Dis baie vlak en modderig en nie soos die see wat ons ken nie.

Ons het wel die volgende dag gaan snorkel want dit is van die beste snorkel en scuba plekke in die wêreld. Ons is met ʼn boot veertig minute die see in om by dieper water uit te kom. Waar ons gesnorkel het, was die rif nie meer as 5 meter diep nie. Die water is kristal blou en het vir my gelyk soos ideale snorkelwater. Die visse wat ek gesien het, is nie baie groot nie, en daar is nie so ʼn groot verskeidenheid nie, maar die koraal was fantasties. Persoonlik dink ek die snorkel Vilanculos was beter, maar hierdie was steeds uniek omdat dit in die Rooi See was.

Ongelukkig was ons besoek aan Port Soedan baie kort, maar ons moes ʼn ferry kry in Wadi Halfa. Die roete soontoe is baie dieselfde as wat ons al voorheen in Soedan gery het. Ons het weer deur die Nubiese woestyn gery.

Mens ry al langs die treinspoor in die woestyn maar dit bly vir my ʼn belewenis om 100 km/h te ry en jy kan ry waar jy wil. Daar was letterlik niks gewees nie.

Ons het in die woestyn gekamp want ons geniet dit meer om van mense af weg te wees. Ongelukkig net toe ons die aand gaan slaap het, het die wind opgesteek en ons het baie koud gekry. Maar niks kan met ʼn woestynkamp vergelyk nie.

Toe ons by Wadi Halfa aankom moes ons net sit en wag. Ons het ʼn Soedanese vriend gehad wat vir ons al die rëelings getref het, en ons kon niks doen om te help nie. Gelukkig was die wag net vir een dag terwyl hy al die rëelings bevestig het.

Die ferry-rit is net kort van ʼn dag na Aswan. Mens spandeer net een aand op die boot. Daar is rêrig nie te veel om op die boot te doen nie. Ek het ʼn paar movies op my rekenaar gekyk. Dit het die rit baie korter gemaak, en voor ek dit geweet het, was ons in Aswan. Ons was vyf jaar gelede met die ‘Kilimandjaro tot Kaïro-reis’ ook op dié boot, dis ongelukkig al manier om in Egipte te kom.

Volgende keer wat ek sal skryf sal aan die einde van die jaar se Voetspore-reis wees. Ons hoop alles sal voorspoedig verloop.

Groete

Streicher