Diverse

Streicher se voetspore: “Teenspoed op Ethiopië se grens”

Mount Kenia het vir ons voorgelê. Persoonlik dink ek nie ons was reg voorberei om die berg te klim nie. Ons was te onfiks. Dis moeilik om agter die stuur van ʼn Amarok fiks te bly. Maar ons wóú die berg klim.

In Nanyuki het ons ons gids en sherpa’s ontmoet. Daar was ʼn kok, ʼn gids en ses draers in die hele groep. Voor ons kon begin klim, moes ons wag dat die gids ons permitte en kos gaan koop. Ek het intussen in die vlooimark rondgeloop om presentjies vir almal by die huis te koop. Ek het ʼn hemp geruil vir juweliersware en twee Masai-spiese. Dis anders om besigheid te doen in Afrika.

Ons is die berg op. Tot by die eerste kamp is dit ʼn nege kilometer stap, maar die Voetspore span is te lief vir hulle Amaroks, en ons het besluit om die berg op te ry. Ons het gery tot by tot by Old Moses Camp wat 3 300 meter bo seevlak is. Dit was ons eerste kamp op die roete. Die pad na Old Moses het verspoel as gevolg van die reën, en dit het dit ons roete bemoeilik. Ons het ʼn paar keer vasgesit en lank gesukkel om die voertuie uit te kry, maar ek sal altyd onthou dat ons Mount kenya opgery het, en nie gestap het nie.

Die akkommodasie op die berg was heel eenvoudig met ʼn klompie bunk beds in elke kamer, en een toilet vir almal. Ongelukkig was die kos net so eenvoudig soos die kamers, maar ek het geweet wat voorlê en ek het ingewerk wat ek kon.

Dag twee op die berg was ʼn groot dag. Ons het 16 km gehad om te stap en moes 900 meter klim na Shipton Kamp wat ongeveer 4 200 meter bo seevlak is. Die stap was lekker gewees en die landskap baie mooi. Shipton Kamp was omtrent die selfde as Old Moses, en die kos was ook nie te smaaklik nie! Ek was verskriklik honger na die dag se stap, so ek moes die maar eet. Die tee was wel verskriklik lekker in daai koue!

Die aand se slaap was nie baie lank nie, want ons moes 2 uur opstaan om te begin klim. Ons moes die dag tot by die summit gaan en al die pad weer terug tot by Old Moses kamp. Dit was so 25 km waarvan  800 m klim was en 1700 m weer daal.

Ons het begin klim en van die begin af het ek besef dit gaan ʼn baie lang dag wees! Ons het in die nag geklim met kopflitse en jy kon skaars 1,5 meter voor jou sien. Ek, Gideon en my pa het nogal met die klim gesukkel. Die hoogte bo seevlak het my bietjie gevang, en ek het beginne hoofpyn kry! Ons het maar tree vir tree aan gesukkel en na ʼn helle klompie ure se gesukkel bo uitgekom. Dit was ongelooflik mooi daar bo. Ek het dit rêrig baie geniet daarbo!

Die roete af was vir my nogal maklik gewees, want met elke tree het ek meer suurstof gekry. Ek het sommer die berg af gehardloop en was meer as 40 minute voor my pa-hulle by Shipton Kamp. Ons het daar eers vir ʼn ruk  gerus voor ons verder gestap het.

Berg Kenia was vir ons almal ʼn hoogtepunt.

Nadat ons van die berg afgekom het, het ons by Maritha en Dylan Coleman se huis gaan ontspan. Dis Suid-Afrikaners wat al vir ʼn jaar in Nanyuki boer. Na die klim was ons almal baie moeg en vuil. So  ons kon lekker was en ontspan daar by hulle. Hulle gasvryheid was ongelooflik en ons het die aand saam met hulle gebraai.

Die volgende dag is ons verder noord in die rigting van Ethiopië en het die aand op Marsabit geslaap. Ek het al op een van die vorige Voetspore-reise op die pad gery. Dit bly steeds een van die slegste paaie in Afrika. Om dinge te vererger het dit ook baie gereën.
Die volgende dag wou ons deur die Chalbi woestyn ry, maar ons is gewaarsku om dit nie te doen nie. Net voor ons by die woestyn uitgekom het, het ons gesien die woestyn het in ʼn meer verander… Die aand het ons ʼn baie lekker veldkamp gemaak in die middel van nêrens. Gideon het vir ons van die lekkerste T-bones gebraai, en Nobert het aartappel wedges gemaak. Dit was ʼn lekker aand om die kampvuur.

Ons is verder tot by die Sibiloi Nasionale Park wat op die oostelike kant van die Turkanameer is. Die meer is die enigste varswater meer met ʼn woestyn reg rondom dit. In die park is daar baie snaakse diere soos die gerenoek. Dis ʼn Somaliese bok wat lyk soos ʼn kruis tussen ʼn impala en ʼn lama. Die bok het ʼn baie lang nek. Daar is ook ander interessante diere soos die Grevy sebra en ʼn vreemde gemsbok wat net in dié park voorkom.

Ons het gereis vanaf Turkana tot in die Omovallei in Ethiopië. Die mense by die Ethiopiese ambassade in Pretoria het gesê dat ons by die grenspos visums kon kry. Ongelukkig was dit nie waar nie, so ons kon nie die land binnegaan nie. Daar is gesê hulle sal ons arresteer as ons nie terugkom Kenia toe nie, en gesê ons moet ʼn visum in Nairobi gaan kry. Later het ons het uitgevind dit is ook nie moontlik nie, en moes ons ons paspoorte terugstuur SA toe om visums vir Ethiopië te kry.

Op pad terug na Nairobi het die moeilikheid net groter geword. Ek en my pa se kar se fanbelt het gebreek, en as gevolg daarvan het stukkies van die fanbelt in die cambelt ingegaan. Die motor kon nie verder ry nie. Ons het nie die gereedskap of ondervinding om die voertuig reg te maak nie, so ons moes die voertuig op ʼn ander manier by ʼn garage kry. Gelukkig het die kar in die Sibiloi Park gebreek waar die Kenia Wildlife personeel ongelooflik vriendelik en behulpsaam is. Hulle het aan ons hulle tipper truck verhuur en ons het die Amarok daarop gelaai. Dit het ongelukkig baie van ons tyd gemors en ons moes tot laat die nag met die ander twee Amaroks ry om van die verlore tyd te probeer opmaak.

Ons het gery oor North Horr en Marsabit na Nanyuki. As gevolg van die min sitplekke moes ek en my pa saam met Stefan ry. Andre het saam met die trok gery. Dit was nie vir hom of vir my ʼn baie gemaklike rit nie. Ek moes agter tussen ʼn paar sakke inpas.

Volkswagen het hulle hoof werktuigkundige na Nanyuki ingevlieg. Bohdan de Wet het die voertuig weer op die pad gekry. Dit was ʼn baie groot taak, want hy moes die hele top van die enjin vervang want die velves was gebuig. Hy het tot laat in die nag gewerk. Gelukkig het hy al die kennis gehad, en ons was weer op die pad.

Ons het ons paspoorte saam met Bohdan terug gestuur huis toe vir die Ethiopiese visums. My ma het vir ons die aansoek gaan doen, en sal dit dan hierheen pos. Nou het ons het nie veel om te doen nie. Ons wag in Nanyuki, ek is maar verveeld, maar hou duim vas dat ons vinnig hier kan wegkom.

Groete
Streicher.

  • Kitty Supra

    Aan almal in die span ~> Ek het elke Vrydag die program gevolg en dit vreeslik baie geniet! Sterkte aan julle volgende uitdaging!