blessthischick_162x180rz
Diverse

Tallie blog: ‘Die winters in ons lewe’

Miskien vergeet ons net elke jaar hoe koud dit die vorige jaar was. Miskien raak ons velletjies net dunner soos ons ouer raak.

Ons lewenswinters is dieselfde. Soos ons ouer raak en die winter van die lewe op ons toesak, hoe minder sien ons kans vir die koue. As die onweerswolke begin saampak, maak ons deur, vensters en gordyne toe. Ons glo as ons nie buite is nie, sal die winter ons nie affekteer nie.  

Maar iewers hierbinne weet ons waarom ons nie die onweerswolke in die gesig wil staar nie. Dis nie lekker nie. Dis koud. Dis ongemaklik. Dit laat ons inmekaar voel. Ons wil niemand sien nie. Ons wil nie praat nie. Ons wil net niks.

Soos die winter met elke jaar, weer sy verskyning maak, so maak die winters in die lewe ook hulle verskyning. Jy weet dit gaan nie net altyd somer wees nie, maar tog wens jy die winters wil korter wees, vinniger verbygaan, nie so intens wees nie.

Toe ek ‘n kind was, en later ‘n jongmens, het ek die winters altyd gehaat. Ek sou enige iets doen, net om die winter vry te spring. Soos ek ouer geword het, het ek besef ek het die winters gepes, want ek het altyd koud gekry. Vandag maak ek voorsiening en sorg dat ek dik sokkies, ‘n elektriese kombers, verwarmer en alles wat die koue wegneem, naby en om my het. 

So begin ons onsself ook staal vir die koue van die lewe. Jy vind ‘n rustigheid, en soms sien jy al die negatiwiteit, maar affekteer jou nie meer soos vroeer nie, want jy het voorsiening gemaak. Jy besef jy het geen, maar geen beheer oor die koue wat oor jou pad gaan kom nie, maar jy het beheer oor hoe jy dit gaan hanteer.

Tog mag ons nie toelaat dat die winters ons tot stilstand ruk nie. Hoe moeilik dit ookal soms mag gaan, moet ons uitgaan en die son gaan soek. Hy is miskien vandag buite as jy hom gaan soek nie, maar dalk more. Moet net nooit moed opgee, en dink dat jy die son nie weer sal sien nie. Wanneer die somer kom, is dit onsigbare plantjie onder die sneeu wat ‘n pragtige, sterk struik word. Dit is die mens wat uit sy hartseer opstaan en groei tot ‘n pragtige boom, wat die volmaakste vrugte dra.

Dit is wanneer jy deur die winter van ‘n verbrokkelde huwelik, of die seer van die dood in die oe gekyk het, dat jy eers leer om te verstaan. Dit is wanneer jy geleer het om te gee, dat jy sal leer om te ontvang. Want slegs dan sal jy die vreugde in die persoon wat gee, verstaan.

En dan een more, word ons wakker met die son wat in ons gesig skyn. En jy weet, alles is weer piekfyn, die winter is verby. Maar, ons stap nooit die somer tegemoet, sonder die lesse wat ons uit die winter geleer het nie. Volgende jaar, is ons “gegear”.

Ek het eendag iets gelees wat iemand geskryf het “Mag ek jou leer ken terwyl jy lewe, voordat jy sterf en nooit geleef het nie”.

Mag ons nooit toelaat dat ‘n vernietigende winter ons volgende somers steel nie. Mag ons nooit toelaat dat ‘n gebeurtenis, ons lewe steel nie. Mag jy nooit jou grootsheid van die liefde verloor, net omdat iemand jou hart vertrap het nie. Dink net aan die pragtige, rooi, volmaakte vuurlelie wat ‘n brand nodig het om hom te laat ontkiem.

Staan op, beur treetjie-vir-treetjie vorentoe. As jy terugkyk, sal jy verstom staan hoe ver jy gevorder het.

Ek se altyd, maak ‘n plan. Maak nie saak in watter situasie jy jou bevind nie. Maak tog net ‘n plan. Dis wanneer die planne opraak, dat ek weet hier kom ‘n ding. Maar dan is ek weer klaar besig met ‘n volgende plan. 

En ek bid vir elkeen, dat die dag mag aanbreek wat jy sal stilword en erken “dis moes gebeur het”.

Kan julle dink hoe vervelig dit gaan wees as ons eendag in die aftreehuisie sit, en niks het om te vertel nie? Hoekom nie?

Want ons lewe was tog net só volmaak…..!

Ek groet julle elkeen met ‘n warm hart, “vol planne”.    

  • Optelkind

    Daar is ook die bitter winterkoue van aanneemkinders wat hul biologiese ouers soek, tienduisende van hulle. Erger nog is daardie aanneemkinders wat nooit sal weet wie hul biologiese ouers is nie omdat hulle Vondelinge was. Iemand het hulle iewers in die nag opgetel en aan die polisie oorhandig. Dis al.

    Daar was een nag in 1963/64 in die Oos-Kaap ‘n blanke meisietjie tussen struike gevind. Mens het nooit weer van haar gehoor nie. Wat sou van haar geword het? Leef sy nog? Soek sy na haar ouers soos duisende ander ook? Die arme kind, vandag so om en by 47 jaar oud, het nie eers ‘n leidraad nie.

    Ons samelewing is flenters. Daar is die weeskinders en die halfwees kinders, huwelike wat op die rotse loop, week na week in die Mosiehowe landwyd. Here, gee niemand dan om vir die kinders nie? Huwelike is die pilare van ‘n volk. En nou?

    Agter die prag en glans van die tydskrifte is daar baie, baie hartseer, selfs van kinders wat wel hul biologiese ouers opspoor en dan wil die ouers niks met hulle te doen hê nie. Dit maak seer, baie, baie seer.

    Blaai deur die Internet. Duisende soek hul biologiese ouers. Waarom? Sekerlik is bloed dikker as water. Die blydskap en Hemelse vreugde wanneer sulke kinders en hul biologiese ouers in mekaar se arms beland, is ongekend. Daar is dan ‘n liefde wat nog van die begin af daar was.

    Almal van ons kan saamwerk om hierdie ysige hartseerwinter hok te slaan. Kan ons ten minste saam begin bid…

  • Tallie

    Sjoe vriendin, ek vou jou vanaand toe met engelvlerke wat nie van my afkom nie, maar van ons Hemelse Vader. Ek vou dit styf toe om jou en bid dat jy nooit sonder Sy koestering sal wees nie.

    Net vandag praat ek met ‘n baie goeie mater van my. Sy woon op ‘n plattelandse dorpie en vertel my dat ek geen idee het van hoeveel aangenome kinders net in hulle dorp woon nie. Aanneemkinders wat nou grootmense is en nie weet waar om te begin soek na ouers of bloedfamilie nie. Is die septiese roof van ons dade in die verlede besig om af te kom? En presies wat jy hier geskryf het, het sy be-aam.

    Alles van die allermooiste vir jou. x