blessthischick_162x180rz
Diverse

Tallie blog: ‘My vriend Piet se hoender’

Na skool het elkeen sy eie paadjie gekies wat ons deur die vallei, klowe en heuwels van die lewe sou neem.
 
Piet wou altyd ‘n boer met sy eie stuk grond wees. Soos dit nou maar is, het baie van die plaaskinders in die stede beland, en net die baie bevoorregtes het uiteindelik op ‘n eie stukkie grond geland.
 
My vriend Piet, het ten spyte van die stad se blink ligte, egter altyd bly vashou aan sy”eie-stukkie-grond-droom”.
 
Na baie jare, en met ietwat grys langs die slape, het hy uiteindelik sy droom bewaarheid en vir hom ‘n kleinhoewe teenaan die stad gekoop.
 
Hier kan hy nou sy voltydse werk in die stad doen, en saans terugkom na sy stukkie droom sonder die blink van die stad. So begin Piet naweke en saans boer. Dis olyfbome, ganse, eende en hoenders. ‘n Dam word gegrawe om die winterreëns in op te vang, en drade word gespan vir al wat ‘n dier wat ‘n wegloop-neiging het.
 
Nou is ek nie seker of Piet enige boerdery-opleiding gehad het nie. Die plaaskinders van daai tyd is mos almal landbouskool toe gestuur, maar ek is nie so seker van Piet nie.
 
Een Saterdagoggend bel Piet ons wakker. Een van sy hoenders is nou al vir ‘n paar dae weg en ons moet kom help soek. Nou, ‘n vroegoggend-mens was ek nog nooit, en ek weet nie of mens verander soos jy ouer raak nie. Gevolg is, ek is nie lus vir Piet se hoender so vroeg op ‘n Saterdagoggend nie.
 
Manlief laat my nie veel van ‘n keuse nie, en kort voor lank is ons op pad na Piet se “plaas”. Dis vroeg, dis koud, en ek is nog vaak. Nou moet ek vir hoender gaan soek – en waar nou? By Piet aangekom, neem elkeen van ons ‘n rigting en loer onder al wat ‘n bos en struik is.
 
Ek loop sommige struike sommer mis, want vir hoender-soek is ek nie lus nie. Dis so koud dat mens wasem maak as jy asemhaal. Ek is eerder lus vir ‘n lekker warm koffie en onder ‘n kombers sit, maar ek weet as ek nou wegraak, sal Piet my nooit vergewe nie.
 
Piet en manlief klink baie tjirpie en dit irriteer my nog meer. “Men are from Venus and woman are from Mars” – mmmm, ja, ek stem!
 
Met elke bymekaarkom-slag verduidelik my goeie ou vriend waar hoender laas was en en en….. (gaap gaap gaap).
 
Uiteindelik roep manlief hier vanuit ‘n rigting. Ons stap nader. Ja-nee, hier sit hoender onder een van die groot digte struike. Lig skaars haar kop toe ons nadergaan. Piet, tog te bly oor sy verlore hoender, tel haar op van die nes waar sy sit.
 
Nou wat Piet die hoender gegee het om te vreet, sal ek nooit weet nie, maar in die nes wat sy so naarstigtelik sit en warm broei het, lê ‘n hoendereier, ‘n grenadella wat al besig is om te verrimpel, en ‘n ronde klip so groot soos ‘n gholfballetjie.
 
Ek lag en se niks. G’n wonder Piet se hoender was so skaars nie. Sy was besig.
 
Wys jou net weer, dinge is nie altyd soos wat dit lyk nie.
 
Groetnis