blessthischick_162x180
Diverse

Tallie blog: “Om te kan deel”

Hulle is nog klein, twee jaar oud.
 
Twee jaartjies oud, en hulle weet alreeds wanneer hulle wil deel en wanneer hulle alles vir hulself wil hê.
 
Waar kom ons tog aan ons “alles wil hê”? Word ons gebore daarmee? Of leer ons dit klein-klein aan?
 
Ek werk al baie jare saam met kollegas vanuit verskillende kulture en agtergronde. En hoeveel keer is dit nie vir my ‘n openbaring om te sien hoe groot ons verskille is as dit kom by deel nie. Daar is tye wat ‘n kollega snoep is met haar hulp, of die kollega wat ewe snoep met sy kennis sowel as sy aartappelskyfies is.
 
Ander kere sit ek van die jongklomp en dophou hoe hulle hulle middagete onder mekaar verdeel. Die plastiekbakkies met gisteraand se kos word oopgemaak en so verdeel dat almal later met ‘n bord vol middagete sit. Soms lui my telefoon en kollega X deel haar pizza met my. Dit wil my tog voorkom dat wanneer iemand swaarkry ken, deel hy makliker. Daar is sekere kulture waar daar nie gevra word of jy moet help nie, jy bied eenvoudig onvoorwaardelik jou hulp aan.
 
Daar staan geskrywe, as jy nie kan deel of gee nie, weet jy ook nie hoe om te ontvang nie. Hoekom? Want as jy weet hoe om te gee, sal jy weet watse vreugde dit vir die persoon is wat gee.
 
Dis hoekom ek se, as dit in jou kultuur is dat jy grootgemaak is met kleintyd deel, sal dit jou bybly tot jy die dag jou ogies vir die laaste keer toemaak.
 
Dis dieselfde met liefde. My dogter vra ‘n ruk gelede hoe sy dit gaan regkry om vir die tweede kleinding net so lief te wees soos vir die oudste. My antwoord was dat ‘n ma se liefde nooit opraak nie. Daar is net altyd nog en nog en nog. Besef ons dan waarom die grootste gebod die liefde is? Liefde vir ons Vader, onsself en ons medemens. Liefde raak nie op nie. Dit word net meer. Ek glo dat as jy nie meer liefde uitdeel aan ander nie, sal dit opraak, want jy keer die groei daarvan.
 
Die mooiste woorde wat ‘n kollega eendag vir my gesê het, was “Tallie, ek sal my f*kk*l ook met jou deel”. Was jy al so bevoorreg dat iemand dit vir jou kon se?
 
 
Groetnis met ‘n hart vol liefde vir elkeen van julle.
 
Tallie