blessthischick_162x180
Diverse

Tallie blog: “Roelien, deel 3″

Dit was ook nie lank voordat die polisie die ouers op die plattelandse dorpie opgespoor het nie. Hulle het dadelik deurgery stad toe, na Roelien se woonstel. Ridder was skoonveld. Ons sou later uitvind dat dit hy was wat die polisie laat weet het van Roelien se verdwyning. Kort daarna moes hy homself uit die voete gemaak het, want toe Roelien se ouers by die woonstel aankom, was daar niemand.

Roelien se selfoon was konstant af. Daar was geen briefie of aanduiding van waar sy kon wees nie. En Ridder was nerens te vinde nie.

Die polisie was nou betrokke en ‘n grootskaalse soektog is op tou gesit. Haar vriende, haar werksmense, bure, haar ouers, almal is ondervra. Wat almal dronkgeslaan het, is die feit dat haar motortjie buite geparkeer was, maar sy was vir 5 dae reeds soek.

Haar woonstel was netjies, en niks verdags kon in die woonstel gevind word nie. Dis net… Roelien?
Dit sou ‘n verdere twee maande duur voordat ‘n hawelose man met die storie van die vreemde meisiekind uitkom. ‘n Meisiekind wat ‘n groep haweloses ingeneem het toe hulle Roelien verward, deurmekaar en gedisorienteerd op straat gekry het. Sy het nie veel gepraat nie, was verwilderd en het onsamehangende sinne ge-uiter. Hulle het hulle kos en slaapplek met haar gedeel en sy het met ‘n gulsige honger die gedeelde krummels ingeneem.

Dit was eers toe die polisie haar vind, dat almal sou agterkom hoe getraumatiseerd Roelien was.
Sy is in die hospitaal opgeneem en ook vir sielkundige waarneming gestuur. Die storie wat Roelien sou vertel het almal rondom haar spraakloos gehad.

Ridder het haar as seksslaaf verhuur. As sy nie wou saamspeel nie, is sy seksueel aangerand en verniel. Sy is soms gedwing om dwelms in te neem ten einde sy mag oor haar te versterk. Toe haar salaris nie meer genoeg was nie, het hy haar gedwing om haar liggaam te gebruik om geld in te bring. Daar was geen uitkomkans meer vir Roelien nie. Sy was skaam en bang. Bang om iemand te vertrou en om hulp te vra. Dit was weer na so ‘n gedwonge sessie wat sy by haar voordeur uitgeglip en die aand in gestap het. Omkyk wou sy nie meer nie, wegkom was al uitweg.

Sy was egter so getraumatiseerd dat sy nie omgegee het wat van haar word nie. Dit was die haweloses wat hulle oor haar ontferm het. Daar was hofsake. Mediese en sielkundige getuies is gelewer. Ridder is skuldig bevind en dien tans tronkstraf uit.

Roelien het nooit weer teruggekom werk toe nie. Sy was nooit weer dieselfde nie. Die mens wat van die platteland stad toe gekom het, was vir ewig weg. Vandag bestuur Roelien ‘n huis vir vroue wat deur die lewe gekou en uitgespoeg is. Soms is daar klein kindertjies by die vroue.

Dit was juis na aanleiding van haar nominasie as “Vroue wat ‘n verskil maak”-artikel, wat ek weer vir Roelien onthou het. Ek het haar gaan opsoek. Sy is toe nooit getroud nie. Haar deursettingsvermoë en onwrikbare geloof is opvallend wanneer jy met haar gesels.
As jy dieper kyk, verby die blou van haar oe, sien mens steeds die weerloosheid wat sy so hard probeer verbloem. Tog, toe ek haar groet, sprei daar ‘n breë glimlag oor haar gesig, en sy antwoord, “Ek’s gelukkig en ek is waar ek moet wees”,
 
 
 
 

  • Verle

    Great stuff, you hpleed me out so much!