Diverse

Tallie blog: ‘Totsiens Vriendin’

Die son het flou geskyn, maar vir oulaas wou Jesus jou ‘n sonskyndag op aarde gee.
Dit was net na 7 vanaand, toe ek die tyding kry dat jy oorlede is.  

En nou le ek in die donker in my bed, en ek wonder. Ek wonder hoe het 30 jaar so vinnig verby gegaan. Vir jare lank was ons vriendinne. Jy, nooit getroud nie. Ek, getroud, kinders, selfs ouma geword. En deur dit alles was jy daar.

Jou diere was vir jou die kinders wat jy nooit sou hê. By my sou jy na die nuutste baba-uitvindsels luister, terwyl jy sou vertel van Bella en die katte. Gemmerkat het gewoonlik sit en luister terwyl ons twee oor die telefoon sou praat. Wel, jy sou vertel hoe Gemmerkat saamgesels, en ek sou dit glo.

Was jy by jou volle positiewe toe hulle jou verlede Sondag in jou huis kry? Toe ek Maandag by jou in die hospitaal kom, het jy verwese daar gelê. Jy wou nie eet nie, gesê die kos smaak sleg.

Jy’t gesê ek moet my nommer in jou hand sit dat jy my kan bel om jou te kom haal. Jy kon nie jou arms lig nie, en ek het die nommer op jou bors onder die kombers neergesit.

Weet jy dat ek en Braam Dinsdag by jou was? Het die Sustertjie van Kenia vir jou vertel dat ons gekeer het dat hulle jou huis toe stuur? Ons het toe al geweet jy sou nooit weer jou ou self wees nie.

Beroerte het hulle gesê. Is dit ‘n verkorte weergawe vir ‘n lewensvlammetjie wat stadig uitgedoof word?

Jou diere was reeds weggeneem, maar dit sou jy nooit weet. Die feit dat hulle goedversorgd is, sou aan jou geen verskil maak. Hulle was joune en hulle moes by die huis wees. Julle huis.

Jy’t my toe nie gebel om jou te kom haal nie. Ek skakel vir oulaas jou huisnommer. Hoekom weet ek nie, ek weet mos jy gaan dit nie optel nie.

Vanaand, met die sak van die wintersonnetjie, het jy totsiens gesê aan hierdie ou wêreld.

Mag jy in vrede rus. Mag jy in die Hemel tuinmaak en met dierekinders speel. En mag jou blou-blou oë altyd op Jesus rus.

Ek gaan nou groet, want ek moet probeer slaap. Ons het more ‘n begrafnis om te reel, so ek gaan nou.

Vriendin, baie dankie vir jou vriendskap van 30 jaar.
 
 
 

  • Annaline

    Die lees van die blog bring trane van onthou. My beste vriendin is dood aan borskanker en die laaste Kersfees wat ek by haar was het ons al die "onthoue" deurgewerk en sy is toe die 7e Januarie dood, haar baba slegs 2 jaar nadat sy haar hele swangerskap chemoterapie ontvang het.

    Ek is so bly dat ek die mooi van ons vriendskap het, soms wil ek nog die foon optel omhaar te bel om nuus mee te deel, dan onthou ek sy is nie meer daar nie ……..en dit is nou al 6jaar gelede.

    Amanda ek sal jou nooit vergeet nie.

  • Janette Cilliers

    My liewe wonderlike Moeder is baie onverwags oorlede in die Vergelegen medi-kliniek verlede week. My hart is stukkend. Sy het my so mooi gehelp om die trauma van verskriklike verraad, leuens en diefstal van ‘n vertroueling te verwerk. Sy het my gehelp verstaan dat ons liefde vir mekaar belangriker is as Royal Albert koppies en stinkhout meubels. Sy het my weer heelgemaak. En nou is sy weg. My beste vriendin. Sy het altyd gese wat is die lewe as mens nie ‘n vriendin het saam met wie jy ‘n glasie wyn kan drink nie. Rus sag mamma.My glasies is almal op jou.

  • Missyg Hiltunenc

    Things i have observed in terms of computer memory is that there are specific features such as SDRAM, DDR etc, that must match up the requirements of the mother board. If the pc’s motherboard is very current while there are no main system issues, replacing the memory literally takes under a couple of hours. It’s on the list of easiest personal computer upgrade methods one can envision. Thanks for revealing your ideas.