Diverse

Tallie blog: Wanneer is jy ‘n Ma?

Ronel is gebore op ‘n klein dorpie, dalk was dit in die Karoo, dalk net anderkant die Richtersveld. Dit was winter en ‘n besonder koue een daardie jaar. Die skraal blaarlose akkerboom aan die buitekant van die kombuis, het haar ma baiemaal aan hulle ewe skraal koskas laat dink.

Moedeloos met haar sukkelende omstandighede het sy na die bondeltjie baba-goed op die dubbelbed gekyk. “Nee, hiervoor sien ek nie kans nie”, het sy by haarself gedink.

Ronel se Ouma Et het op ‘n naburige dorp in haar gerieflike aftreehuisie gewoon. Ronel was twee weke oud toe sy een laatmiddag, met die winterwolke wat grou oor die aarde hang, in haar ouma Et se arms gedruk word.

Met ‘n “kyk asseblief na haar”, het haar ma omgedraai en by die voordeur uitgestap. Niemand het haar ooit weer gesien of van haar gehoor nie. Ouma Et sou later vertel, dit was asof sy bloot in die niet verdwyn het.

Dit is vandag jare later. Ronel is ‘n gebalanseerde jong vrou, wat haar plek volstaan in die samelewing. Sy het gegradueer en besit haar eie besigheid. Sy is suksesvol.  Baie suksesvol.
Wanneer Ronel vandag na haar ma verwys, dan praat sy van Ouma Et. Haar grootmaak-ma.

Is ek dan reg as ek sê die ma wat jou in die lewe bring, is nie altyd jou ma nie? Dit kan die vrou wees wat jou grootgemaak het, of die vrou wat jou geleer het wat liefde, deernis en omgee is, wat jy Ma noem. Dit kan iemand wees wat jy laat in jou lewe leer ken, en vir jou die koestering van onvoorwaardelike liefde leer, wat jy jou Ma maak.

Om ‘n Ma genoem te word, bring ‘n groot verantwoordelikheid mee. Dit beteken jy sal jou “kinders” koester en beskerm soos die mamma-eend al 7 haar kleingoed beskerm. Kyk na die diere in die veld en leer by hulle hoe ‘n ma moet wees. Die wyfie sal haar lewe vir haar kleintjies gee.

Vir enige kind wat die voorreg het om met onvoorwaardelike liefde groot te word, is daar geen groter erflating wat ‘n ma, hetsy hom in die lewe gebring het of nie, kan nalaat nie.

Ek salueer almal wat ‘n Ma is, ek salueer die enkelma’s wat hulle kleingoed grootmaak om hul plek in die samelewing vol te staan. Ek salueer die Ma’s wat soggens douvoordag opstaan, almal regkry vir hul dag se taak, en dan self werk toe gaan, om by te dra tot die huishouding. Ek salueer die Ma wat besluit geen werk sal haar van haar kroos weghou nie, en dat een inkomste gerek sal word, ten einde die pot aan die kook te hou.

Maar bowenal, salueer ek die Ma’s in my lewe. My “geboorte-ma” wat ek hopeloos te vroeg verloor het. By haar was daar nooit die opsie van opgee nie. Dan was daar my naweek-ma terwyl ek op koshuis was. By Ma Mac en haar gesin was alles altyd net so perfek. Die groot plaas met die sagte matte, die groot familie-skildery teen die muur, die hanslammers wat moet bottel kry.

 Soos ek ouer geword het, het ek suiniger geword met my hart-spasie. Ma’s moes nou hulle plek verdien en het nie sommer ‘n Ma geword nie. Tog kan ek die vroue in my lewe op my hand opnoem wat elk ‘n besonderse rol gespeel het. Vroue, sonder wie ek nie sou wees wie ek vandag is nie.
Ek dank elke een van julle vir die Ma wat ek vandag is.