Diverse

Tallie is terug!

Sjoe, wat sê die Bybel – aan die einde van dae sal die jare soos maande en die maande soos dae begin voel. As ek darem terugdink hoe vinnig tyd verbyvlieg, is dit skokkend dat ons nie ons tyd beter benut nie.

Daar het soveel gebeur vandag ons laas gesels het. Vandag twee jaar gelede het ons lewe in “duie gestort”- wel, dis hoe dit gevoel het. En as ek vandag terugkyk, dan weet ek, dit moes gebeur.
Hoekom? Sal jy vra. Wel, ons het nie net leer swem nie, ons is nou so getrain, ons kan ander ook leer swem. En dis die lekker van ‘n krisis wat oor jou pad kom. Jy kry geen handleiding saam met die krisis nie, jy moet self die vorm uit graniet kap. En met die kap, besef jy, jy het net een granietblok. Daar is nie kanse vir oefen nie, met elke beitel-kap moet jy ‘n verskil na die oplossing kap.

Die lewe het ‘n manier om jou te leer dat met elke krisis, verfyn die beitel-kap en elke voltooide werkstuk, maak jou meer en meer van ‘n meester. Jy laat jou nie meer so maklik onderkry nie. Jy begin al hoe meer ligvoets deur die lewe en sy krisisse gaan.

Nadat Simon sy werk verloor het, het ons afgeskaal tot ons nie meer kon nie. Ons het teruggetrek see toe en Simon het sy eie besigheid op die been gebring. Met net ‘n horingoue faksmasjien en telefoon het hy trappie vir trappie geklim. Sy granietblok wat vir hom aanvanklik so moedeloos gelaat het, het hy stukkie vir stukkie begin beitel, en toe hy sy oë uitvee, het hy die mooiste meesterstuk voor hom gehad.

Dit is vandag twee jaar later en dit gaan baie goed met hom en sy besigheid. Sy aanvanklike grense het hy verskuif en bedien vandag die hele land. Ja, hy werk steeds manalleen, maar dit is hoe hy dit verkies. Sommige oggende as ek 5 uur opstaan, sit hy reeds voor die rekenaar, en baie aande wanneer ek gaan slaap, werk hy steeds. Hy is gelukkig en tevrede, en hy weet hy doen dit vir homself en sy gesin.

My werk het my terugverplaas na hoofkantoor en ek ry soggens 65km werk toe en dieselfde afstand middae terug. Ek begin gewoonlik Maandagoggende met ‘n lied in my hart. Teen Donderdag as die ou lyf begin kla oor die vroeg opstaan, is die lied slegs ‘n neurie. Vrydagmiddae sit ek net ligweg en tik op die stuurwiel terwyl ek luister na die liedjies op die radio. Maar Maandagoggend is ek weer al singende op die pad.

Ek is gelukkig dat ek nie hierdie keer gaan skryf oor ‘n krisis in ons lewe nie. Ek wil vir julle vertel van die mense wat ek op my pad raakgeloop het. Miskien was my oog en oor meer ingestel op wat rondom my gebeur en wat ek raaksien. Mense en dinge wat op my hart kom lê en ek hoop op joune ook.

Kom binne, ek steek die kaggel aan op hierdie koue aand aan en ons gesels!

  • Riana

    Baie welkom terug Tallie.
    Ek het jou eerste blog baie getrou gelees, en my meegelewe in jou wel en wee.
    Sien uit na jou nuwe blog.

  • Karin

    Dankie, ek trek ‘n gemakstoel nader met ‘n sjerrietjie, die hond by my voete, en ek sien uit na jou stories. http://karinsegriffels.blogspot.com/

  • tallie

    Dankie Riana, en hierdie keer gaan my "blog-vriendinne" lekker saamgesels, sommer oor alles wat ons dae bly, hartseer, opgewonde, opgepluk en skaterlag maak. As daar iemand is wat vir my ‘n idee of onderwerp wil stuur, my e-pos is: tallietallie@yahoo.com