Diverse

Tee

Tee

 

Foto:  Milan

 

Daar is gebeurtenisse en beelde wat in elke kleuter, jong kind of tiener se geheue kom vashaak om ewig daar te bly, eerste indrukke van grootsheid, trots, prestasie of eie identiteit, wat help om elkeen op ’n unieke manier te vorm. Ek sien myself nog as die kleuter by ’n Republiekdagviering op die Goodwood Skougrond, die laerskoolkind in ’n rugbybus op pad na nog ’n gehawende sportveld, die hoërskoolleerder by ’n interskole-atletiekbyeenkoms iewers in Bellville. En tot vandag toe bly ek vervul met diep afgryse.

Vra my dan, wat is fout met jou? Is daar iéts wat vir jou aangenaam was? Wat jou aangespreek het?

 

En ek sal noem:

 

• Die uitnodiging tafel toe nadat ons paar uitverkorenes ons kunsonderwyseres gehelp het om haar sitkamervloer deur rye wit klippe te vervang. (Al wat gewoon was aan Juffrou

Snyman, was haar van. Sy was ’n middeljarige towenaar met fluweelhoedens, leerhandskoene, asemrowende Mary Poppins-uitrustings en ’n lewensuitkyk wat ons eindeloos bly verras het.)

 

• Die namiddagson wat val, verby die fluweelgordyne in Isadora-hulle se dramatiese sitkamer vol reuseskilderye.

 

• Die opwinding van die lang tafel in Ouma se Wellingtonkombuis, by enige geleentheid kreunend onder kos uit vier seisoene.

 

• Die bordjie ragfyn petits fours wat wag as my klavieronderwyseres my die klein koffiehuis binnelei ná ’n meer suksesvolle eisteddfod.

 

• Die dawerende reën teen die hortjies as die geduldige vrou weer ’n keer die dorpsbiblioteek ’n halfuur langer vir my oophou.

 

Ek het dit nie toe besef nie, eers jare later, toe ek elke herinnering kon opdiep en my mees besonderse tye langs mekaar neerlê, sien ek dit. In die middel van elkeen, ’n

stomende pot tee. Doodgewoon? Toevallig? Natuurlik nie.

 

Eeue lank al vorm tee die middelpunt van die mees betekenisvolle oomblikke in die lewe van miljoene mense, van ’n intens geestelike seremonie in die Ooste tot ’n oomblik se redding uit die alledaagse gejaag, van ’n diep simboliese gebaar tot ’n eenvoudige genesende drankie, van ’n uiters spanningsvolle sosiale geleentheid in ’n formele

salon tot ’n tuisgebroude lafenis voor die kaggelvuur.

 

Oorspronklik uit China, later ’n kulturele identiteit in Japan en heelwat later ’n sosiale fenomeen in Engeland en Noord-Amerika, het hierdie drankie soveel gesigte en

gebruike as wat daar kulture en omstandighede op hierdie aarde is. Tee in sy eenvoudigste vorm is ’n aftreksel gemaak uit gedroogde of vars blare en kokende water.

 

Daar is verskillende teorieë oor die oorspronklike doel en gebruik van tee, maar ’n grillerige legende vertel van ’n Boeddhistiese monnik wat gereeld aan die slaap geraak het tydens sy ure lange verpligte meditasies. Uiteindelik het hy sy ooglede afgesny en op die grond gegooi. Daar het dit begin groei en so is die eerste teeplant gebore. Vir lank is

tee gebruik spesifiek vir die gevolge van kafeïen.

 

Later in Japan – waar die tee-seremonie vandag nog ’n ingewikkelde en misterieuse proses is – het die filosofie van Moenie Dink, Doen Net posgevat. Vandag nog bestudeer duisende Oosterlinge hierdie kuns by teemeesters. Die idee is om al die gebare, die postuur, simboliek en gebruik van apparate só te bemeester dat die proses later tweede natuur word en sonder konsentrasie geniet kan word.

 

Die Engelse het intussen besluit dis geheel en al te veel moeite, hulle pak die fynste porselein uit, sit nog ’n strik in die hare en bedek die tafel met koek. Namiddagtee, wat

bedoel was om die hongerpyne te stil totdat daar aangesit word vir aandete (wat in die ou dae onverklaarbaar laat in die aand plaasgevind het!), het uiteindelik ontaard in ’n

sosiale ritueel wat vandag nog beskou word as die kroon van absolute beskawing.

 

Alhoewel daar vreeslik gestry word oor die korrekte gebruik van tee, met of sonder melk, melk eerste in die koppie, gegeur of nie gegeur nie, sterk of flou, maak dit klaarblyklik

nie saak nie. In sekere dele van die Ooste word net onversoete groen tee gedrink, terwyl daar in ander dele soos Birma suikersoet tee met melk gedrink word. In Tibet word

jong teeblare in botter gestoom en as nagereg bedien.

 

Tee en sy smaak word onderskei deur die streke waar dit verbou word, die ouderdom wanneer dit gepluk word en die grade en metodes waarmee dit gedroog word, die

storie is oneindig.

 

Met of sonder kennis, met of sonder melk, met of sonder gaste, tee bly die lafenis van ’n moeë en gespanne beskawing. Dit is ons daaglikse plesier, vertroosting, genesing

en lafenis. Dis ’n luukse, tydlose seremonie wat die gewoonste dag omskep. Haal jou mooiste pot uit die kas en bêre hom nooit weer nie. Elke oomblik verdien die beste.