Diverse

Teenspoed

Ek klim sonder probleme graag op mure en lere rond. Maar dié keer het ek die blare én die drade dopgehou en die daklig misgekyk – en dwarsdeur getuimel, ’n hele paar meter grond toe.

My rug was ellendig seer ná die val, maar my groot skrik het by die ortopediese chirurg gekom. Hy het die plate bekyk en gewys een rugwerwel is liederlik geknou. Toe sê hy: “Jy weet, as daardie kompressie drie millimeter erger was, kon ek vir jou niks doen nie. Dan was jy ‘n parapleeg.”

Dit het my yskoud laat word, want hy het bygevoeg: “Jonger mense kan nog by ’n rolstoel aanpas, maar jy is nie meer jonk nie en met jou tipe besige geaardheid weet ek nie of jy dit sou kon verwerk nie.”

Ek het duidelik gehoor, want daar is inderdaad sekere dinge wat ’n mens nie kan verwerk nie. Jy kan hoogstens leer om dit te hanteer so goed as wat jy kan. Elke mens word op ’n dag met die onmoontlike gekonfronteer. Dis dikwels niks dramaties nie, maar vernietigend vir jou emosies. En jy loop maar daarmee. Om daaruit ’n pad te vind is soos Dawid se dal van doodskaduwee.

God is daar, máár jy moet daardeur.

Ons is in hierdie einste huis al deur rowers met rewolwers aangeval, en hulle is met ’n stewige buit weg. Die polisie het gekom, hier rondgestaan en ons tyd gemors, en nooit weer van hulle laat hoor nie. Dit het alles soos water van my afgerol. Ek was net vies dat ek nie die rowers dopgehou het wat my met hul motor gevolg het nie. Ek kon selfs lag dat die een wat my horlosie van my arm geruk het en gedink het hy slaan ’n slag, later sou moes hoor dis nie eens R200 werd nie.

Maar die val van die dak was anders: Ek het skielik met ander oë na opritte vir rolstoele en parkeerplekke vir gestremdes gekyk. Verwerk sou ek dit nie kon nie. Hoogstens seker hanteer, maar ek weet ook nie hoe nie. Diegene wat dit kan verwerk, verdien aanhoudende applous. Nogtans bly die beperkings én die bewustheid van vroeëre beter dae.

Die onlangse dood van ’n jong egpaar twee dae ná hul huwelik en nog op hul wittebrood … kan daardie ouers dit ooit verwerk?

En hoe hanteer ’n mens dit, want op ’n manier sal jy dit móét hanteer. Ek het in my lewe vir ouers verskriklike tydings van kinders gebring, of vir kinders verskriklike tydings van ouers. Ek sal nooit vergeet hoe die joernalis Hanlie Retief ná die dood van haar pa in SARIE se kantoor gehuil het nie. Nie klaend nie, net oë vol trane, aaneen. Aaneen.

Die probleem is dat sekere “onmoontlike” dinge dikwels heeltemal onnodig en onverwags gebeur. Mense gaan op ’n vrolike uitstappie en daar gebeur ’n ongeluk. Iemand is besig met ’n doodgewone daaglikse werksaamheid en iets loop verkeerd. Of jy ry uit jou motorhuis en vat die pad en …

Ek dink aan Paulus op die eiland Malta. Die een ding ná die ander het met hom gebeur. Hy is in Jerusalem in hegtenis geneem, in Cesarea verhoor, in boeie geslaan en per skip Rome toe gestuur. Onderweg het ’n storm hulle getref wat die skip verwoes het, en die skeepsbemanning het paniekbevange geraak.

Die enigste wat werklik kopgehou en almal gekalmeer het, was Paulus, die gevangene. Op die eiland het hulle verdwaas gestaan nadat hulle met wrakstukke strand toe gedryf het. Paulus het hout bymekaargemaak vir vuur en ’n giftige slang het hom aan die hand gebyt. Hy het die slang eenvoudig in die vuur afgeskud. God het hom van
die gif bewaar, maar hom nie die byt of die storm gespaar nie.

En dis dalk die hanteerles wanneer onmoontlike teenspoed jou tref: dat God jou nie die ramp spaar nie, maar dat Hy jou van die gif bewaar as jy na Hom opkyk.

En dink maar wat jy wil: Ek sal weer op die dak klim – maar dalk net versigtiger kyk!