Diverse

“Toe my man sy werk verloor” – Deel 4

 

 

(Lees van onder af op)

Woensdag 30 September

Simon is heeldag besig om mense te sien vir moontlike verkope. Laatmiddag is daar ‘n klop aan die deur. Dis die Balju van die Hof. Hy kom lewer hofstukke af van die saak wat Simon se vorige maatskappy-eienaar teen hom gemaak het ten einde Simon te dwing om sy besigheid wat hy op die been probeer bring, toe te maak. Dit maak my siek. Wanneer gaan hierdie magshonger man einde kry? Hoe slaap hy snags? Hoekom kom sulke siek mense weg met dit wat hulle as hul reg beskou? Hulle reg wat hulle hulself toe-eien om mense se lewens te manipuleer, vernietig? In hierdie tyd waar almal die resessie voel, hoe is dit moontlik dat hierdie man nie gestop kan word nie?

Ek is moedeloos, maar sê niks. Net soos ek begin dink dinge verbeter, net soos ek dink die feit dat ons hengse aanpassings gemaak het, help, kruip hierdie magshonger duiwel weer by ons huis in.

Ek pleit by die Here dat Hy hierdie man tot sy sinne moet ruk.

Buite ruk die Suidooster wind my 2 potte roosbome dat hulle blaarloos skeef bly staan. Ek voel soos my twee roosbome – skuins gewaai en blaarloos.

 

Dinsdag 29 September

Ek probeer my admin op datum kry. Simon is meer entoesiasties oor sy werk sedert hy ‘n ryding van sy eie het. Hy vertel opgewonde van die moontlik “deals”
wat binnekort behoort deur te kom. “Skat, sodra ek my eerste geld maak, koop ek hierdie koskas vol kos”, deel hy my opgewonde mee.

“Dis reg so, maar ek sien ook met hoe min ons deesdae klaarkom”, probeer ek hom op sy gemak stel.

Simon was altyd die voorsiener van die huis. Die vries- en koskaste moes altyd propvol kos wees. Baiemaal het die oorvloedigheid my onkant gevang.  Vir my was genoeg nog altyd voldoende, vir Simon was meer as genoeg, voldoende.

Maandag 28 September

Vandag is werk soos gewoonlik. Simon is vroeg uit om bemarking te gaan doen. Ons telefone is nog nie oorgebring van die vorige huis nie. Sal seker nog ‘n week of twee neem voor dit geïstalleer is. Die TV is ook nog nie geïnstalleer nie en dit ongelooflik hoe misbaar ‘n TV is. Ek en Simon lees, gesels en geniet ons nuwe huisie. Wouter geniet die “vakansiegevoel” van sy nuwe tuiste.

Sondag 27 September

Ek besef die hand van die Here wat die afgelope maande rondom ons gevou was. Ons wou na die strandhuis trek, en hier gee die Here vir ons ‘n huis by die see. Die huisie wat nog beskikbaar was terwyl ons maande gelede al hierna kom kyk het. Dit was onmiddellik beskikbaar toe ons dit nodig het.  Die trekmense wat beskikbaar was toe ons hulle binne ‘n dag nodig kry.

Anel, haar man en seun kom drink koffie by ons. Sy bring vir my ‘n pragtige bos inka-lelies uit haar pa se tuin.

“Hier sal ek enige tyd kan bly,” verklaar Anel. “Dis so rustig.” 
“Ja, dit voel soos ‘n vakansiehuis,” antwoord haar man.

Binne my sê ek dankie vir die Here vir ons vakansie huisie by die see.

Toe almal weg is, sit ek en Simon rustig en gesels. “Die Here is goed vir ons, Hy het vir ons alles gegee wat ons nodig het,” se Simon.

Mens hoor so baie dat jy moet glo en hoop alles sal regkom, maar ek het die afgelope tyd besef dat ons Hemelse Vader jou nooit los as jy sy kind is nie. Dit is ons wat dit dink dat ons alles op ons eie hoef uit te sorteer, wat die probleem is. Onnodige stres, slaaploosheid, bekommernis. Dit is moeilik om te let go, en tog gebeur alles soos dit moet, en op die regte tyd.

Ek sit vanaand met potte vol blomme in my huis, en ek weet die Here weet hoe lief ek vir blomme is. Ek voel beskermend en weet in my hart dat ons ongeskonde deur hierdie moeilike tyd gaan kom, want ons Hemelse Vader los ons nooit.

Ek is positief dat ons as beter mense anderkant gaan uitkom.

‘n Vriendin stuur vir my ‘n SMS. “Vandag wou ek jou heeldag vashou en op pas sodat jy veilig kan wees. Toe sê God ek moenie inmeng met sy werk nie – Hy doen dit met liefde elke dag vir my – want jy vriendin, is spesiaal”.


Saterdag 26 September

Ons huisie begin al hoe meer huislik lyk. Ons groot rooshout eetkamerstel lyk pragtig en dit lyk kompleet asof die hout meer lewe toon waar hy nou staan. Ek besluit om nie ‘n tafeldoek op te sit nie.

Ons werskaf die hele dag.

Die huis het ‘n baie rustige atmosfeer. In die verte hoor ons die geluid van branders wat  breek. As ek by die agterdeur staan, ruik ek die see.

Dis rustig in my.

Die televisiestel is nog nie gekoppel nie en ons luister vir die eerste keer in jare weer na radio-praatjies, musiek en ander interessante goed.

Mol-hulle kom maak ‘n draai en bringvir my ‘n armvol varkblomme saam wat sy in haar tuin gepluk het. “Dit voel net soos ‘n vakansiehuis,” deel sy my mee. “Jy is reg, dit voel so, nê,” antwoord ek. Ek sit die varkblomme in ‘n blompot en sit dit op die eetkamertafel.

 

Vrydag 25 September

Ek begin vroegoggend uitpak, wasgoed was e n haal vleis uit vir waterblommetjiebredie.

Ek is nog tot laatoggend in my pyjamas besig om die huisie leefbaar en mooi te maak. Simon is by die prokureur besig met die saak wat teen hom gemaak is om sy besigheid toe te maak.

Ons moet ‘n prokureur en advokaat aanstel om te red wat te redde is. Asof mens nou nog geld het vir sulke onnodige goed ook.


Donderdag 24 September

Ons is vroeg uit die vere en begin van die klein goedjies in die voertuie laai.

Die trektrok kom laatoggend by ons aan en ek is dankbaar om my uit die voete te maak na die nuwe plek.

Ons skuif, pak uit. Pakplek is min en ons moet mooi meet en pas.

Ek vra dat Wouter ‘n vuurtjie moet aansteek sodat ons vanaand iets te ete kan hê. Met ‘n braaibroodjie en wors in die hand, staan ek, Simon, Wouter en Liz laataand rondom die vuurtjie.

Almal is doodmoeg en lyfseer.

Woensdag 23 September

Simon is vroeg uit om kopers vir sy produk te gaan sien.

Ek ry Telkom toe en reël vir oorplasings van ons telefoonnommers, die huistelefoon en die werkstelefoon. Die kredietkaart speel geduldig saam. Die versekering word gereël, die sekuriteitmaatskappy word geskakel, want by die nuwe huis is net ‘n alarm en geen ander sekureitsmaatreëls nie. Geen diefwering of veiligheidshekke nie. Ek reël met die eienaar dat hy sekureitshekke laat aansit. Die versekeringsmaatskappy vereis dit tesame met die alarm.

Ons ry laatmiddag na die nuwe huis en begin gordyne hang. Die plek ruik splinternuut, want dit is onlangs oorgedoen.

Dinsdag 22 September

Ek is besig met my oggendkoffie, toe Simon kom môre sê. “Jy moet asseblief jou eie blyplek kry, ek kan nie meer jou gekuiery hanteer nie. Ek verdien dit nie”.

“Ja nee”, sê hy, as die armoede by die agterdeur instap, stap liefde by die voordeur uit”. “Moenie nonsense praat nie, dit is wat saam met die armoede by die agterdeur inkom, wat maak dat liefde by die voordeur uitstap”, snou ek hom toe. 

Vandag het ek heelwat afsprake en is net oppad toe die oordragsprokureur skakel. “Tallie, die huis se registrasie gaan vandag deur”, klink hy heel ingenome met homself. “Wat beteken dit?, vra ek. “Dit beteken julle moet môre uit julle huis wees, want die nuwe koper wil môre intrek”.

“Nee, sy kan dit nie aan ons doen nie. Ons het nog nie blyplek nie, want ons het nie geweet wanneer die  registrasie deurgaan nie. Stel die registrasie uit tot Maandag”, groot asseblief”, smeekvra ek.

Ek is besig op die rekenaar toe ek die volgende e-pos oopmaak.

God is jou YSBREKER… (Esegiël 36:26; Spreuke 21:1)

Deur Benescke Botha 

Daar sit sy toe op haar bed. Gepakte sakke langs haar. Maskara-strepe oor haar wange. ’n Gebroke hart met snikke wat onbeheersd deur haar kamer klink. Het sy as vrou misluk? 

Oor tyd het haar man se woede en harde woorde haar emosioneel tot teenaan die grond afgebreek. In haar alleenheid het sy telkemale gehunker na iemand – enigiemand – wat net vir ’n slag binne-in haar siel sal inkyk en haar sal raak te sien. 

Op hierdie oomblik was Carina moeg gebid. Moeg gesmeek dat God haar man meer sensitief, minder kwaai en minder geïrriteerd moet maak. Waar sy op die rand van die bed gesit het, was haar kneukels spierwit soos sy haar Bybel vasgeklem het. Binne haar moes sy veg teen die stem wat vir haar skree om op te staan, haar kinders te vat en ’n einde aan haar huwelik te maak.   

Dit is toe, vanuit nêrens, dat ’n prentjie in haar gedagtes opgeskiet het. Vir ’n oomblik kon sy duidelik sien hoe haar lewe gaan lyk as sy nou die huis sou uitstap. Sy kon sien waar sy gaan bly, hoe sy haar en haar kinders gaan onderhou, wie haar vriende gaan wees en toe die heel ergste, sy kon sien hoe ’n egskeiding haar twee jong kinders gaan beïnvloed. Was sy bereid om tydelike verligting vir alles wat sy op die oomblik as belangrik in haar lewe ag te verruil? Dit is immers wat sy sou kry die oomblik dat sy skei.   

Met trane wat soos ’n rivier by haar wange afstroom, het sy nou langs haar bed gekniel terwyl sy vir die eerste keer in ’n lang tyd alles aan God oorgee: “Here, ek kan nie meer hierdie stryd stry nie. Ek lê vir Mike voor U troon neer. Ek kies om van vandag af vir hom te bid soos U my lei en nie bloot soos dit my pas nie. En Here…” daar was ’n diep asemteug. “Here, hoe moeilik dit ook al vir my is om dit te sê… dit is reg, verander my eerste!” 

Besef jy dat God soos ’n YSBREKER deur ysharte kan breek en dat Hy dit kan sag maak? Luister na die woorde in Esegiël 36:26: “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die klip hart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” Ook in Spreuke 21:1: “Die Here kan ’n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ’n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil.” 

As God dit vir ’n koning kan doen, sal hy dit nie ook vir jou ongelowige vriende, jou hardkoppige huweliksmaat of jou rebelse kind doen nie? Onthou, jou gebede aktiveer die Heilige Gees om stukkie vir stukkie van die yslaag rondom daardie persoon se hart weg te kerf. Hou aan om op God te vertrou. Jou deurbraak is dalk net om die draai! Sterkte.  

Vader God, baie dankie dat ek vandag vir (naam van persoon wie jy voor Hom wil neerlê) na U kan bring. Raak asseblief sy/haar hart aan, maar ook myne. Help my om in liefde te bly optree. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

My hart gee ‘n ruk en ek besef die was God wat hard met my gepraat het. Hoekom juis vanoggend hierdie stukkie in my inbox ontvang? Simon moet maar saamtrek. 

Ek skakel die eienaar van die 2-slaapkamer huisie met die donker slaapkamer. Dit is nog beskikbaar en ons kan dadelik intrek. Ek betaal die deposito en eerste maand se huur uit my kredietkaart.

Ek blaai deur die koerante en kry iemand wat Donderdag vir ons kan trek.

Toe ek uiteindelik by die kantoor aankom vir my eerste vergadering, dring my bestuurder daarop aan dat ek verlof insit vir Woensdag en Vrydag. Simon ry na Aron om te reël dat hy môre inkom om te help met die garage se pak.

Terug by die huis, begin ons die laaste goed inpak en toedraai.

Maandag 21 September

Ek is vroegoggend weg met my nuwe ryding om kliënte te gaan sien. Binne my wroeg dit want Simon bring nie sy kant nie. Ek is raadop en moeg vir mooipraat, regop hou, alles probeer red wat ek kan.

Ek het ‘n baie suksesvolle dag en ry met heelwat getekende kwotasies laatmiddag terug huis toe. Op pad besluit ek om ‘n draai by Mol te maak. Ek is nie lus vir huis toe gaan nie – ek is nie lus om met Simon te praat nie. Ek wens hy wil sy eie blyplek kry en ek myne.

Met ‘n lekker sterk koppie tee in my hand, pak ek af by Mol. Sy luister net, weet ook nie meer wat om te sê nie.


Sondag 20 September

Ek land laatmiddag op die lughawe. Simon is nie daar om my op te tel nie. Wouter, my seun en Liz, sy meisie, is egter daar. Hulle het my kom haal met my nuwe klein karretjie. En klein is hy kléín.

Ons kry net my tas in die kattebak gelaai. Die rekenaar en dra-sak moet op die agtersitplek staan. Ek gee nie om nie. Dis my karretjie en hy is betaal.

Ek hoor niks van Simon, tot hy laataand by die huis instrompel.  Ek besluit dat ek en Wouter alleen gaan trek. Simon kan die helfte van die meubels kry en sy eie blyplek soek. Ek is moeg gesukkel met hom.

Saterdag 19 September

Vandag bederf word ek bederf met ‘n bootrit op die dam. Heerlike eetgoed word ingepak. Biltong, kaas, droewors, southappies.

Alles oorweldig my eensklaps en ek bars in trane uit. Ek huil en huil en huil. Ek huil omdat dit so goedgaan met hulle, oor Simon wat retrenched is, ek huil sommer oor al die “inhou van binne” vir die afgelope paar maande.

Hier moes ek so ver kom om by hierdie twee mense te kom kuier, net om te kan besef hoe verskillend mense se lewens kan wees. Om te kan besef dat ten spyte van hoeveel geld en materiele dinge jy het, jy steeds nederig kan bly.

Hulle vra nie, hulle sê nie, hulle is net hulle.  

Vrydag 18 September

Ek het gisteraand toe ek nie kon slaap nie, aan planne gedink om Simon bietjie verantwoordelikheid te gee. Dit is darem net te gemaklik dat ek altyd die wa deur die drif trek. Terwyl ek dit doen, hoef hy mos niks te doen nie, of hoe?

Ek bel hom vroegoggend. Hy klink vars en uitgerus.

“Daarsy, hy klink net mooi reg vir wat nou kom.”

Ek groet vriendelik en vra dat hy pen en papier moet nadertrek.

“Daar is ‘n paar goed wat jy asseblief moet uitsorteer,” deel ek hom liefies mee.
“Begin sommer met die huis se inpakkery, as jy klaar is met dit, sorg dat al die merke teen die mure opgevul en geverf word. Daar is ekstra verf in die garage. As jy klaar is met dit, sorteer en pak die garage-goed.” Ek gaan voort met werk-uitdeel.
“Hoeveel goed is daar nou op die lys?” vra ek.
“Sestien!” antwoord hy verontwaardig.

“O ja, en terwyl jy besig is, sorg dat die versekering op datum gebring word met die bakkie en die klein karretjie se besonderhede,” gaan ek voort.

Net voor ek aflui, vra ek, hoeveel items is daar nou op die lys?
“Drie-en-twintig,” antwoord hy, glad nie ingenome met my nie.

Ek sit die telefoon neer en dink, hoekom sal ek alles doen en hy wil sit met ronde handjies?

Ek vertrek laatmiddag na my vriende wat langs ‘n groot dam bly. Ek vlieg eers Sondagmiddag terug en besluit om vir hulle te gaan kuier. Ek het hulle 16 jaar laas gesien.

Ek neem die huurmotortjie terug na die lughawe en Marian daag kort daarna by die lughawe op om my te kom haal.

Ons gesels en ruil nuus uit totdat ons by hulle huis aankom.

Marian en Steven se plek is pragtig. Die huis is ‘n drieverdieping wat tot teenaan die rivier gebou is. Dit maak nie saak van watter kant jy vanuit die huis kyk nie, die groot oop vensters en deure wys almal na die pragtige groot gladde dam. Die huis is hypermodern meubileer. Ek verkyk my aan die pragtige skilderye, boeke en musiek.

Toe Steven laatmiddag by die huis aankom, sit ek en Marian elk met ‘n heerlike glas goedverouderde rooiwyn op die stoep. 

Hierdie twee mense het ten spyte van hulle luukses rondom hulle, plat op die aarde gebly. Geen aansitterigheid of aanstellerigheid nie – dit voel asof ek hulle gister laas gesien het. My hart wil bars van trotsheid oor hierdie twee ou pelle van my. Ek is so so bly dat hulle soveel voorspoed beleef.

Ons sit later aan Marian se keurig gedekte tafel vir ‘n wildsvleisgereg in wyn ek kruie gaargemaak, vars aspersies, gebakte klein aartappeltjies en ‘n geurige groenslaai.

Hulle bederf my grensloos en ek voel soos ‘n prinses. 

Woensdag 16 September

Ek is heeldag op die pad, sien kliënte en skryf besigheid. Die temperatuur is 37 °C. Waar ek vandaan kom is die tempertuur 14 °C. Tog is dit heerlik en ek kla nie. Ek geniet dit net.

Ek lê en lees toe my telefoon laataand lui. Dis Mol. Simon en Mol se vriend het vandag heerlik saamgekuier om ‘n bottel rum. Ek skakel Simon se selfoon, hoor hy sit in ‘n kuierplek en is so gedrink dat ek skaars kan uitmaak wat hy sê. Ek sit die telefoon neer en sukkel om aan die slaap te raak.

Dinsdag 15 September

Ek hoor vroegoggend van Simon en dit klink asof alles klopdisselboom gaan by die huis.

Ek werk en sien heelwat kliënte. Besigheid lyk goed. Die kliënte wat ek besoek, is gewoond aan ou geld. Oral waar ek kom, lyk dit asof die resessie hierdie dorpie verbygegaan het. Seker ook maar omdat dit so klein is. Die mense is hartlik, wonderlik en wil soms nie hê ek moet ry wanneer ek my geselse gesels het nie. Wonderlike mense.  Geld is egter geen probleem nie en ek gesels heerlik saam sonder om te laat blyk dat ek bittermin van beleggings, aandele en heersende ekonomiese wanorde wil weet.

Terug by my akkommodasie, ervaar ek ‘n heerlike ryk gevoel. Die Franse musiek wat in die ontvangslokaal en tuine speel is soos ‘n sagte toevou om my. Die reuk van laventel- en ander kruie-olies drink ek in. Te bang dat dit nie werklik is nie.

Goudgeel suurlemoene hang gul aan die bome en ek kan nie genoeg van die atmosfeer indrink nie. Ek druk my gesig in ‘n blommetjie oortrekte yesterday today en tomorrow. Net omdat ek kan.

Maandag 14 September

Toe Simon my by die lughawe aflaai, wonder ek of hy en Wouter die week okei sal wees sonder my.

Ek sit in die vliegtuig 34 000 meter bo die grond en mis vir Simon. Ons is so inmekaar geweef. Ja, ons verskil, raak mislik en vies vir mekaar, maar ek mis hom. Ek sál by hom staan, praat ek met myself.

Ek is bly ek kom bietjie weg. Ek is gatvol vir die rolle bubble wrap en bokse wat die sitkamer vol staan.

Ek koop nie meer tydkrifte nie. Elke keer as my maatskappy ‘n motor huur by ‘n sekere motorverhuringsplek, is daar gratis tydskrifte by die sleuteltoonbank om saam te neem. Ongelukkig het hulle nie hierdie keer by dieselfde plek ‘n motor bespreek nie.

Ek besluit om ‘n plan te maak. Ek stap na die verhuringsplek en gaan sit op een van hulle sagte banke. Die tydskrifte is pragtig uitgestal. “Can I help you M’am?” vra die netjiese dametjie agter die toonbank.
“I am okay, I’m just waiting for my colleague.”
My oë dans weer oor die tydkrifte. Dit is almal ‘n maand of twee oud, diè wat die uitgewers gewoonlik na die tandartse, dokters en en stuur. Onderandere stuur hulle dit ook na motorverhuringsplekke.

Ek sit nog ‘n rukkie, tel ‘n paar tydskrifte op en noem so terloops aan die dametjie dat ek gou gaan kyk waar my kollega is. Dis nie steel nie. Dis ou tydskrifte en die Here weet hoe lief ek vir lees is. Ek hoop so Hy sal my vergewe vir die daadjie wat ek nou net aangevang het.

My akkommodasie is fantasties en dit voel asof ek in ‘n Garden & Home-gastehuis bly.

Stywelippies bestel ek my ontbyt vir die volgende dag. Vrugte en joghurt met bietjie fyngekapte neut sal heerlik wees, dankie. Die ontbyt is by die prys ingesluit, so waarom nie van die aanbod gebruik maak nie?

In die kamer is ‘n verskeidenheid kruie-tee en ek besluit op die Quiet Nite vir vanaand.
Ja, ek gaan hierdie week bietjie werk aan my lelike, vet, onaantreklike selfbeeld. Niemand anders gaan dit vir my doen nie.
“Tallie, doen jou ding, ou girl.”
As ek beter voel, sal ek dalk meer vir Simon en die mense rondom my kan beteken as wat ek tans beteken.

Met my Quiet Nite agter die blad, raak ek aan die slaap.

Sondag 13 September

Die bakkie lyk vir my nes enige ander bakkie. 4-Wiele, kappie, diesel, wat meer kan mens ook van ‘n bakkie sê?   

Saterdag 12 September

Ek is lekker vroeg op en vra om Simon saam met my gaan stap. Hy gee een kyk na die horlosie en sê dit is te vroeg. Hy het nou net wakker geword. Min besef ek die rugby begin mos 9-uur. Hy kon mos maar gesê het hy wil liewer rugby kyk.

Ek stort en SMS vir Anel. “Kan ek kom koffiedrink?” vra ek.
“Natuurlik, en bring vir Simon saam”.

Ek vergeet aspris om vir Simon van die koffie-uitnodiging te sê. Hy kyk mos rugby.

Om by Anel aan te kom is altyd asof jy ‘n langverlore suster is. Dit gaan beroerd met hulle finansies, maar sy lyk altyd goed.  

Ons teedrinksessie ontaard in ‘n lagsessie. Sy kom wys vir my ‘n pragtige paar swart sandale met diamantė op die voorkant. Sy het dit by ‘n vriendin present gekry. Dis pragtig.
“Waarheen gaan ek dit dra?” vra sy. “Trek jou mooi aan en gaan fliek toe,” antwoord ek. Ons lag en maak planne hoe ons hierdie resessie gaan oorleef.

Ek besef dat my grootste probleem met hierdie hele ressessie-besigheid is die aanpassings wat ek moet maak. Kleiner karre, kleiner huisies, kleiner koskaste, heelwat kleiner inkomstes. Hoekom moet alles so ekstra klein wees?

Simon is in ‘n meer opgewekte bui toe ek by die huis kom.
“Die Springbokke het gewen, skat.” Hoekom kan ‘n man net op een ding op ‘n slag fokus. Ek sukkel nog, dan is hy weer besig met iets anders.

“Anton het laat weet hy bring môre die bakkie. Hy gaan dan sommer met jou kar terugry.”

Ek probeer aan hom verduidelik dat ek nie wil dink voordat ek iets vir hom wil sê nie, want ek kan sy fyngevoeligheid nie meer hanteer nie. Hy antwoord dat ek net so mislik is.

Ek skrik toe hy my vertel hoe af hy vanoggend was toe ek gery het. Hy het selfmoordgedagtes en kan dit nie meer help nie. Hy probeer sy bes, maar niks verkoop nie.

Ek weet nie wat ek vir hom moet sê of gee om hom beter te laat voel nie.
“Is my polisse op datum?” vra hy. Ek weet nie, gee ek hom ‘n afgewaterde antwoord.

“Ek sal jou sê wat ons doen,” probeer ek sielkundige speel. “Ons trek in hierdie stupid 2-slaapkamerhuisie in, met sy een badkamer, en een donker slaapkamer. Ons bly daar vir ‘n jaar en dan maak ons weer ‘n ander plan. As ons in die klein huisie bly, kan my salaris feitlik alles betaal.”

Die volgende oomblik vertel hy my weer hoe opgewonde hy oor die bakkie is wat Anton more deurbring. Ek sal mans ook nooit verstaan nie. Was hy nou ernstig oor die selfmoord of probeer hy net vir my sê om my mond toe te hou. Ek weet nie. Daar is baie goed wat ek nie weet nie. Eintlik wonder ek of ek alles wil weet. Ek weet nie.


Vrydag 11 September

Dis ‘n besige dag by die werk en ek het baie voorbereidings om te doen voor my streekbesoek volgende week. Dit bibber van die koue in die Kaap. Ek skakel vir volgende week se weer. Dit is 34 °C waar ek heengaan.

Ek besef ek sal ‘n plan met my hare moet maak voordat ek Maandagoggend vertrek.

By die haarsalon vra my haarkapster of ons die hele kop gaan kleur.
“Nee, ek is nie vandag lus vir ‘n gesukkel nie, ek het nie so baie tyd nie.” Enigiets wat goedkoper as die normale is, dink ek by myself.

Terwyl ek met die silwer foil in my hare sit, kom die eienares van die boetiek waar ek altyd my klere gekoop het die salon binne.

“O Tallie, ek is bly ek sien jou. Ek het die mooiste reeks vir die somer ingekry.” Ek het nog nie eers die winterreeks gesien nie, maar plak my mooiste glimlag op my gesig. Laat jou oë tog net saamskitter, Tallie,  praat ek met myself.

“Ek is so besig die laaste tyd, maar ek kom ‘n draai maak sodra ek tyd het.” Lieg lieg lieg! Ek gaan definitief nie vir haar sê dat my klerekoopgeld nou plek gemaak het vir pasta met hoender, pasta met tuna of wat mens ook kan kry om by pasta te gooi nie. Nee Tallie, pak tandjies uit en verseker die vrou van jou volgehoue kooptogte by haar.

Teen die tyd wat die vrou agterkom sy het my lanklaas gesien, pak sy alweer die volgende wintervoorraad uit.

Ek klim vroegaand in die bed met ‘n storieboek. Simon lê op die bank en TV kyk.  Die TV is kliphard. Ek staan op en vra of hy dit sagter kan sit. Hy vererg hom vir my. Ek het nie krag vir sy fyngevoeligheid nie en draai om terug kamer toe.

Hy slaap weereens op die bank, maar dit pla my nie meer nie.

Ons moet blyplek kry, die geld is min, ek is bekommerd oor Simon se besigheid, ek kan nie nou nog iets soek om oor te worry nie.


Donderdag 10 September

Simon het laasnag op die bank geslaap en ek het heerlik warm in ons bed geslaap. Hy kon mos in die bed kom slaap. Niemand het hom forseer op die bank te slaap nie.

Ek maak vir ons albei koffie.
“Môre, skat,” groet hy my.
“Kom ons vergeet net van gisteraand en wat gesê is,” gaan hy voort.

Dis reg, dink ek, kom ons kruip weer elkeen agter ons sluiertjies weg. Dis mos beter, as wat ons mekaar seermaak deur die goed wat ons kwytraak.

“Dis reg, kom ons vergeet dit,” antwoord ek.

Ek skuif agter my rekenaar in en begin werk. Ek het heelwat werk wat ek moet afhandel voordat ek volgende week op streekbesoek is. Simon is besig met sy fakse, telefoonoproepe en bemarking.

“Ek het vir Anton gebel en gevra hoeveel hy ons aanbied vir jou kar.”
‘Ons kan ‘n bakkie en klein motortjie vir jou kry vir die kar se prys. Ek het vir hom gesê daar kan miskien ‘n klein maandelikse paaiement wees wat ons kan bekostig,” deel Simon my selfvoldaan mee.

“Klein paaiement?” vra ek. “Daar is geen klein paaiemente per maand nie, dis of ‘n gelyke deal of geen deal.”

Hy draai om en maak my kantoordeur bietjie harder as gewoonlik toe. Ek gaan aan met werk.

Toe hy ‘n halfuur later weer instap, snaaks genoeg baie saggies, vertel hy my met opgewondenheid dat ek ‘n splinternuwe klein motortjie kan kry en hy ‘n baie ekonomiese tweedehandse dieselbakkie, sonder enige klein paaiemente.

Ek gaan dadelik op die internet en kyk na die spesifikasies van my “ekonomiese klein motorjie”. Mmm, nie te sleg nie. Baie ekonomiese brandstofverbruik, steeds elektroniese vensters, sentrale sluitstelsel, goeie koop. 

“Dit klink goed. Laat weet vir Anton hy kan voortgaan. As ek dan wel seker grondpaaie moet ry, kan ek mos die bakkie gebruik,” sing ek voort.

Simon is ‘n ander mens. Hy is so opgewonde dat hy nou sy eie ryding gaan kry. My karretjie moet van die fabriek kom en sal nog ‘n paar dae duur voor ons die karretjie het.
“Daai dingetjie is so klein, ek kan hom wraggies saans langs die bed parker,” dink ek by myself. Maar as mens finansiele druk voel, dan moet jy aanpassings  maak.

Mia het nou net gebel uit Amerika. Hulle het so pas uitgevind sy verwag ‘n dogtertjie. Ons is oorstelp van vreugde, want dan gaan die dogtertjie my tweede naam kry. Ek is in die wolke!

Woensdag 9 September

Ek staan vanoggend op met ‘n lied in my hart. Die slaappil wat Dokter Gert voorgeskryf het, het my laat slaap asof ek in die paradys is. Ek staan heerlik verfris op en voel asof ek wêrelde kan versit. My kliënte se oproepe beantwoord ek asof ek hulle besigheid tot hoogtes kan dryf.

Laatmiddag bel Mol. Ons kom gewoonlik Woensdagaande bymekaar vir gesels en iets te ete.
“Mol, ek het hoender. Wat kan ons doen daarmee?” vra ek haar.
“Wel, ons het hoender, brokkoli en blomkool.”
“Dis reg, ek sal iets aanmekaar slaan.”
“Het jy kaas?” vra ek haar. “Ja, ek bring saam, antwoord sy.

Simon kom by die kantoor ingestap. “Ek het Jasper geskakel en gesê ons gaan hoender en brokkoli maak. Hy sê dis reg en se dat Mol hom reeds gebel het om te sê dat hulle by ons kom eet. Hulle moet brokkoli en kaas bring. Ek het vir hom gesê hier is kaas,” deel Simon my mee.
“Hier is nie kaas nie,” antwoord ek Simon.
“Koop dan,” antwoord hy my. “Met wat?'” vra ek geïriteerd.

Ek en Simon het ‘n hewige rusie. Hoe kan hy net aanneem daar is geld vir koop. Ek is moeg vir stilbly, ek is moeg vir alles probeer bymekaar hou. Hy pak uit van hoe hy te bang is om die kar te gebruik. Hoe hy aanmekaar vir my moet geld vra. Ek sit glo te min geld op die telefoon, bla bla bla. Ek pak af dat ek dink dis tyd dat hy begin geld inbring. Ek sien dit maak hom seer, maar ek pak af, dat dit nie my skuld is dat hy se werk verloor het nie. My salaris betaal net die nodige en ek kan nie elke maand oortrokke raak in my kredietrekening nie. Dit lyk asof hy die laaste deel van my derms-uitryg en gekerm nie eens hoor nie.

Toe Mol en Jasper arriveer, is die atmosfeer nog styf tussen my en manlief. Hy praat so bo-oor my, totdat ek met my groot mond met die hele sak patats uitkom. Mol en Jasper luister aandagtig, maar ek kan sien hoe elkeen van hulle se kuite stywer raak.

Mol probeer my verdedig deur aan Simon te probeer verduidelik dat daar nie ekstra geld is vir dinge wat nie broodnodig is nie. As daar nie kaas is nie, dan is daar nie kaas nie. Simon verweer homself deur te sê hy is ‘n baie trotse mens en dat hy nie erken as daar nie iets is nie.

Ek is sommer op die aanval en verduidelik op geen onduidelike trant aan hom dat almal van ons ons trots het, nie net hy nie. Maar dat ek nie sal toelaat dat trots my in ‘n verdere finansiële penarie plaas nie. Jasper begin dadelik vir Simon verdedig deur te sê dat Simon vir ons gesorg het vir al die jare. Op die ou end is die vrouens en die mans besig om elkeen sy eie troontjie af te pen.

Vir ‘n vrou is sy steeds die een wat versorg moet word en dis ‘n hengse aanpassing om skielik vir alles te moet sorg. Ek sit en luister en besef dat elkeen van ons vier eintlik nodig gehad het om bietjie bors skoon te maak.

Ongelukkig is dit nie vandag meer prakties moontlik om te wil glo dat die man die broodwinner moet wees en bly nie.


Maandag 7 September

Na ‘n feitlik slaaplose nag besluit ek genoeg is genoeg. Ek skakel ons huisdokter en maak ‘n afspraak.

Simon is net na 6 uur vanoggend stad toe vir sy CCMA-afspraak.

Liewe, goeie, ou dokter Gert. Hy gesels met my asof hy ‘n sielkundige kon wees. Hy is nou al jare lank ons huisdokter en ken ons gesin deur en deur.

“Jou brein werk vinniger as jou liggaam, Tallie,” begin hy.
“Jy moet leer dat jy nie alles alleen, gelyk kan doen nie. Jou brein loop tik tik tik tik tik, in plaas van tik………..tik…………tik. Leer om jou brein te bestuur,” gee hy raad.

“Leer hoe om teenoor seker dinge te reageer. Wat is die belangrikste?” vra hy.
“Dat ek moet werk en ‘n salaris inbring,” antwoord ek.
“Nou dit is wat jy op fokus. Laat Simon die res doen. As jy nie ‘n salaris inbring nie, is julle in ‘n nog groter penarie.”

“Wees dankbaar julle is gesond, julle lewe, jy kan die voëls hoor en die pragtige tuin sien, baie goed om oor dankbaar te wees,” sê hy toe ek uitstap.

Buite voel my kop lig nie meer so deurmekaar nie. Dok Gert het vir my ‘n ligte kalmeermiddel voorgeskryf sodat ek nie so opgewerk saak oor wat ek dink alles verkeerd is in ons lewe nie. Ek besef dat dit my goed gedoen het om met iemand totaal onbetrokke te gesels. Ek voel dankbaar teenoor hom.


Saterdag 6 September

Skoonma bel vroegoggend en laat weet hulle kom kuier vir die dag. Sy stap in met ‘n pragtige bos fynbos en ek voel sleg dat ek ‘n week of drie gelede sulke mislike gedagtes oof haar gehad het dat sy nie eens die moeite kon doen om te bel en te hoor hoe dit gaan nie. Ja, sy kon vir Simon bel, maar wat van my? Ja ja, ja, ek mag myself ook partykeer jammer kry.

Skoonma en skoonpa vertel hoe bekommerd hulle oor ons is.

Ek en Simon verseker hulle dat dit nie so erg is nie, en dat ons heel goed regkom. Die dag ontaard in ‘n heerlike gesellige Sondag.

Laatmiddag vertrek hulle met lekker droëvrugte en konfyt wat ek vir hulle inpak.

Saterdag 5 September

Ek word wakker en wens dat ek vir nog ‘n uur of twee kon slaap. Dis amper 9 uur. Ek bel vir Mare.
“Wat gaan ons nou weer vanoggend doen?” vra ek in ‘n krakerige stem, nog lekker warm onder die duvet. Ek hoop sy antwoord dat ons nie hoef te gaan nie, maar sy is gedetermineerd.
“Ons gaan organiese mark toe en jy kom saam,” antwoord sy sonder om te skroom.
“Ek kom haal jou as jy nie binne ‘n uur by my is nie,” bevestig sy my lot vir die res van die dag.
“Okei, okei! Ek spring dadelik onder die stort,” antwoord ek met ‘n skielike energie in my stem.

Vandag is hier geen uitkomkans vir my nie, dink ek terwyl die warm stortwater oor my loop.

Mol bel my en lag.
“Tallie, waarin het jy jou nou weer gekry?” En sy lag voort.
“Ja Mol, en ek het geen manier hoe ek hier gaan uitkom nie”.

Ek en Mare geniet ons gate uit by die mark. Daar is die pragtigste linne (my swakpunt), organiese koffies, kase, groente, sappe en vrugte, om van die kruie-plantjies nie te praat nie.

Ons koop niks, maar jy sou sweer hierdie is twee cugles met bultende beursies. Vra met belangstelling uit na die linne, net om die angstige mannetjie agter die tafel te laat verstaan dat ek hulle sal laat weet van watter “thread” ek die meeste gepas op my beddens sal vind. Daar is selfs ‘n mode-ontwerper wat my laat verstaan hy is seker hy ken my van iewers.

“Mmm,” antwoord ek. “Dit was seker by die een of ander funksie, of nee wag, het jy nie al iets vir my ontwerp nie? Baie jare gelede,” mymer ek in ontwerper se ore.
“Neem asseblief my kaartjie en laat my weet wanneer daar weer ‘n funksie is. Die linne-stalletjie is ook myne. Ek ontwerp linne volgens jou vereistes en volgens jou persoonlike merk,” antwoord Ontwerpertjie.

“Baie dankie, ek sal.” En met dié stoot ek liggies aan Mare se arm sodat ons ons uit die voete moet maak.

Toe ek laatmiddag terugkom by huis, voel ek lekker. Simon lê op die bank en rugby kyk. Ek is nie lus vir TV-kyk nie. Ek neem ‘n boek en gaan lê in die lekker wintersonnetjie op my bed.


Vrydag 4 September

Nodeloos om te sê dat ek vodde en moeg opstaan. Ek dwing myself in my sweetpak en tekkies en gaan stap ‘n lang ent. Ek is net betyds terug om te begin werk. Fokus, Tallie, fokus.

Simon moet vanoggend die arbeidsprofessor sien. Hy kry sy dokumente bymekaar en vertrek.

Kathleen kom een maal per week in om te stryk, kaste uit te vee en vensters te was.
“Tallie, jy moet sê as ek nie meer moet kom werk nie,” sê sy.
“Hoekom?” vra ek.
“Met die wat meneer Simon nie meer werk nie, ek weet wat dit is om te sukkel,” sê sy.
“Kathleen, jy maak staat op hierdie paar rand wat jy by my kry. Ek kan mos nie nou vir jou net so los nie, hoe gaan jy uitkom met jou geld?” vra ek.

“Ek gebruik Wouter se huurgeld om jou te betaal, so moenie bekommerd wees nie, ek gaan jou nie in die steek laat nie,” stel ek haar gerus.

Besef werkgewers watter uitwerking werkaflegging het nie net op die man wat afgelê word nie, maar wat van sy familie, sy werkers in die huis? Dit is ‘n onmiddelikke effek op drie gesinne.

Mare skakel my en nooi my om more saam met haar na die organiese mark te gaan.
“Ek het nie geld vir koop nie,” sê ek.
“Ek ook nie,” antwoord sy. Ten minste kom ons albei bietjie uit.
“Goed, ek tel jou so 10 uur op, dan kan ons gaan,” bevestig ek voor ons aflui.

Ek kan nie anders om my te bekommer oor Liz se ma nie. Sy het geen inkomste van hierdie maand af nie. Ek wens ek kon help, al is dit net om hulle huur vir ‘n maand te betaal.

Donderdag 3 September

My oë is vanoggend bloedrooi toe ek opstaan. Ek voel gedreineer. Wat kan nou nog verkeerd loop?

Die prokureur kan nog steeds nie uitvind watse diefstalsaak teen Simon gemaak is nie.Hy kry nie die ondersoekbeampte in die hande nie en die stasiebevelvoerder deel die prokureur mee dat hy nie kan help nie omdat die ondersoekbeampte die lêer het. Vaderland, hoe werk die stelsel?, wonder ek by myself.

Die prokureur wat ons huis se oordrag hanteer, skakel om te laat weet dat hy nie ‘n idée het wanneer die oordrag en registrasie gaan plaasvind nie. Ons kan dus nie op hierdie stadium enige huurkontrak teken of deposito’s betaal vir huurplekke nie.

Ek laat weet die agent. As sy iemand in die tussentyd kry om te huur, moet sy maar die plek laat gaan. Ons kan hulle nie onbepaald aan ‘n lyntjie hou nie.

Mol skakel en sê sy en Jasper kom die aand na ons toe. “Ons maak sommer ‘n hoendergereg”, sê sy. Mol bring hoender en ons gee pasta. Ons maak ‘n heerlike hoender/pasta-gereg. Die kuier is heerlik en vir die eerste keer in ‘n lang tyd is daar weer ‘n vrolikheid in die huis.

Ek pluk vir Mol ‘n bos lavender toe hulle oppad is om te ry.

“Skat”, “ons het ons vriende nodig. Ons kan nie so onttrek dat ons niemand sien nie. Kyk hoe lekker was dit vanaand. ‘n Mens voel sommer lig”, deel ek my gevoelens met Simon toe ons in die bed klim.

“Jy’s reg. Lekker slaap”, en met dié draai hy om en begin binne ‘n paar minute snork.

Ek tel ‘n tydskrif op en begin lees. Die slaap is weg. Ek lê wawydwakker. Maak planne, bedink hoe ons moet maak, waarheen ons moet trek. Dit maal vir ure in my kop.

Half twee staan ek op en maak vir my ‘n koppie tee. Ek kan nie nou ‘n slaappil drink net om te slaap nie, ek sal nie môre kan opstaan nie. Dis te laat vir ‘n slaappil. Ek gaan sit op die bank en skakel die TV aan. Ek sit en kyk tot ná 4 uur. Ek klim in die bed en raak uiteindelik aan die slaap.

Woensdag 2 September

Na ‘n heerlike nag van slaap, staan ek sielsmoeg op. Ek stort, trek aan begin werk.

Simon is van 3-uur vanoggend op om deur die dokumente te werk en sy weergawe neer te pen. Hy maak vir ons ontbyt en gesels oor hoe verregaande die eise van die vorige maatskappy is.

Die telefoon lui net toe ek opstaan om aan te gaan met werk. Ek hoor hoe hy vra “what money?”. Ek luister egter nie verder nie, maak die kantoordeur toe en gaan aan met werk.

Toe Simon die kantoor binne-kom, sien ek daar’s fout.
“Die maatskappy het gister ‘n diefstalsaak teen my gaan maak”, se hy.
“Waaat?” vra ek.

“Die ondersoekbeampte wil niks vir my sê nie, hy sê ek moet inkom na die polisiekantoor, want hulle is besig met ‘n ondersoek. Ek het glo geld gesteel die dag wat ek retrenched is. Hoeveel, wanneer, watse geld weet ek nie,” gaan Simon voort.

Ek bel die prokureur en hy vra dat Simon hom kom sien.

Toe Simon ry stuur ek ‘n SMS-boodskap aan ons nabye vriende en vra dat hulle vir ons bid aangesien die duiwel besig is om ons aan te val in die persoon van sy vorige werkgewer.

Beide my selfoon en werktelefoon lui gelyk. Vriendinne wat wil weet wat aangaan, waar ek is en hoe hulle kan help. Toe ek met die twee fone gelyk in my hande sit, bars ‘n wal van trane, hartseer, moedeloosheid binne my oop. Ek huil dat ek nie kan praat nie. My liggaam ruk en dit voel asof alles eensklaps net te veel word.
“Jy hoef nie voor my sterk te wees nie, vriendin,” praat Marė moed in. Vriendin Mol laat weet sy bel terug.

Ek sit beide fone neer en huil en huil en huil. Ek kyk in die spieel. My oë is dik opgeswel, my gesig is leweloos, my vel is vaal.

Ek trek ‘n koringkorreltjie. Dit lees “Want Ek, die HERE jou God gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou”. Uit Jesaja 41:13.

‘n Rustigheid sak oor my neer en ek weet, dis in Jesus wat ons krag lê, en Hy het die duiwel lankal oorwin.

Toe die son se laaste strale agter die horison verdwyn, sit ek en Simon buite in die tuin en gesels. Ek is gestres, hy ook, maar ek dink hy wys dit nie so maklik soos ek nie.


Dinsdag 1 September

Toe ek wakkerword, hang daar sakke onder my oë. Ek lyk sleg en voel nie juis beter nie.

“Ruk jouself reg, Tallie,” praat ek met myself terwyl die warm water van die stort oor my naak liggaam loop. Ek stort, was hare en droog my met ‘n lekker vars handdoek af. Ek smeer sesame-olie aan my lyf. Dit hou enige negatiewe energie van jou weg, het die skoonheidsdeskundige jare gelede vir my gesê. Ek het dit vir lank nie gebruik nie, maar nou het ek dit definitief nodig. Dis ‘n heerlike, reuklose olie wat in die vel intrek. Die internet sê as mens sesame-olie op jou liggaam en gesig gebruik, het jy gaan ander cosmetics nodig nie.

Simon is vroegmore weg om kliënte te gaan sien en nog toedraaiplastiek en kartondose te kry vir die inpakkery.

‘n Harde Klop aan die voordeur verbreek die stilte waar ek by die rekenaar sit en werk. Ek maak gewoonlik nie die deur oop gedurende die dag nie. Ek maak een van die vensters oop en vra wie daar is. “Ek is die Sheriff van die Court, Mevrou,” antwoord hy heeltemal te hard vir bure wat baie na aan mens woon.

Vinnig maak ek die voordeur oop.
“Kom binne,” nooi ek beleefd, regtig nie gewoond aan ongenooide gaste soos hierdie nie.

“Ek het dokumente van die Hooggeregshof vir meneer Simon X, dit kom van sy vorige werkgewer.” “Wat?” sê ek. “Hulle het die man afgelê en nou stuur hulle dokumente van die Hooggeregshof?”, vra ek meneer Sheriff van die Hof.

“Mevrou, ek weet nie waaroor dit gaan nie, ek doen net die aflewering. En teken sommer hier, mevrou.” Met die druk hy ‘n vel papier onder my neus in en hou ‘n afgekoude swart pen na my toe uit.
“Toemaar, ek het ‘n pen, dankie,” antwoord ek Sheriff-mannetjie.

Toe ek die deur agter hom toemaak, gaan sit ek met die lywige dokument langs die eetkamertafel.

Simon word gedagvaar om in die hof te verskyn om hom te verbied om enige besigheid in dieselfde bedryf te doen waarin hy voorheen was. Hy word geforseer om sy besigheid binne 7 dae toe te maak. Daar word ook ‘n eis van ‘n paar honderd duisend rand teen hom gemaak.

Toe Simon by die huis kom en die dokument deurgaan, lag hy.
“Dit is hoe hulle met al die mense maak wat by hulle retrenched word. Almal word voor die hof gedaag.

Ek bel ‘n prokureur, verduidelik aan hom die situasie en vra of hy kans sien om die saak te hanteer. Hy vra dat Simon die dokumente onmiddellik na hom deurbring sodat hy dit kan deur werk. Simon moet hom Donderdag kom sien.

Ek is vanaand moeg. Moeg vir baklei teen iets wat ek nie kan sien nie. Moeg vir hierdie aanhoudende, negatiewe magte en mense wat aanhou om ons te toets. Ek is moeg en sien nie meer kans nie. Simon is byterig en toe ek hom aanspreek daaroor, antwoord hy dat sy kalmeerpille op is.
“Nou gaan kry nog d*nnerse pille. Ek kan nie nog jou buie ook hanteer nie,” gil ek op hom.

Ek maak die slaapkamerdeur toe en gaan lê op die bed. Ek hoor die telefoon binne lui en Simon wat antwoord.

‘n Ligte klop aan die deur laat my opkyk.
“Dit is arbeidsprofessor, ek moet hom vrydag 10-uur sien vir die CCMA-saak van Maandag,” lig Simon my in.

Ek antwoord hom nie, laat sak net my oë en gaan aan met lees. My hele wese wil net wegkom uit hierdie situasie, maar hoe, waarheen?

  • Benetha

    Ai wanneer gaan daar nou uitkoms kom vir die mense!! Ons dink daagliks aan julle sterkte

  • Sy boei mens so en dis erg vir haar maar ek glo om te deel help haar reeds baie maar waar is die res van haar verhaal?

  • Maryke

    Hoekom neem dit so lank voordat die volgende inskrywinge geplaas word? Ek lees dit getrou, mar soms gan daar dae verby met geen nuwe inskrywings nie??

  • Marian Hayward

    Tallie, you are an amazing and inspirational woman with a talent for writing. You should seriously consider to write a book – I will most definately buy it! Good luck to you and your family. Why are we only now reading beginning Sept?

  • Gerda Tredoux

    Dit is vir my wonderlik hoe bevrydend skryf kan wees. ‘n Mens kan sien hoe Tallie haar gedagtes vorm en neerpen, ‘n baie rare talent, om dit so akuraat en met geveoel soos sy te kan doen. Lyk my daar is niks wat sy nie kan doen nie. Simon is baie gelukkig om haar as vrou te he, ek is seker baie mans beny hom hierdie wonderlike vrou wat vir hom so goed is en hom deur hierdie moeilike tyd forseer. Sterkte Tallie en mag die Here julle seen. Julle verdien dit.

  • Y640Y0 fulevbfvnnxt, [url=http://tmkkormxlyau.com/]tmkkormxlyau[/url], [link=http://fbhwqjgvpago.com/]fbhwqjgvpago[/link], http://xyiarrgnvxwv.com/

  • Lizelle

    Tallie, jy is ‘n yster!!!

  • annaline

    Lewenswysheid en lewenswaarhede, dit is hoe ek haar artikel beskryf. Die lewenslesse is nie net van toepassing op mense wat hulle werk verloor het nie maar ook op ons almal wat al "iets" verloor het, hetsy dit gepaard gaan met egskeiding,siekte of dood en dan as alles stil word is daar steeds altyd iets om dankbaar oor te wees. Baie sterkte Tallie, mense soos julle staan weer op, en verwag nie "handouts" nie maar wel ‘n "hand up".

  • Esther

    liewe Tallie,Dankie dat jy jou diepste seer so openlik deel.Jy sal nooit kan besef wat jou skrywe vir my as vrou beteken nie.Jy het my deurgedra deur die donkerste nag en put van ellende.Toe sien ek skielik hoe geseen ek is…sal jy glo , ek het wat baie ander met hulle hele hart begeer.My planne was anders maar Syne is soveel beter , al was die roete daarna heeltemal anders as wat ek wou loop.Dankie , baie dankie.Ek sou so graag nog verder wou lees maar november , desember en januarie ontbreek.Moet asb nie sommer net ophou skrywe nie. Ons almal verlang na jou en bid vir julle.Baie liefde,jou leesvriendin Esther

  • Sharmaine

    Ek is mal oor d storie! Ek kom elke dag terug om te sien of daar n nuwe stukkie is … Baie Dankie … Geniet jou naweek Tallie!

  • Tallie

    Baie baie dankie vir al jul boodskappies. Ek kry soms ‘n knop in my keel as ek julle terugvoer lees. Mens is so geneig om te dink wanneer iets in jou lewe gebeur, is dit die ergste ooit – totdat jy lees/hoor wat in ander se lewe aangaan. Baie sterkte en ek hoop ons kan eendag almal om ‘n koppie tee sit en die lewe se probleme uitsorteer – so tussen die lag en trane deur. Liefde, Tallie

  • hOW3Gv mtlxddapwaet, [url=http://tslzdamhffrr.com/]tslzdamhffrr[/url], [link=http://yvsyrkxpukwi.com/]yvsyrkxpukwi[/link], http://clubkivnhhud.com/

  • Sharmaine

    Ai Tallie … Skryf, Skryf, Skryf vrou!
    Ek is mal oor d storie … Hoop daar kom tog lig aan d einde van jul tonnel!

  • XPLe4f lmujgkmjlzzl, [url=http://gjuvqajdxwii.com/]gjuvqajdxwii[/url], [link=http://xbpqwhagptjs.com/]xbpqwhagptjs[/link], http://juxdkvlqorej.com/

  • Esther

    Hallo Tallie,
    Weet jy ek lees so met ‘n traanogie jou nuutste nusies en ek dink"ek wonder of Tallie weet sy is ‘n "celebrity".Ons almal kannie wag om van jou te hoor nie.Jy is dalk nie op die manier wat jy gedink het / of wou wees een nie maar daar is dit , aanvaar dit nou maar ons sien jou as ‘n rolmodel.Eerlik tot op die been , foute en al en met al jou suksesse waaroor ons almal saam lag en hande klap.Reg oor die wereld bid ons vir jou en skattebol ek sit in NEW ZEALAND maar dis nou weer ‘n ander storie met ‘n kinkel in die kabel.Hou vas en hou aan vriendin jy sal dit maak.groetnis Esther.

  • Tallie,ek het gisteraand jou verhaal begin lees en vanmiddag na werk voortgegaan. Ek is nou net klaar gelees en wag in spanning om die res van jou verhaal te lees. Jou sorie is so boeiend en so bekend. Dis wonderlik dat die liewe Here my juis nou na jou storie gelei het. Ek het soveel inspirasie, raad en idees om planne te maak van jou gekry. Dit is omdat ek onsself(my man, myself en ons seun) in jou verhaal herken. Soveel van die dinge wat jy vertel beleef ons juis nou en dit na 30jaar se getroude lewe. Noudat ons planne in plek moes wees (dit was tot n jaar gelede)vir toekomstigde aftrede gaan dit beroerd in ons huishouding. Gelukkig het jy nog polisse en noodspaarplan. Ons moes alle polisse laat vaar. My man het na 33jaar diens bedank om met sy neef in n bestaande besigheid te gaan. Hy het met baie teenkanting van my byna die helfde van sy pensioengeld in die besigheid bele net om deur sy eie familie beduiwel te word. Ons sukkel vir 3jaar dat prokureurs die geld moet terug kry maar sonder sukses. My man het toe met n klein besigheid begin en ons seun ook daarby betrek. Dit gaan beroerd, die huur is amper 3maande agterstallig en my seun kry geen salaris. My salaris moet gevolglik alle uitgawes dek wat onmoontlik is. Ons is nou albei op die swartlys geplaas en ek oorweeg dat ons ons huis van 28jaar wat ons self laat bou het moet verkoop. My man is baie passief en wil nie die werklike stand van sake besef. Hy bespreek geen probleme met my maar ek moet aanhou betaal met geld wat ek nie het. Ons het n baie hegte band al die jare gehad maar dit voel ook vir my asof ons uitmekaar dryf. Toe dit met ons voorspoedig gegaan het, was dit my passie om vir mense in nood te help met kos, klere, rekeninge betaal ens. en het nooit enige terugbetaling geneem. Dit het ek as my 10de beskou en was dit vir my net vreugde om vir iemand in nood te kon help. Vandag wonder ek of ek nie maar eerder in n noodfondsie moes bele as om so oophand te he en vrygewig te gewees het. Dis net n kwessie van tyd dan gaan ons alles verloor wat ons al die jare hard voor gewerk het. Ek bid, smeek, baklei en stoei daagliks met ons liewe Vader. Ek bid dat Hy my daarvoor sal vergewe. Glo my selfmoord het dikwels my gedagtes gekruis. n Mens kan net soveel hanteer. Die verwyte, bakleiery en stilstuipe in ons huis is besig om my onder te kry. Ek het vandag by my vriendin geknak en met die hele sak patats vorendag gekom. Haar geduldige oor en begrip het my rustiger gestem. Verder glo ek dat net God ons uit hierdie moeras kan red en vra vir voorbidding vir almal wat struikel. Dankie vriendin Tallie ek het groot empatie met jul situasie. Hou ons asb op hoogte. Ek vertrou dit gaan al beter met julle. Liefdegroete x

  • Anelda

    Ek is verskriklik bly vir jul part. Baie geluk! Al laat weet ons tog maar so nou en dan hoe gaan dit verder met julle. Sterkte vorentoe, en mag dit van nou af en goed gaan.

  • El

    Liewe Tallie,
    Baie dankie dat jy jou lewe (en lief en leed) met ons gedeel het – ons almal kan iets hieruit leer. Sterkte met die toekoms. Jou krag is ‘n inspirasie vir baie.

  • Annaline

    Baie sterkte vir die toekoms. Ek het uit julle verhaal ook ‘n paar lewenslesse geneem en dit sommer met ander gedeel. Ek bid vir julle krag en sterkte toe vir die toekoms, mag julle as gesin van krag tot krag gaan. Ek gaan die blog mis.;-)

  • Esther

    liewe Tallie,
    Ai ek gaan jou mis maar ek is so dankbaar dat alles ten goede mee gewerk het vir die wat God lief het(Rom 8:28)Veels geluk en mag dit met julle goed gaan.Jy het een en almal se harte diep geraak met jou eerlike benadering geen strikkies en geen tierlantyntjies nes dit rerig is."The real thing".Dankie daarvoor , mag jy van krag tot krag en sterkte tot sterkte gaan.Het jy al daaraan gedink om as motiveringspreker mense te bemoedig.Baie liefde

  • Lizelle

    Jippie! Kan nie wag om Tallie in Sarie te ontmoet nie! Jou blog inskrywings is ‘n inspirasie vir al ons klakouse wat so gereeld met die witbrood onder die arm kla. Een ding het ek by jou geleer…KOM MET MINDER KLAAR!!!

  • Vicky Haywood

    indien moontlik kan ek groot asb die ander dele kry van "toe my man sy werk verloor het". Ek dink dit help baie om dit te lees.

  • mYksvY dpzqerzngofg, [url=http://zshrycmazcgp.com/]zshrycmazcgp[/url], [link=http://awdajhgxiirm.com/]awdajhgxiirm[/link], http://hwsvegjwbnfa.com/

  • Esta Groenewald

    Toe ek vir Tallie in die nuutste uitgawe van Sarie sien – hoekom was ek nie verbaas? Die mens wat ek leer ken het, het met haar integriteit en menswees haar lewensstorm weerstaan. Dankie vir jou inspirasie en voorbeeld. Dankie dat jy deur Sy Liefde saam met Simon en die kinders die pad loop, en oorwin. My mooiste wense. Esta

  • [url=http://computer-store-online-canada.zanjatost.pp.ua/]computer store online canada[/url]
    [url=http://adult-online-free-game.zanjatost.pp.ua/]adult online free game[/url]
    [url=http://congressional-simulations-online.zanjatost.pp.ua/]congressional simulations online[/url]
    [url=http://black-mother-fuckers-free-clips.zanjatost.pp.ua/]black mother fuckers free clips[/url]
    [url=http://free-nascar-screen-saver.zanjatost.pp.ua/]free nascar screen saver[/url]

  • BmsSuL uctdougtzitb, [url=http://usythgvifnfj.com/]usythgvifnfj[/url], [link=http://wbhleojeinjy.com/]wbhleojeinjy[/link], http://hqnofuzmgbgx.com/

  • JgcTsI mgfdhwhfjcko, [url=http://apxuprdndpkw.com/]apxuprdndpkw[/url], [link=http://ewmlzytutrai.com/]ewmlzytutrai[/link], http://hmahxpftkdeu.com/

  • 5IEqLy edmflhzfddhb, [url=http://gnczajyxqwlp.com/]gnczajyxqwlp[/url], [link=http://iuqqywobuubq.com/]iuqqywobuubq[/link], http://nfwsndwpcuzf.com/

  • Xxq1ib lenihwkfrlfu, [url=http://xlnsmaasrmgy.com/]xlnsmaasrmgy[/url], [link=http://gbuyzcoiltnp.com/]gbuyzcoiltnp[/link], http://deogrtennesr.com/

  • xgqgzZ nrxqxnruuaov, [url=http://aezjigsvtkwi.com/]aezjigsvtkwi[/url], [link=http://jbbrmnhybrgw.com/]jbbrmnhybrgw[/link], http://xvvgnjsxxhlr.com/

  • mKUicP whsqweauvqis, [url=http://joakohynlein.com/]joakohynlein[/url], [link=http://ymqkbmsdhhkq.com/]ymqkbmsdhhkq[/link], http://zdbjqsvkxqxg.com/

  • rbvknb

    EncAxO assugvvlpgdq, [url=http://dhhyzxmwulsd.com/]dhhyzxmwulsd[/url], [link=http://iyztnpoabfti.com/]iyztnpoabfti[/link], http://csseyypcybrk.com/

  • kdkwoaouek

    eZ5hxx ligbukdbelut, [url=http://aqvpyachzgpl.com/]aqvpyachzgpl[/url], [link=http://vxvpklytbgel.com/]vxvpklytbgel[/link], http://ccfzhdqimraw.com/

  • llldpfuog

    kgK9VK yopxptfoebbn, [url=http://eliclpdggtvm.com/]eliclpdggtvm[/url], [link=http://wspqiwdsxdzs.com/]wspqiwdsxdzs[/link], http://pbpvdzeslhlk.com/

  • esjoeivmi

    Sszaih sbicbgfjgtof, [url=http://axyrbwebzrdc.com/]axyrbwebzrdc[/url], [link=http://ezxtlwcjrgkb.com/]ezxtlwcjrgkb[/link], http://mpyzxlbuclvr.com/

  • bmxfryzpcsm

    7AWXc0 nnnzuhquksmg, [url=http://raygfjbocwep.com/]raygfjbocwep[/url], [link=http://dcvwgbpgcjlm.com/]dcvwgbpgcjlm[/link], http://eaoscqjklcok.com/

  • cyefjnrwl

    5ly2pT tlulgrflhwjx, [url=http://afewfiwdwbad.com/]afewfiwdwbad[/url], [link=http://ylrhifnngsjw.com/]ylrhifnngsjw[/link], http://sgfffyctjapw.com/