Diverse

Valentynsdag: ‘n dag van liefde en spesiale oomblikke

Liefde is in die lug!

Die één dag van die jaar wat die hele wêreld die liefde vier, is om die draai! Raak nostalgies oor die liefde saam met Laurika, en kry hier jou volledige Valentynsgids om die dag baie spesiaal te maak.

 

 

My held was Elvis, my Elvis

My “Heartbreak Hotel”

Toe jy nog vir my met ’n tiekie kon bel

Ons klink ’n rooi glasie wyn op ons skete en pyn

En gee ons oor aan die nostalgie


Onthou jy die saam besluit

Liefde had geen perke

Saam veg teen die steiltes uit

Hier staan ons nou

Sterker en sterker oe

Uit ‘Die Nostalgie’ – Laurika Rauch


 

 

Hier is alles wat jy nodig het om dié Valentynsdag baie spesiaal te maak.

 

 Kyk wat beplan dié bekendes vir die dag van liefde:

Ons skiet nou die fliek Platteland en gaan die 14de Februarie terug Vrede toe vir ’n final scene. Ons gaan seker in daardie mooie deel van die wêreld ’n ete saam geniet by die Verkykerskop-restaurant.  –  Lianie May Lianie May
Omdat my kêrel, Mauritius, die 14de moontlik nie hier gaan wees nie weens sy werk (hy’s ’n navigator in die handelsvloot), het ons besluit om ’n vroeë Valentynsdag te vier. Ons was vir ’n paar dae by Ponta do Ouro in Mosambiek om saam met dolfyne te gaan swem. Ons het ook ’n kursus in mens-tot-dolfyn-kommunikasie gedoen. Dit was nie net ’n romantiese avontuur nie, maar boonop leersaam en baie mind expanding! –  Vicky Davis Vicky Davis
“Omdat Schalk vir Navi Redd sing, is hulle altyd volbespreek op Valentynsdag. Maar vanjaar gaan ek en ’n klomp vriende saam kyk na hul vertoning sodat ek nie alleen is nie, en sodat hy vir mý kan sing! Ons gaan die aand voor die tyd ook U2 kyk in Johannesburg. Ons sien baie uit daarna.” – Mandi Baard Mandi du Plooy
“Dié jaar gaan ons nie uitgaan nie. Valentynsdag is so kommersieel en almal wil in restaurante gaan eet, maar dit is te vol en te duur. Ek gaan liewer vir ons ’n feesmaal by die huis kook. Ek is mal daaroor om kos te maak, en ’n lekker atmosfeer te skep met kerse en blomme.” – Tanya van Graan Tanya van Graan
“Ons vier nie regtig Valentynsdag nie, maar ek en my man het eenmaal per week ’n date night. Ons het besef dat ons met die kinders en ons vol dagboeke nie meer tyd met mekaar deurbring nie, daarom kry ons een maal per week ’n oppasser en dan doen ons iets lekkers. Dit kan enigiets wees, van ’n drankie êrens tot ’n deftige ete in ’n hotel. Ons hou eintlik elke week Valentynsdag…” –  Milan Murray Milan Murray
“Ek en Bok (van Blerk) is in Pretoria besig met die verfilming van Platteland. Hy het daardie dag baie tonele, maar wanneer hy klaar is, gaan ons na die Phoenix Spur toe in Brooklyn Mall. My liefdadigheidsprojek, Hanna Charity, neem kinders soontoe om saam met die kelners te werk. Hulle leer dat werk lekker is en dat ’n mens verantwoordelikheid moet neem vir jou eie lewe. Ons gaan soontoe om hulle te ondersteun. Sondagaand gaan ons U2 kyk, daarom sal ons Valentynsdag saam ingaan…” – Hanna Grobler Hanna Grobler

 

Ander bekendes vertel wat hulle spesiaal laat voel en wat hul gunsteling-produkte is:

 

Nadia Valvekens

NADIA VALVEKENS

Watter skoonheidsproduk vir Valentynsdag?

My gunsteling bly ’n parfuum en ek is mal oor Dolce&Gabbana Rose The One (R840 vir 50 ml EDP). Die sagte blomnote laat my vroulik voel, terwyl dit steeds subtiel is.

Op watter eienskappe raak jy verlief?

Ek hou van opregtheid, ’n oop gesig en eerlike oë. Dis vir my lekker as ek in iemand se oë kyk en sommer kan weet ek sien die waarheid.

Dolce & Gabbana Rose The One
Werner Coetzer

WERNER COETZER

Watter skoonheidsproduk vir Valentynsdag?

’n Lekker naskeermiddel soos Aramis Classic Aftershave (R325 vir 60 ml). As jy weet jy ruik lekker, gee dit jou die vrymoedigheid om mense te nader en jy weet mense kan jou nader. Jou reuk lok mense.

Op watter eienskappe raak jy verlief?

Die liefde en lig wat die ander persoon uitstraal. Daar is niks so belangriks as om te weet dat die ander persoon baie liefdevol is nie. ’n Mens kan altyd doen met ekstra liefde!

Armanis Classic Aftershave
Corine du Toit

 

CORINE DU TOIT

Watter skoonheidsproduk vir Valentynsdag?

Ek is ’n aanhanger van DV8- grimering, want die natuurlike mineraalpigmente gee jou daardie vars en sexy voorkoms. Ek is ook mal oor die romantiese reuk van

Ralph Lauren Romance (R785 vir 50 ml EDP), daarom sal ek die geur se badskuim, die lyfroom én die parfuum gebruik.

Op watter eienskappe raak jy verlief?

Deernis en liefde vir diere en jou medemens, en eerlikheid.

Ralph Lauren Romance
Lika Berning

LIKA BERNING

Watter skoonheidsproduk vir Valentynsdag?

’n Lekker parfuum! Ek is mal oor vanielje-lyfsproei soos dié van The Body Shop, ek dra dit elke dag saam met my. Vanielje laat my dink aan ’n bakkery waar ek lekker saam met my man kan koffie drink en koekies eet. Vir die aand hou ek van DKNY Red Delicious (R595 vir 50 ml EDP). Dit laat my spesiaal voel met note van vanielje, appel en framboos.

Op watter eienskappe raak jy verlief?

Wat my onmiddellik verlief gemaak het op my man, was hoe hy met diere en kinders praat – sy stemtoon wanneer hy met hulle kommunikeer. Ek dink iemand se interaksie met ander verklap baie.

DKNY Red Delicios

 Kahn Morbee

KAHN MORBEE

hoofsanger van The Parlotones

Watter skoonheidsproduk vir Valentynsdag?

Ek het onlangs Nimue-produkte gekry om uit te probeer en geniet dit op die oomblik. Ek dink ek sal seker ’n lekker parfuum dra. Ek hou van iets wat lig en vars is. Op die oomblik gebruik ek Acqua Di Giò ForMen van Giorgio Armani (R675 vir 50 ml EDT), maar ek probeer elke keer iets nuuts wanneer ek ’n geur koop.

Op watter eienskappe raak jy verlief?

Iemand met wie ek oor die weg kan kom. In die begin gaan dit oor aantrekkingskrag en wat jy aantreklik vind, maar later word ander eienskappe belangrik, soos om saam pret te hê en te lag. Vir my is dit nie een spesifieke eienskap nie, want dis belangriker om saam te lag en goeie gesprekke te hê.

 

Acqua Di Gio for Men - Giorgio Armani
Donnalee Robberts

 

DONNALEE ROBBERTS

Watter skoonheidsproduk vir Valentynsdag?

Ek is mal oor geure en baie van my gunsteling-herinneringe is aan geure gekoppel. Op my troudag het ek Calvin Klein se Euphoria (R790 vir 50 ml EDP) gedra en dié dag het ek die mooiste in my hele lewe gevoel! Van toe af, as ek dit aanhet, bring dit dieselfde gevoel terug.

Op watter eienskappe raak jy verlief?

’n Passie vir die lewe, die vermoë om God se wonderwerke in selfs die kleinste dinge raak te sien, avontuurlustigheid en ’n goeie sin vir humor.

Calvin Klein - Euphoria


 

Van die tafel tot tierlantyntjies , ons wys jou net hoe !

 

TAFEL VAN LIEFDE EN VRIENDSKAP – deur Herman Lensing

Al gedink om goeie vriende te nooi op Valentynsdag? Stuur vir elkeen jou spyskaart met ‘n resep en laat almal iets te ete bring. Al wat dan oorbly, is om die mooiste tafel te dek!



 Al wat jy nodig het om Herman se lekker resepte te maak is 30 minute (en natuurlik die bestanddele)

SJOKOLADE-FANTASIEË – deur Herman Lensing

Sjokolade-plaatkoekies Sjokolade-neutebederf
Witsjokoladekoek met kersies
6 porsies
Jy kan die koek in ‘n hartvormige pan bak.

  • 200 g botter
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 4 eiers
  • 200 g (260 ml) bruismeel
  • 100 g witsjokolade, fyngekap
  • 250 ml room, geklits tot sagte punte vorm
  • 250 g vars kersies
  • 100 g donkersjokolade, gesmelt en effens afgekoel

Verhit oond tot 180 ˚C. Room botter en suiker met ‘n elektriese menger tot lig en romerig. Voeg eiers by en meng goed, gevolg deur bruismeel en witsjokolade.Meng goed en gooi mengsel in ‘n 30 cm-pan wat met kleefwerende middel gespuit is. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Keer uit en laat afkoel. Skep room bo-op en sprinkel kersies
oor. Skep gesmelte donkersjokolade oor en sit voor.

Sjokolade-plaatkoekies

6 porsies
• 250 ml melk
• 2 eiers
• 245 g (440 ml) koekmeel
• 20 ml bakpoeier
• 100 g donkersjokolade, grofgekap
• 100 g witsjokolade, grofgekap
• 45 ml sonneblomolie
• 250 ml crème fraîche
• 100 ml heuning
• hand vol klein malvalekkers
• ekstra donkersjokolade, gekap

Meng eiers en melk in ’n middelslag-mengbak.Voeg meel, bakpoeier en gekapte sjokolade by. Meng goed tot gladde beslag. Verhit ’n klein bietjie olie in ’n pan tot matig warm.
Skep lepels vol van die beslag in die pan. Laat stadig braai tot lugborrels op die oppervlak van elke koekie bars. Draai om en braai verder tot goudbruin en gaar. Sit warm voor
met heuning, lepels vol van die beslag in die pan. Laat stadig braai
tot lugborrels op die oppervlak van elke koekie bars. Draai om en braai verder tot goudbruin en gaar. Sit warm voor met heuning, lepels vol crème fraîche, gekapte sjokolade en malvalekkers.

Sjokolade-neutbederf
10 – 12 stafies
Dalk het jy, soos ek, grootgeword met dié koekies met Marie-beskuitjies.
Hier is my weergawe van die resep.
• 100 g pistasieneute, gekap
• 200 g sjokolade-moutballe (Whispers), grofgekap
• 100 g amandels, gekap
• 100 g pekanneute, gekap
• 200 g donkersjokolade, gesmelt
Sit al die droë bestanddele in ’n middelslag-mengbak. Voeg gesmelte sjokolade by en meng goed. Voer ’n bakplaat van 25 cm x 15 cm met bakpapier uit. Skep mengsel in pan en versprei eweredig. Sit nog ’n stuk bakpapier bo-op, gevolg deur ’n bakplaat. Sit ’n swaar item, soos blikkieskos, bo-op sodat dit die mengsel vasdruk. Laat stol in yskas vir sowat 10 minute. Keer uit op skoon kapplank. Gebruik ’n skerp mes en sny in stafies van 2 cm x 10 cm. Draai in bakpapier toe of sit dadelik voor saam met sterk koffie.
 
 

Ons het eenvoudig nodig om na mekaar uit te reik en die boodskap uit te stuur: Ek sien jou en erken jou. Ons moet bly praat, al is dit net deur ‘n kitskennismaking op die lughawe. Want ons behoud is in sáám – altyd. In voorspoed en in nood. Dis deur sáám dat ons regkry om ook te vlieg.”      Michélle van Breda

 

Liefde

1 Korintiërs 13


13:1 Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.  13:2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.  13:3 En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.  13:4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,  13:5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,  13:6 is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.  13:7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.  13:8 Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë – hulle sal tot niet gaan; of tale – hulle sal ophou; of kennis – dit sal tot niet gaan.  13:9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.  13:10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.