Diverse

Verstaan

Ek dink dis meer dat hy hom daaraan verwonder het, want hy het seker agtergekom dat die aasvoël op die lugstrome ry. Hy het waarskynlik ook uitgevind ’n slang gebruik sy skubbe en kronkels.

’n Seilskip op die see is ’n pragtige gesig, maar dit het ’n kompas om sy koers te bepaal. En ek is seker dat die Spreuke-digter beslis nie van die lugdrukwette van Boyle geweet het nie. Nogtans, Boyle en al, bly die skip, aasvoël en seilende slang nog in ons dag wondere. En in die liefde tussen ’n man en ’n vrou is ook ’n chemie aan die werk waaroor sielkundiges/raadgewers/filosowe sal aanhou tesisse skryf.

Maar daar is ander, meesal mindere dinge, wat vir my ’n raaisel is: Hoekom verdien ’n sportster of popster of model meer geld as die president van ’n land, of die meeste lande waar beskaafde waardes geld? Hoekom slaan die Britte hulle selfs tot ridders en baronesse? Wat het van ware “glans” geword, mense wat imponeer met die krag van hul persoonlikheid?

Ek het in my dae as joernalis met verskeie “sterre” en “persoonlikhede” onderhoude gevoer: Iemand wat ’n prys gewen het of ’n rol in ’n sepie speel of ’n Mejuffrou Iets geword het of die politiek betree het. Sommige het my blywend beïndruk. Maar dikwels het ek my sit en verwonder aan die wysheid van ’n hele paar dwase, en dan moes ek dit nog skryf ook. ’n Sekere beroemde rugbyster het probeer snaaks wees met sy gemeenplase. Hy is deesdae geen kerkmuis nie en gaan steeds voort met sy gemeenplase.

Hoekom verdien verpleegsters, onderwyseresse, polisie – al die noodsaaklike dienste – so min? Sê dit iets van ons samelewing? Hoekom is die Iere en Arabiere lief vir poësie, maar die meeste van ons mense ken nie twee reëls van Van Wyk Louw van buite nie? Hoekom neem mense ’n band met die naam Fokofpolisiekar enigsins ernstig op? Hoekom raak hulle gek oor ’n tweederangse riller soos The Da Vinci Code?

Die hele boek ruik na die ou siniese koerantgesegde dat feite tog nie in die pad van ’n lekker storie moet staan nie. Dit onderstreep ook die gesegde van die eerste ou Rockefeller dat niemand nog ’n fortuin gemaak het deur mense se intelligensie te óórskat nie. Sinies, maar tog …

En nog iets: Inflasie. Toe ek ’n kind was, het my pa my die verskil tussen depressie en inflasie verduidelik: “As daar te min van sekere goed is, gaan pryse op en ons praat van inflasie. As daar te veel goed beskikbaar is en te min geld om mee te koop, begin ’n resessie wat ’n depressie kan word en dan het niks eintlik meer ’n prys nie.” By ons vertel hulle inflasie word “in toom gehou”, so teen 4 tot 6%. Huisvroue wat gewone kruideniersware koop, sê dis twak. En gister het ek ’n soutwater-neussproei by ’n apteek gekoop, 95% duurder as ’n maand gelede. Soutwater ding dus nou mee met die goudprys. Of iemand vang ons almal vir ape. En ons laat ons vang. Dit sal ek nooit verstaan nie.

Ek het al by huwelike weggery en gedink: As hierdie twee ’n jaar bymekaar bly, is dit ’n wonder – en later saam met hulle silwerbruilof gehou. Dan het ek my soms verkyk aan die “ideale paartjie”… wie se huwelik ná ’n jaar in die skeihof geëindig het. Menslike gedrag bly onvoorspelbaar.

Pas sit en kyk ek hoe vet Hoëveldse wolkies statig in koringblou lug bokant die groen jakarandas verbysweef. Dit bly vir my aangrypend, al het ek vanjaar al baie van hulle gesien in ’n oormatige reënseisoen. Sulke wolke is in die kategorie van die Spreuke-digter se nie-verstaan-nie-dinge, misterieë, verskuilde geheimenisse wat jy sien, maar die skoonheid, wonder, uniekheid en blydskap daarvan kan jy net geniet sonder om te probeer ontleed.

God is ook so: Probeer Hom verklaar en jy sit met jou hande in die hare. Geniet Sy liefde en sorg, en jy sal teen rotse uitseil, oor seë vaar en vlieg soos die wilde voëls.