Diverse

Vroeë Kersfees

En soos alle nasies en mense op reis, gedra hulle hulle soos toeriste, ek seker ook. Die verfynde Japannese, byvoorbeeld, wat in hul eie land met ’n beleefde buiging vir ’n vreemdeling terugstaan, word op reis soms grypers en drukkers. In een van die historiese huise het skelms ’n vrou se beursie uit haar handtas gesteel en “Security!!!” is geroep. Ek was sommer tuis! Stratford is nie die hemel nie. Die plek was vol in die Engelse laatsomer. Soos dit seker in Betlehem ook was met die geboorte van Jesus.

Ons het ook blyplek vir die nag gesoek en dit gekry by ’n ou-ou herberg, The White Swan, die gebou wat dateer uit die sestiende eeu en blykbaar ’n paar huise is wat aanmekaar gelap is vir ’n “inn”. Ruwe ou meubels, trappe op en af, sommige gemakstoele ingesak, maar alles heel vrolik.

Hoekom ons daar gaan bly het? Ons was moeg van al die navigasie, die kar se koppelaar was styf (ek is nie meer aan ratte gewoond nie) en om parkeerplek te kry was ’n soektog so reg in die Bybelse kraal van “geen plek in die herberg” nie. Maar voor dié herberg het ’n Kersboom gestaan met ’n vriendelike uitnodiging: “Book now for your Christmas dinner. Our tables are filling up fast!”

Dit was 20 September. Vroeë Kersfees.

Klaar ingeboek, ry ons al in die rondte in die paar verwarrende straatjies en ek hou onbeskaamd stil op ’n plek vir gestremdes (darem net ’n rukkie) om ’n brosjure te kry. Watter verduideliking ek sou gee indien een van die wagte en polisie my daar geskraap het, is gou opgelos. Terwyl ek soos ’n verwilderde apie so gou as moontlik wou terughaas, trap ek ’n trappie op die sypaadjie mis en val lankuit dat die munte in my sak tot by die geboortehuis van die genie rol, en ek stadig orent kom en eers kyk of iemand my dalk gesien het. Toe voel ek aan my heup, arm en enkel of dit nog bruikbaar is, tel hier en daar ’n munt op en strompel skaam voort kar toe. My voorarm het die grootste pyn gevat, maar darem nog gehou, hoewel later dik geswel.

My vroeë Kersgeskenk (à la Stratford in September) was dus ’n slap voorarm wat nog moes help koffers sleep en kar verder bestuur.

Maar, klaagliedere eenkant: Stratford is ’n pikante dorpie waar ’n ieder en ’n elk op ou meester Shakespeare se naam teer. Die ou huise, die plek wat hulle vir jou aanwys as sy geboortehuis, die romantiese herinnerings aan die sestiende eeu, die bekende woorde en aanhalings van die meester, die uitbeeldings van die verfyndheid van daardie tyd, die wonder van wysheid van die man wat hier gebore is en later hier meer grond sou besit, vermeende dele van sy manuskripte … Dit alles maak enigeen wat homself ’n skrywer durf noem baie gou bitter nederig. Veral toe ek weer deur ’n klein bundel van sy sonnette gelees het.

Maar was Shakespeare werklik die een wat dit alles geskryf het? Of Christopher Marlowe of iemand anders? Baie mense twyfel, soos daar mense is wat aan Jesus twyfel, hoewel hulle darem betyds moet bespreek vir hul “Christmas dinner”. Sý groot waarhede leef ook in die harte van miljoene. Ek was verbaas oor hoe bitter, bitter min eintlik van die “historiese Shakespeare” bekend is. Maar die meeste mense ken: “If music be the food of love, play on!”

Toe ons vertrek, wou ek ’n takkie van die Kersboom by die herberg se voordeur as aandenking afpluk, maar my seer arm het my twee maal laat dink. Buitendien: Kersfees kom oral, en die feit dat die besering nie erger was nie, is ’n vroeë Kersgeskenk.

Vier ’n goeie Kersfees, Stratford. Vier ’n geseënde Kersfees, almal. Vier dit met Christus. Vier dit met Shakespeare en “Doubt truth to be a liar/But never doubt I love” (Hamlet, tweede bedryf).