Camilla Howard
Diverse

Vrouemaand-inspirasie: Camilla Howard

Minder as ’n jaar
 nadat Camilla Howard Kilimandjaro kaalvoet uitgeklim het, het sy nog ’n ekspedisie aangepak – dié keer om bewustheid rondom rommelstrooiery onder Suid- Afrikaners te skep. Sy en Michael Baretta het met CAN DO! Trekking for Trash van Alexanderbaai by Namibië strandlangs tot by Kosibaai aan die noordkus van KwaZulu-Natal gestap. Hulle het Oktober verlede jaar met dié tog van 3 000 km begin en einde April klaargemaak. Onderweg het hulle strande saam met van die plaaslike gemeenskappe skoongemaak en laerskool-leerlinge van rommelstrooiery bewus gemaak.

Toe ons in Alexanderbaai met die reis begin, was ek baie opgewonde. En ek het al die pad tot in Kosibaai nooit anders gevoel nie. Elke dag was nuut, anders en opwindend. Ek het gedink dit sal my irriteer om so lank uit ’n rugsak te leef en elke aand op ’n ander plek te slaap, maar ek het myself verras. Dis asof jou liggaam ’n oorlewingsfunksie het.

In die dag het jy baie energie en jy dink net aan alles wat jy vanaand wil doen, maar ná agt uur se stap is jy uitgeput. Die moeilikste was om dan entoesiasties te bly wanneer ek in die aande ons aanlyn-media bestuur het.

Namate ons meer aandag op Facebook gekry het, het mense aangebied dat ons in hul huise, gastehuise en hotelle kan bly, maar in die begin het ons gekamp. Ek dink ons het aan die Weskus meer slange as mense gesien! Daar was wel ’n voertuig wat saam met ons gereis het. Dit het dinge makliker gemaak, want ons hoef nie maande se kos te gedra het nie.

My grootste motivering was ons land se skoonheid en die mense wat ons ontmoet het. Ek was nooit beangs of sonder motivering nie. Nadat ons in Kosibaai gekom het, het ons in die Kosi-mond gesnorkel. Ek kon nie vir ’n meer perfekte einde vir ons avontuur vra nie.

Met CAN DO! Trekking for Trash kon ek uiteindelik ’n verskil maak in die land waarvoor ek lief is. Ons het mense bewus gemaak van die probleme wat ons mooi omgewing bedreig, en ek kon hulle leer omgee daarvoor.”