sr0912redbrief
Diverse

Waaroor praat ons?

Soms is dit oor SARIE en oor joernalis-wees, ander kere oor iets soos positief Suid-Afrikaans en die rol van die vrou, maar dikwels is dit spesifiek oor reik na die sterre. Elke keer het dít my onkant gevang, en kon ek nie help om te wonder nie: Wat ís dit dan met reik na die sterre? Lank het ek hierdie onderwerp netjies gesystap, juis omdat dit só ’n algemene gesegde is dat dit vandag byna geen betekenis meer dra nie.

Gaan kyk ’n bietjie op die internet rond en dán sien jy hoe die mensdom al dekades na willekeur reik na die sterre. Bles Bridges het inderdaad in SA ’n treffer hiermee gehad. Ook Shirley Bassey, wat ons beter ken as die groot stem agter die 007-temalied “Diamonds are Forever”, het ’n no. 1 in Brittanje gehad met “Reach for the Stars”.

Vandag inspireer dit selfs die rappers om ’n slag op te kyk!

Met die VLV van Kaapland se 80ste verjaardag onlangs het hierdie onderwerp weer opgeduik en het ek besluit om die oënskynlike glinster agter dié woorde te gaan soek. Hoe meer ek gelees en gedink het, hoe meer het ek besef hierdie vier woorde omsluit hoop, moontlikhede en inspirasie vir ons elkeen. Net die eenvoudige besef dat alles en enigiets moontlik is. Dit was juis Mark Shuttleworth, ons eerste Afrikaan in die ruimte, wat gesê het: “Ons álmal het drome wat buite bereik voel, maar die wêreld is vol verrassings. Ek glo mense wat reik na die sterre se drome word meer dikwels waar as wat hulle net drome bly . . .”

Maar baie van ons het te bang geword om te droom. Soms uit vrees om onsself teleur te stel, ander kere uit vrees vir mislukking in die oë van die wêreld. Ons sit ons drome so maklik op ys, want ons wéét om hulle waar te maak sal ons ’n pad moet stap. En daardie pad sal ons heel waarskynlik uit ons gemaksone haal en vir ’n ruk dwing in ’n rigting wat onbekend en ongerieflik is.

En dan – wat dan as ons sukses behaal? Die moontlikheid van vervulde drome en om uit te styg is vir baie van ons ewe intimiderend. Want dit kan ’n alleenpad wees en ons besef maar te goed: Saam met nuwe uitdagings kom groter verantwoordelikheid. So, uit vrees vir mislukking, en ironies genoeg, ook vir sukses, bereik baie van ons net ’n deel van ons potensiaal. Presies soos Marianne Williamson sê in haar bekende gedig “Our Deepest Fear”: Our deepest fear is not that we are inadequate. Our deepest fear is that we are powerful beyond measure.

Reik na die sterre is eintlik ’n soort bevestiging dat ons kán. Elkeen van ons. Dat ons ons hoop en drome kán uitleef as ons net daardie ekstra tree gee, en ja, soms daardie sprong waag wanneer die tyd kom. Want doen ons dit nié, krap dit. Êrens hier binne is ’n stemmetjie wat bly sê: Ek ís meer. Om méér te wil wees en meer te wil bied is hoe ons aanmekaargesit is. Soos Marianne se gedig lui: We are all meant to shine, as children do . . .

Van my en my hele SARIE-span: ’n Sprankel-Kersfees en mag jy die sterre van geluk saam met jou dra.

  • http://jzrwactpqkzy.com/ iiaospskp

    CAa5ho xteyzmfwbvko, [url=http://jltagkrlrxfs.com/]jltagkrlrxfs[/url], [link=http://qwihrppkdxed.com/]qwihrppkdxed[/link], http://rksuyisoniob.com/