Diverse

Ware liefde

Geliefdes stuur vir mekaar ’n kaartjie (verkieslik self geskryf), of ’n blom (dit kon maar in die tuin gepluk wees), of ’n lekkertjie met ’n kaartjie en ’n hartjie of wat ook al daarop om liefde, bewondering en sommer net “ek hou van jou” te sê.

Dit word sonder ’n naam gestuur: Die gedagte is dat die ontvanger moet wéét wie se smaak dit is, of sommer net moet raai, of ’n bietjie glimlag en goed voel. En dalk hoop.

Deesdae het dit soos alle feesdae óórgekommersialiseer geraak en die bankiers van bloemiste, juweliers en boetieks is besonder in hul noppies, veral net ná Kersfees. Laat dit dan maar so wees. Buitendien is ek seker niemand sal vir die Ontvanger van Inkomste ’n blom stuur nie.

Maar die liefde: Dit bly ’n geheim. In ’n siniese bui kan ’n mens oor die liefde skryf soos Oscar Wilde oor menslike gesprekke gesê het: “Miljarde woorde word elke dag in een Londense straat gepraat, meestal snert.” Die onsin wat verliefdes met mekaar praat, is verskoonbaar. Hulle praat in tale en in dié konteks is sagte geluide en koerklanke die kommunikasie van romantiek. So ’n paartjie het voor my op die roltrap gestaan: Hy het haar nek liggies gebyt en gesug en sy het sy ore gestreel en hom met ontroerde oë bewonder. Bo-aan die trap het hulle mekaar eenkant onder ’n groterige potplant snakkend omhels.

’n Jong meisie het my gevra: Hoe weet ’n mens met sekerheid watter maat jou pasmaat is? Nie net verlief vir die oomblik nie, maar een wat soos legkaartstukke by jou legkaart inpas? Dat julle twee se legkaart saam nie net sal opbreek nie, of selfs nooit voltooi sal word nie?

Mooi gestel en moeilik om te antwoord. Daar is hope “aspekte” om op te let: selfde agtergrond, kultuur, belangstellings, fisieke aangetrokkenheid, sielsmaats, ens. Maar dis alles hoogstens aanbevelings en nie ’n wet van Mede en Perse nie. Iets meer as dit is aan die werk, ’n sekere chemie, ’n mistieke eenheid van die hart. En selfs dan kan die liefde soms op klipperige voetpaadjies beland, en moet dit sterk genoeg wees om met seer voete anderkant uit te kom.

Maar ek glo nog tot ’n groot mate in die ou liedjie: Some enchanted evening / you may see a stranger / across a quiet room / and somehow you’ll know … Iets van die verwondering van die liefde skuil hierin. My skoonpa het in die ou Suidwes-Afrika geboer en het vrou gesoek. Hy het vir die dominee, wat een maal per kwartaal kom Nagmaal hou het, gevra of hy nie van ’n meisie weet wat bereid sal wees om met hom te trou nie. Die dominee het die naam van my skoonma genoem, wat op Keimoes skoolgehou het. Skoonpa het vir ’n permit aansoek gedoen om na die “Unie” te gaan. Nadat hy lank vir die permit moes wag, kon hy oor die grens gaan (dit was toe Duitse gebied) en die nooi besoek.

Hy is terug en het weer aansoek gedoen vir ’n permit om te gaan kuier. Dit was weer ’n groot gesukkel, en toe hy by my skoonma kom, het hy haar summier gevra om met hom te trou en saam Suidwes toe te gaan. Sy het ja gesê en hulle is op Kalkfontein (die ou Karasburg) getroud. Met háár bietjie spaargeld het Skoonpa Windhoek toe gery en ’n paar karakoelramme gekoop. Dit was die begin van ’n heel florerende boerdery en ware liefde tot die einde.

Ek het eendag vir my skoonma gevra: “Jy het darem baie gewaag. Ek bedoel: Hier kom Koos Visser aan en ses maande daarna kom hy weer en julle trou en jy gee hom sommer ook jou spaargeld …?”

Haar antwoord was dadelik: “Toe ek hom die eerste maal gesien het, het ek gewéét hý is die man na my hart vir die res van my lewe. Máár moenie ’n fout maak nie: Tussen sy eerste en tweede kuier het ek alles oor hom en sy plaas en veral sy familie uitgevind.”

Hierdie antwoord sê baie: Daar is die romantiese én die realistiese, die gevoelens én die feite. Dit is dié balans. Ja, en natuurlik, hulle het die Here gedien.

Maar stuur gerus die blom en kaartjie. En sing: Some enchanted evening …