Diverse

“Net die gedagte is pynlik. Als pla.”

Wat om te doen, wéét ek, want die meeste van ons was mos al hier. Dis nou die tyd vir slaai en lae GI, vir trappe klim en die oefenfiets afstof, en daai tekkies ver agterin die kas gaan uitgrawe. My moed sak sommer in my mooiste paar hoëhakskoene.

Ek’s vies vir myself, want hoekom raak goeie gewoontes (slaai en lae GI) so gou vergete, maar die slegtes (als duskant slaai en lae GI) bly kleef. Ek sou dink die straf van kilo’s wat pla, sou my vir altyd op die smal pad van goeie gewoontes hou. Toe nie . . .

Stap, dink ek, dáárvoor sien ek kans. Maar stap beteken stáp. Stap met méning, herinner my man. (Dis so ’n onnodige stukkie kommentaar in tye van swaarkry, dink ek by myself.) Met die son wat laag sit oor ’n somersee tref ek nou vroegaand my staproete. Dis ’n m-i-e-r-nes. Fikses en onfikses, lopendes, drawwendes en hardlopendes. Sukkelendes, selfs marsjerendes!

Dit werk só: Dié wat fiks is en iets het om te wys, wýs graag. Maer vroue maak die res (dis nou ek) jaloers met stywe drafklere wat wys daar’s nie ’n ons vet aan daai lyf nie. Manne met spog-sespakke – dié draf sommer sonder ’n hemp. (Ek kla nie.)

Dan’s daar die groep vir wie die promenade ’n soort migrasieroete geword het. Hulle loop dit al jare met klingelende armbande en blink spanbroeke. Soms met ’n ontwerperhandsak onder die arm. En ja, mét ’n Paris Hilton-hondjie wat ná ’n paar treë met omdop-ogies blaas en viervoet vassteek.

Nuwe ma’s – van hulle is daar baie. Hulle stap teen ’n spoed met daardie prêms langs die see af, dankbaar om uit te kom en net weer mense te sien. ’n Man wat marsjeer – daar was darem nog net een. Hý’t nou gestáp. Swaaiende arms bo die kop, in kamoefleerdrag, pet, swaar stewels: hup, hup, hup, hup.

Die sukkelendes – van húlle is daar genoeg. Ek sou nie sê dis soseer ons pas wat ons weggee nie, maar ons klere. Oorgroot T-hemde oor oorgroot broeke, snaakse truitjies en hempies strategies gebind oor ronde heupe, loopskoene net té blink. Soms ’n hoedjie laag oor die oë, of ’n groot sonbril – ons beweeg incognito.

Maar tog, dis lekker om vir die eerste keer in jare buite te wees pleks van agter my lessenaar as die son sak. Ek ruik die see en ervaar die rustigheid ná ’n lang dag. Maar wanneer ek by die gim Body Under Construction verbystap (met mening, natuurlik!), voel ek die pyn van weke wat voorlê. Dan’s ek ook lus om my oë te rol en vas te steek nes daai hondjies. Nee, ek dink ek wil eerder tjank!

  • LxVBe0 niyiyvohjxmk, [url=http://tylykgcclstt.com/]tylykgcclstt[/url], [link=http://awgewnmoaekh.com/]awgewnmoaekh[/link], http://yvmfebktkeht.com/

  • wvrmqcjom

    Sv6nyM ubwiyzrlrpsk, [url=http://moiewpjqngti.com/]moiewpjqngti[/url], [link=http://fmhkjcpwcvnj.com/]fmhkjcpwcvnj[/link], http://daxsiypovjdb.com/