sr1003mode_4_r
Diverse

Wat ’n fees! Wat ‘n groot, goue parade, soos Rapport dit tereg genoem het.

By Midrand het die verkeer botstil gaan staan, maar ag wat! niemand het ’n duit omgegee nie, want die dag was een groot seëviering. In Johannesburg kon die grysreën die gees nie demp nie, en ons het trots in groen-en-goud uit vensters gehang en van balkonne “Shosoloza” gedreunsing.

In Soweto het die vuvuzelas vroegoggend gekraai van plesier, en in Houghton het ’n glimlaggende Madiba vir die tweede keer die skitterblink trofee omhoog gehou. In Bloemfontein het ons gedoen wat Suid-Afrikaners doen wanneer hul vreugde geen perke ken nie: Ons het gekuier en gebraai! En in Durban en Port Elizabeth het ons gebrul van plesier elke keer dat die Amabokke-bokke in hul oopdek-bus hul verskyning gemaak het.

Tóé’s dit Kaapstad. “Bakgat Bokke!” het Die Burger se reuse-banier op die Media24-gebou ons manne in groen-en-goud begroet. En ons het toeters geblaas en fees gevier vanaf die Parade, verby die stadsaal, af met Adderleystraat, Langstraat, Loopstraat, al met De Waal-rylaan langs tot by die Nuweland-stadion, die beker se nuwe tuiste. Dankie, het ons vir die Bokke gesê, vir die magic van daardie 80 minute op die veld in Parys. Vir die feit dat ons Suid-Afrikaners – oud en jonk, swart, wit en bruin – weer íéts het om te vier.

Íéts het om op trots te wees.

By SARIE het ons ons vlae (ek dink ons het die laaste 5 in Kaapstad gekoop!) gewaai vir Percy en Bryan en John en Jake. Vir Fourie en Victor; Juan en Bakkies. Vir Os. En ’n glasie geklink op ons wenspan se passie en deursettingsvermoë. Op óns oorwinning. Op Suid-Afrika se goedvoel-storie.

Want ons wéét almal hierdie wen was so nodig soos die reën wat nou, ná ’n lang, droë winter, in Gauteng val. Dis ’n oorwinning so geseënd soos die Suidoos wat Kaapstad weer ’n slag kom skoon waai. Net vir ’n oomblik is negatiwiteit op die agtergrond – misdaad, rentekoerse, Manto, Zuma, vigs – en beleef ons weer ’n gees van eenheid.

Opnuut is daar die besef dat ons in hierdie land kán saamstaan as die wíl daar is. Ja, rugby ís net ’n spel, en die Wêreldbeker is vir seker nie genoeg om ’n nasie blywend saam te snoer nie, maar dis weer ’n begin. Opnuut ’n wegspringplek.

Want dis positiewe ervarings soos dié wat mense laat voel hulle is aan die wenkant. Dis ’n oorwinning soos dié wat aan gewone mense soos ek en jy – van Kaapstad tot Kakamas, Polokwane tot Port Elizabeth – eindelose genot en geluk bring. Iets waaraan daar in hierdie land vir lank ’n tekort was.

Die positiewe sielkunde sê positiewe gebeurtenisse verstewig samehorigheid tussen gemeenskappe en maak ons meer buigbaar in ons denke en minder verdedigend. Ook meer gewillig om kreatiewe oplossings vir ons probleme te vind. Gedeelde vreugde kan weer ’n liggie laat brand. En dít is wat ons Bokke reggekry het: Saam met die trofee het hulle ’n stukkie hoop huis toe gebring.

Groete
 
Michélle van Breda

SARIE Desember 2007