Diverse

Wat’s die woord?

Ek het gelag, gegil, gebewe en gedroom. Iemand sonder inhibisies, sosiale grense en muwwe reëls het reg voor my haar kop verloor en is daarvoor beloon met roem en rykdom. Die res van my week was ’n dwaal.

Deesdae sit ek met ’n loopbaan en ’n leefwyse wat my keer om enige televisiereeks te volg.

Kyk jy ER? vra iemand.

Wat is dit? vra ek.

Kyk jy nie Idols nie? vra iemand.

Nee, wanneer is dit? vra ek.

Nou wat kyk jy dan?

Ek kyk Extreme Makeover: Home Edition, Clean House, Dress My Nest, How Do I Look?, 60 Minute Makeover en Renovate My Family.

Noudat ek daaroor dink, besef ek dis werklikheids-TV, die laagste vorm van vermaak, dis meestal Amerikaans, ’n kultuur wat histerie en oordaad verhef het tot
aspirasies, elke episode het dieselfde resep en dit gaan alles oor uiterlike vertoon. Maar ek huil my morsdood, ek strompel uitgeput en oorrompel na die ketel vir ’n lafenis. Ek is gaar, stukkend, opgesweep en geïnspireer, vasbeslote om die wêreld ’n beter plek te maak.

Die idee van ’n makeover, ’n voor en ’n ná, ’n vinnige, byna onmiddellike ommeswaai of redding, ’n verrassing, ’n regruk, regkom of regtoor bly die opwindendste ding. Om ’n vaal tannie te sien verander in ’n aanskoulike, moderne vrou, ’n vrot blyplek te sien verander in ’n paleis, ’n afskuwelike sitkamer te sien verander in ’n stylvolle beskutting.

Daar sit tien teen een iewers ’n komitee met grade wat reeds die plaaslike term vasgestel en gestempel het, maar ek kon by geen mens uitvind wat die Afrikaanse woord vir makeover is nie. Oordoen? Nee, dis ek met ’n sny koek. Herskape? Nee, ons boer met slagskape. Herversier? Herpoeier? Herstel? Hernu? Herwin? Toeverf? Opkikker? Omdraai? Oortoor? Weerprobeer? Afstof? Red?

’n Makeover is vermoedelik die eerste keer gedoen op televisie of in ’n tydskrif, of dalk op ’n verhoog tydens ’n lesing; dit was vermoedelik net om iets vinnig te demonstreer of te verduidelik – hierdie strepe laat die vertrek groter lyk en hierdie strepe laat die heupe kleiner lyk, so iets. Iewers moes iemand toe in trane uitgebars en gegil het: Ek kan dit nie glo nie, ek is ’n nuwe mens! Iemand anders het toe besef, hiermee maak ek miljoene. Nog iemand het besef, hiermee red ek moontlik lewens.

Nie almal kan iets visualiseer nie, nie almal het die vermoë om orde te skep of iets deeglik te beplan nie, nie almal het die energie om van voor af te begin nie, nie almal het die moed om te erken daar’s probleme of tamheid of verveling of verval nie. Ondersteuning, leiding, strengheid, tydsberekening, verbeelding, nuuskierigheid en hoop is alles nodig om weer asem in ’n dooie ding te blaas. En dan natuurlik, eerlikheid. Goed breek, dit kraak, dit sak af, dit skilfer, dit  verkleur en verloor vorm – of dit aan jou lyf hang of aan die muur, dis op pad. Dis nie sonde of verloëning om ’n bietjie jeugdigheid na te jaag of jouself te verfris nie. ’n Makeover is nie wanneer jy die huis laat sloop of jouself laat opereer nie, dis nie wanneer ’n spook in ’n tiener verander of ’n disko-bal bokant jou kaggel verskyn nie, dis bloot wanneer hardkoppigheid en verwaarlosing eenkant geskuif word.

Witter tande, hare wat kan beweeg, ’n natuurliker lipstiffie, skoene uit hierdie eeu, ’n rusbank sonder ’n kombers, ’n gang sonder ’n blommetjiesmat, ’n slaapkamer sonder ’n televisie, ’n gastekamer sonder atletiekbekers, ’n tuin sonder dwergies, ’n eggenoot sonder ’n pens, ’n sin sonder beskuldigings, vir elkeen is die beginpunt en die afstand na die bestemming anders. Vir sommige is dit nuwe eetgewoontes en ’n gesonder roetine, vir ander ’n haarkleur of netjieser laaie. Vir almal bly dit ’n skoonmaak in die kop en ’n sprong in die hart.