Diverse

Werklikheid-TV

Big Brother het ek wel saam met die res van die land gekyk toe hierdie ek-wys-alles-so-kyk-na-my-programme nog ’n nuutjie in SA was.Toe was daar Idols, wat ek af en toe gesien het.

Vir die res . . . ek vang hulle so nou en dan wanneer ek met die afstandbeheer aan ’t spring is na ’n ander kanaal.

Só het ek darem onlangs die snik-oomblikke van SA’s Got Talent te siene gekry. Ek was aangenaam verras, want die finaliste was uitsonderlik talentvol, en die aankondiging van die wenner ’n ware stukkie lewensdrama.

Nou’s Survivor SA op ons. Dié keer met ons eie celebs – ’n hele reënboognasie van bekendes wat êrens saam op ’n bitter warm, afgeleë eiland gegooi word. Vra ons! SARIE was self vir ’n paar dae op die eiland om van ’n afstand die groep, wat duidelik tot die uiterste gedryf is, in aksie te sien.

Ons weet nou al deelnemers aan hierdie soort uithou-wedstryde wêreldwyd word vooraf getoets en noukeurig gekies. Want hulle moet staande kan bly te midde van fisieke uitdagings en die emosionele spanning van min kos, sleg slaap, elke dag se wind en weer en onderlinge afknouery. Elkeen moet dit op sy eie kan maak, maar veral ook in die groep kan oorleef.

Klink dít nie alte bekend nie? Dis mos die lewe daai!

Hierdie ding van ’n groep wat moet saamwerk – op watter gebied ook al – het my nog altyd gefassineer. Want daar’s niks wat ons so gou ontbloot soos die wisselwerking binne ’n span nie. Dit sê of jy gaan vlieg, val of net voortfladder. Ek het in my baie jare in die joernalistiek uitsonderlike mense ontmoet en ook as kollegas gehad. Mense wat my verstom het met hul talent, hul insigte en hul unieke kreatiwiteit. Maar o wee, gooi hulle saam in ’n groep en jy sien ’n heel ander ding.

Dis juis die groepdinamika wat sommige van ons so gooi. Daar’s ’n ongemak, ’n onwilligheid, sommer selfs ’n vyandigheid om saam te speel en ons talente ook tot die voordeel van die hele groep aan te wend. Dis die eie ek wat tot vervelens toe van belang bly en mettertyd ’n span tot misnoeë kan dryf.

Dan’s daar dié van ons vir wie die groep ’n veilige hawe word. Wat die beskerming van die groep gebruik om te oorleef, en nooit die moed of dryfkrag het om te woeker met eie talente nie. Wat vir die span dus ’n plus kon gewees het, bly ’n frustrerende minus.

En dan is daar mense wat wíl vlieg. Ons kry hulle op elke terrein van die lewe. As mentors, as kollegas, as kennisse, as vriende, as lewensmaats. Hulle kom met hul talente, en veral met hul energie en entoesiasme. Hulle sit hul aanpasbaarheid, leergierigheid en nuuskierigheid op die tafel. Sommer hul humorsin ook. Hulle toon ’n “kan doen”-mentaliteit, wat almal laat besef: Hier kom ’n ding … vir hom of haar, maar ook vir jou en sommer die hele span.

Dis dán wanneer uitdagings op ons pad in geleenthede omskep word en die negatiewe in die positiewe omtower word. Dís nou maar eenmaal die les van die lewe: Ons loop nie die pad alleen nie. Waar ons ook al kom, is ons deel van ’n span. Of dit nou in ons loopbaan of in ons verhoudings is. En dis wanneer ons werklik bydra tot daardie bruisende dinamika dat ons self leer vlieg en ons almal om ons vlerke gee.

Dís die eintlike geheim van oorlewing.

  • xGXpw9 jlqihxmnyiyt, [url=http://brncctggvofl.com/]brncctggvofl[/url], [link=http://spckvxntdani.com/]spckvxntdani[/link], http://lezdkqezuuit.com/

  • L9JSp3 nedzfumivggp, [url=http://xwgnwhpuqcqd.com/]xwgnwhpuqcqd[/url], [link=http://xqmudglhugde.com/]xqmudglhugde[/link], http://rrtpfohxmtix.com/

  • k4mk7z rgjxtojnsofj, [url=http://wljnzlruzjme.com/]wljnzlruzjme[/url], [link=http://olyfwzonqzez.com/]olyfwzonqzez[/link], http://xhmxsofpjjko.com/