Diverse

Wie se gier?

Goed, kleremodes kan meesal teruggevoer word na ontwerpers en húl giere (en dis al klaar ’n geheimenis), maar wat van die ander? (Ek het darem een keer by ’n modehuis se groot modevertoning saam met Christelle Malan gesit en vir die vrou in bevel gesê dié reeks sal nie verkoop nie. Dit hét nie. Mense word nie altyd gevang nie.)

Toe ek ’n kind was, het ek vir my pa gevra hoekom daar nie wit karre verkoop word nie. Wit is onprakties, het hy beduie. Later het ek ’n paar wit karre gehad en dit nogal heel prakties en aantreklik gevind. Maar wit is al weer nie meer hoogmode in karre nie.

’n Paar jaar gelede wou ek ’n swart kar hê. Die verkoopsvrou met wie ek gereeld sake doen, het my afgeraai. “Ek kan vir jou swart kry, maar as jy hom wil inruil, sukkel jy om kopers te kry.” Ek het toe ’n silwer nommer gekies, een van die derduisende, hoewel dié kleurgier se gewildheid blykbaar deesdae aan die taan is. Nou is dit weer swart. In Johannesburg is elke tweede kar pikswart, groot en klein. Oorle Henry Ford sou baie tevrede gewees het. Hy het mos gesê dat jy ’n Ford in enige kleur kan kry, solank dit swart is.

Laat verlede jaar het ek by einste my verkoopsvrou ’n swart kar gekoop, swart met so ’n effense spikkeltjie silwer wat ek eers as stof aangesien het! Nee, het sy verduidelik, dis net om die swart so ’n rapsie anders te laat lyk.

Maar wie besluit wanneer koop mense swart/wit/silwer karre? Of rooi, of vlootblou (ook ’n mode toe ek ’n kind was)? Die vervaardigers of die mense, of dalk ’n kombinasie? Dat ’n kleur net op ’n dag begin taan om jare daarna weer hoogmode te wees?

In Johannesburg verf mense dikwels hul huise, veral troshuise, “aardkleure”. Wie het op dié aaklige skakerings besluit? Hulle vertel my dis prakties. Maar die Grieke verf hul huise en kerke wit met blou dakkies – lieflik – en hulle is tog ook praktiese mense. Ons woon in Afrika, sê ’n kunstenaar, dáárdie is Mediterreens. Goed, maar waarom bou ons dan huise in trosse en geboue in Toskaanse of Spaanse of Franse styl, of met Griekse pilare?

My ma het my ouma se lieflike, klassieke meubels by Bloom gaan inruil en so ’n vet, oordonderende sitkamerstel met groot stoele en ’n bank gekoop. Almal het sulkes gekoop. Ek het dié tipe meubels weer in Elvis Presley se huis in Memphis, Tennessee, gesien. (Ek wou half tuis voel!) Maar vandag versamel mense ouma se meubels en onlangs was ek in ’n huis waar moderne weergawes daarvan staan. Ouma kom weer. Maar wie bepaal die gier?

Toe ek ’n kind was, het ek met ’n sak vol albasters skool toe gegaan. Net om te sien dat kennetjie oornag die spel geword het en albasters verdwyn het. Soos met die hoelahoepel, die skaatsplank wat ’n paar jaar gelede onder elke kind se voete was, of die skopfietsie, of die tekkies met liggies aan … Terloops, speel mense nog putt-putt, oftewel set-set?

Almal het geskyn en verdwyn. Maar ek het my lewe lank ’n aweregse wantroue in goeters wat almal doen of almal koop of almal mee spog om “in” te wees. Soos die sogenaamde Facebook: Jy plaas jou lewensbesonderhede op ’n eie klein webwerf en soek so vriende op of wat ook al. Nou verskyn daar oral waarskuwings dat skelms jou met jou Facebook kan kaal steel. Net soos aandele: As almal skielik oornag aandele koop en sogenaamde “makelaars” jou van alle kante met drome van rykdom bestook, is dit tyd om eers terug te sit. Dis ook ’n gier, maar eintlik ’n gierigheid en dus ’n ander storie.

Ek wil-wil deesdae ook ’n ander gier bemerk wat so effens mode word: Om “die kerk” met “nuwe denke” as ’n mislukking te wil afskryf, geloof as bygeloof en God as ’n mite. Dis nie nuut nie: Hierdie gier steek elke paar dekades, reg vanaf die eerste eeu n.C., kop uit. En dan kom “die kerk” maar weer en mense soek God ook maar weer. Want mense mag giere hê, maar geen menslike redenasie of gier sal God uit sy plek stoot nie.