Diverse

Wit hiasinte

Die Shiraz, Baloetsj, Afgaan, Abedeh, Ferragan (veral in fyn sy soos ek dit by die groot mark in Istanboel gesien het – en toe maar ’n goedkoper klein sy-Baloetsj in my koffer huis toe gevat het) en selfs Russiese matte wat ek in my kantoor gehad het. Ek is geen kenner nie, maar veral toe ek bloedjonk was, het dié goed my getrek soos duisend magnete.

Ek het vriende gemaak met ’n ouer Kaapse Moslem wat met die matte gesmous het en gereeld op sy togte by ons kom oorbly het. Hy het sy Ford-bakkie en waentjie in die agterplaas van die pastorie getrek en dan het ons matte gesels en gekuier en die wêreld se probleme opgelos. Gewoonlik het hy alles uitgepak vir daardie besondere smoustoggie en ek kon my hand oor die sagte weefwerk streel en die knope bevoel. Soms het hy ’n mat aan my verkoop en het ek hom twaalf vooruit gedateerde tjeks gegee.

Op ’n keer het Rina ’n gemeente-onthaal gereël en hy het die mure en die vloer van die ou stadsaaltjie op Albertinia letterlik met matte oortrek. Daar was seker al beter gemeentelike onthale, maar nooit weer een in so ’n omgewing van ryk geskakeerde skoonheid nie. Ná die tyd het hy en sy assistent gewoon die matte opgetel en afgehaal, dit afgestof en in die waentjie gelaai. Ek het gevra om te help skoonmaak en hy het effe geïrriteerd gesê dis sy voorreg en hy was net bly dat hy dit self so kon sien.

Gelukkig het ek vroeg in my lewe ’n Japannese spreuk gehoor wat nog altyd by my weerklink: Wit hiasinte vir die een jen en brood vir die ander jen. ’n Ander manier van sê dat jy nie van brood alleen kan lewe nie. Daar is die kunste, die poësie, die mooi meubelstuk, formidabele boeke, ver plekke, modes, ’n tikkie rooi vir die lippe . . . ’n tyd en noodsaak vir blomme.

Natuurlik “mors” ’n mens geld. Ek kon destyds die matgeld aan iets beters en nuttigers bestee het. Soos Judas vir Jesus bestraf het oor die armes. Maar ek wens ek het kiekies gehad van daardie stadsaaltjie wat vir ’n dag soos ’n binnevertrek van ’n ornate paleis gelyk het. Gelukkig “sien” ek dit steeds in my gedagtes.

Ek weet ons lewe in ’n tyd van te veel skuld en gemaakte rykdom aan die een kant en te groot armoede aan die ander kant. Ek besef dis moeilike tye, met dienste wat agteruitgaan en brood wat duurder word.

Maar die spreuk: Wit hiasinte vir die een jen en brood vir die ander jen is nie deur die superrykes van die wêreld uitgedink nie. Dit kom van ’n ou Japannese digter wat geweet het twee jen is bitter min. Hy het egter ook geweet die helfte van sy geld moet vir blomme, sielskos, wees. Ek het immers ou kunstenaars in Kioto dopgehou waar hulle die pragtigste tekeninge gemaak het sonder om hulle aan lastige omstanders te steur – geheel weg in hul byna Stoïsynse wêreld, maar omring deur takke kersiebloeisels. Ek weet nie hoeveel hulle betaal word vir hul poësie in kleur nie. Ook nie of dit vir hulle saak maak nie. In hul kultuur is die skoonheid ’n leefwyse.

Ja, hulle is ook verbete en selfs wrede vegters, maar adm. Jamamoto, die man wat die Amerikaanse vloot by Pearl Harbor aangeval het, het verse geskryf terwyl hy geweet het sy oorwinning sal uitloop op ’n totale chaos: In bloeisel vandag / dan verstrooi / lewe is soos ’n skaars veldblom / Waarom kan die geur nie / vir altyd duur nie?

Die hoë militêr en die fyn vers, die oorlog en beskawing, die kanonne en skoonheid, die geur en verganklikheid. Wit hiasinte vir die een jen . . . Dís vir my beskawing.

Maar terug by die Oosterse matte: Ek het een in die oog en meet en pas. Ek is bevrees dit sal een mat wat ek destyds met twaalf tjeks gekoop het, moet vervang. Dié mat het te veel son gekry en het lelik verbleik.

Ja, ek weet Jesus het nie van matte gepraat nie, maar Hy het seker baie goeie matte in sy tyd geken. Ek weet Hy het gesê ons moet na die blomme van die veld kyk. Skoonheid is verganklik. “Why can’t the fragrance / last forever?”