Diverse

Wortels

Die idee was om een van die slot-gesellighede van my besonderse ou skool, Paarl Gimnasium, se 150ste feesjaar by te woon. Die aand was ’n statige kultuur-belewenis en ek en ’n paar ander oues (én darem sterk jonges ook, soos Springbokke Schalk Burger, Balie Swart en Jean de Villiers) is daar weg met pragtige goue medaljes.

Ek spog onbeskaamd, want om so deur jou beroemde ou skool erken te word is soos om tot ridder geslaan te word. (Ek moet egter beken dat daar ’n paar kandidate was wie se merkwaardige prestasies my laat klein voel het: Dr. Sydney Cywes, byvoorbeeld, terselfdertyd wêreldbekende kinderchirurg, wêreldbekende rooskenner, wêreldbekende disa-kweker,’n stil man met internasionale toekennings langer as twee “Laaste sê”-rubrieke in SARIE.)

Spesiaal het ek in ’n gastehuis in Meulstraat gaan bly, die straat waar ek gebore is en groot geword het. Chérie was grootoog vir die naweek saam, maar moes terug na haar praktyk in Johannesburg en ek het van huis tot huis gedwaal. Saans het ek gelê en luister hoe die brulpaddas by ’n poeletjie in die agterplaas baljaar en tarentale in die bome roep. Soggens het die duiwe my wakker gemaak en die bekende oggendkilte van Oktober het my na ’n trui laat gryp.

Ek het by my niggies gaan eet; saam met Fritz Joubert gekuier; ou familiegrafte opgesoek (en daar is dosyne); ’n klein seremonie by Rawsonville waargeneem (ek het nóg ’n vriend, Z.B. du Toit van Rapport, se as by die Du Toit’s se familiekerkhof besorg); ’n jeugdige foto van my ouma Meyer (gebore De Villiers) gevind; ’n skoolopstel van my ouma De Villiers (gebore Retief) te sien gekry waarvoor sy goeie punte by mnr. C.P. Hoogenhout, die Taalman, gekry het; my oupa- en oumagrootjie (gebore Hugo: “Gideons dochter als van de Boven Paarl”) se foto by familie betrag; my saans verkyk aan die berge en hoe hulle verkleur tot ’n diep pers voor die sagte donker oor die vallei kom lê.

Dus: Ek het weer kind geword, soos toe die akkerbome liggroen uitgebot het en die ryp koejawels van die bome begin val het. My rykdom is die Paarl en Gim en al die emosies wat dit wek. Daarmee kan ’n mens spog, dink ek. My ouma Meyer sou in haar Pêrelse Afrikaans gesê het dis ons pedigree.

Maar Meulstraat … Vossie, ’n eiendomsman en ernstige geselsmaat, het my vertel dat dié straat nou as van die ghrêndste in die Paarl beskou word, met die ou huise en herehuise uit die jaar toet. Geen wonder nie: Dit loop ál met die voet van die berg langs met draaie en swaaie en ou mure en bome wat nog staan uit my kinderdae en tóé al geslagte oud was.

’n Mens wórd jou omgewing en jou kinderdae stempel jou en stamp jou soms én bind jou as dit goed was. Dis jou wortels. As jy in harde grond opgegroei het, word jy óf ’n sukses óf verwelk óf oorleef net-net. Ditto in genadige grond van geslagte soos die Boland. Wee jou as jy dink die harde wêreld is so. En wee jou as jy dink jy word sommer aanvaar. Maar jou gene onthou: Ook van swaarkry in daardie einste valleie, eeue gelede, toe voorsate uit Frankryk hier aangekom het met net die klere aan hul liggaam.

Soos ek met Meulstraat langs geloop het, het ek stemme gehoor in my verbeelding, en geluide: die viskar se beuel Vrydae, Oom Cloete met sy klok op die vleiskar en die huisvroue wat hul vleis vir die dag kom uitsoek, en Oom Warnich met die vulliskar wat met sy perd praat en die straat skoongehou het van bondels akkerblare.

Ek het op ’n dag as klein kind by die skool weggebly en die hele tyd saam met Oom Warnich gery. ’n Heerlike dag in die son met jou perd wat rus-rus stap en die akkerblare wat val en ’n koffiebottel en ’n blik toebroodjies het vir my na ’n belowende loopbaan gelyk, voor Ma dit stopgesit het.

Ek was gelukkig daardie jare, ja. Ek het in my lewe ver geswerf. Maar is ek gelukkiger as wat die vredige Oom Warnich op sy vulliskar was? Ek weet nie, maar gee hom ’n goue medalje, veral omdat hy my leer bid en dank het buite in die oopte oor toebroodjies met Marmite op.