chinese_mr_lo
Eie stories

Kerrie en poeding … in Chinese styl

Hy wag ons in voor sy woonstel-toring in ’n gedeelte van Hong Kong waar min toeriste kom. ’n Kort man in ’n T-hemp, bril en kamoefleer-pet. Sy bak bene en tekkies loer by sy hoogwater-denimjeans uit. ’n Grys bakkebaardjie omkring sy hartlike, gelerige glimlag.

“Welcome to my world!” begroet mnr. Lo, die Direkteur van Skole, ons.

Ons word begelei na een van vele restaurante in die straat. Binne vind ons plastiekstoele sonder rugleunings, raserige gesinne, helder neonligte, en groot spyskaarte wat die mure bedek. Niks omtrent die plek is aptytwekkend nie.

Vier glase flou tee staan en wag op ’n tafel wat genadiglik met wit porselein eetgerei gedek is.

Mnr. Lo druk sy “chopsticks” in sy tee en verduidelik ons moet dit so ontsmet. Dan bring hy ’n bottel whisky tevoorskyn … uit sy rugsak, en skink sonder om ons ’n keuse te gee, ons glase halfvol whisky. Hy kap sy glas twee keer op die tafel, lig dit hoog  en bulder luidkeels “cheerio”. Ons ego sy “cheerio” verbouereerd en wonder of hy weet dat hy tot siens sê en dat die regte woord eintlik “cheers” is.

Dan vra hy of ons allergies is vir enigiets en ek beteuel my instink wat wil skreeu: “Ja, ek is allergies vir hond, slang en enige snaakse liggaamsdele van diere.”

“Maar vanaand eet ons kerrie, Chinese styl,” kondig hy aan. Klein sopkommetjies arriveer op die tafel. Daar dryf ’n paar vaalgekookte groente in die sop, wat vir my soos seeplose skottelgoedwater lyk. Ek hou asem op, knyp oë toe en slurp versigtig. Verligting spoel in my keel af, dit proe heel smaaklik.

Ek probeer slegs op my smaaksintuig konsentreer. Burp en slurp. So noem ons Suid-Afrikaanse expats die Chinese sop, want behalwe vir die slurp-gedeelte, is eersgenoemde ’n gewoonte wat vrylik en walglik deur die ouer Chinese beoefen word.

Ons het skaars die helfte van die sop geëet toe die volgende gereg stylloos op die tafel neergeplak word. Pita-broodjies, gebraaide rys en baba-garnale, grasuie en “cod liver” (uit Alaska), gemeng in roereiers.

Ek proe minder versigtig en is weer eens aangenaam verras met die smaak. Mnr. Lo se glasie klink weer twee keer op die tafel en hierdie keer gryp ek my glas net betyds om saam te “cheerio” te sê.

Gereg nr. 3 word in twee dofgeskuurde metaalbakkie voorgesit. Die smaaklike kerrie staan suksesvol in vir die gebrek aan styl en dekor.

Ons het skaars die laaste happie gesluk toe mnr. Lo sy rugsak gryp en opstaan. Ons moet plek maak vir wagtende kliënte, besef ons! Die flinke kelner word nie beloon met ’n fooi nie, want dit word net nie in hierdie tradisionele Chinese restaurante gedoen nie. Dis familie-besighede.

Ons gasheer lei ons na sy woonstel om die hoek, met die waarskuwing dat dit baie klein is. ’n Prentjie van ’n kitsch, volgepakte, bedompige woonstel in skreeuende kleure tower gruwelik in my gedagtes op. Ons trek ons skoene uit en plaas dit op ’n houtrakkie by die ingang van die woonstel. Hy woon al baie jare alleen hier, nooit getrou nie.

Die aangename aroma van egte leer, meubelolie en boeke oorweldig ons. Pragtige antieke kersiehout-meubels, twee mure gevul met rakke vol boeke en edelgesteentes verwelkom ons.

“Hierdie gladde swart klip is ’n meteoriet wat na my geroep het uit die wit sand van die Gobi-woestyn,” sê hy. Daar is ’n groot skilpaddop-klip uit Argentinië.

En toe sien ek die tieroog uit die Noord-Kaap. Ek tel dit met ’n ligte skok op, vou dit in my hande toe en druk dit styf teen my hart – ’n stukkie van my land, ietsie bekends te midde van die vreemde, onbekende kultuur in hierdie verre land. My oog val ook op ’n Bybel, en my vraag word beantwoord met “ja, ek is ’n Christen, ’n ouderling in die kerk”.

Ons word genooi om op rugleuninglose antieke houtstoeltjies te sit en ek stuur ’n dankgebed op vir ons Westerse sitkamerbanke waarop jy kan neerval en insink. Pragtige foto’s in houtrame vul nog ’n muur, als ons gasheer se werke.

“Can you see the beauty in simplicity?” vra hy.

Teeblare word in ’nronde Chinese teepot van terracotta gegooi en onder ons neuse deurgewerk om die reuksintuig te stimuleer. Nadat kookwater daarop gegooi is, word dit in dik glasies geskink. Ons teug eerbiedig aan die tee, onder die soet klanke van Andrea Bocelli. 

Dit is asof mnr. Lo gewag het dat my oë na die glaskabinet dwaal, waarin baie ou kameras en lense bewaar word. Hy staan op en haal ’n groot fotografie-boek van die rak af. ’n Papiertjie help hom om dit onmiddellik op die regte plek oop te slaan. Met ’n ingehoue trotse glimlag wys hy na agt foto’s wat hy geneem het en wat in 1994 in hierdie boek verskyn het.

Die onderwerpe van sy foto’s is kunstig, die werk van ’n professionele fotograaf met kristalhelder fokus, diepte, kreatiewe lyne, vorms, teksture en kleure. Hy beweer met ’n trek van minagting op sy gesig dat digitale kameras die kuns uit fotografie gehaal het. “Fotograwe gebruik dit soos masjiengewere en beplan nie meer hul komposisies nie.” Ek knik skuldig.

Toe haal hy ’n pak vergrotings uit en neem ons op ’n visuele toer deur antieke China. Afbeeldings van armoedige kaalkopseuntjies en vroue met kleurryke hooftooisels in bonkige rokke in die berge van Tibet. Kersiebloeisels teen sneeubedekte hange, perderesies in die berge van Kambodja. Elke foto vertel sy eie storie van mense wat eenvoudige lewens in vergete dorpies lei. 

“Die inwoners van hierdie gehuggie in die berge het my ‘Mountain dog’ gedoop,” vertel hy. “Ek was vir drie maande daar om foto’s te neem en het toe sommer vir die kinders van die omgewing ’n skool gebou. Dit bestaan steeds.”

Vir twee kort ure bewonder ons asemrowende oomblikke, vasgevang op sy foto’s. Meesterstukke van ’n onbekende fotograaf wat op ’n boekrak in een van tweemiljoen woonstelle lê.

Om halftwaalf die nag neem ons die hysbak straat toe. Dit kook nog met lewe. Ons hoor dis ’n gebruik vir families om snags van elfuur tot twee-uur poeding te gaan eet. Verbeel jou, restaurante wat spesialiseer in poeding! Roomys gebak in deeg pleks van gebakte Jan Ellis-poeding! Roomys en wafels met mango, nie stroop nie. ’n Moeilike keuse.

Ons maak weer plek vir nog gaste en “Mountain dog” sien ons by die bushalte af. Hy verdwyn stadig om die hoek terug na sy stukkie selfgeskepte hemel in ’n beton-segment. Vol van sy kuns, klippe, literatuur en musiekskatte, waar hy nou alleen die glase gaan uitspoel en die foto’s gaan wegpak.

Celia Claase, Hong Kong