Eie stories

Aanvaar jou gay-kind

Vandag sit ek met trane in my oë en skryf. Ek wil met die samelewing gesels. Vrydag het my kinders langs die oop graf van ‘n medeskolier, X, gestaan. Selfmoord. Hy was 16. 

Ek huil oor ‘n kind wat so verward was in sy eie identiteitskrisis. Ek huil oor ‘n kind was verworpe gevoel het deur sy ouers, sy maats en sy kêrel. Ek huil oor ‘n ander kind wat aan my erken het X was sy beste vriend. “Tannie, tot ek uitgevind het dat X gay is. Toe laat ek die vriendskap doodloop.”

Ek huil oor ‘n ma wat nooit agtergekom het haar kind is gay nie. Hoe gebeur so iets? Gaan ons, as ouers, dan blind deur die lewe? Wíl ons dit net nie raaksien nie, want “wat gaan die familie sê, ons vriende?”

Ek huil oor ‘n kind wat al soveel keer tevore om hulp uitgeroep het deur sy eie lewe te probeer neem, net om elke keer te misluk. Tot ‘n week gelede.

Hierdie keer het hy niemand vooraf gewaarsku met ‘n SMS of ‘n briefie nie.

Kan jy jou indink hoe verskriklik eensaam, verward en verstote hierdie kind moes gevoel het om so ‘n stap te moes neem? Hoe kan ons, as ouers, nog met skille op ons oë deur die lewe gaan, en sê “dis ‘n verskriklike sonde om gay te wees”?

Aanvaar jou kind. Punt. Jy hoef nie die gay-wees te aanvaar. Maar wees lief vir jou kind en verseker hom van jou liefde en van sy veiligheid by jóú. Ons, as ouers is so bang dat ons seuns as sissies en gay sal uitdraai, en dikwels hoor ons “manne mag nie huil nie.”

Ek dink as meer manne huil, sal daar minder manne wees wees wat hul woede op hul vroue uitslaan en wat hul sorge in die Coke- en brandewynglas verdrink. En ja, laat jy wat sonder sonde is, dan die eerste klip optel en gooi na hierdie verwarde en verstote tiener.

En ek sit en tjank oor ‘n kind wat ek nie eers geken het nie, omdat ons in ‘n samelewing grootword wat belaglike reëls en normes vir ons voorhou.

X, ek hou jou styf in my hart, my kind. Al is dit nou te laat vir jou. Ek beloof ek sal my kinders grootmaak en leer om alle mense te aanvaar en te probeer verstaan. Ek sal hulle leer om empatie te hê. Simpatie ook, maar empatie, beslis.

Lisa, Gauteng