cleavage_clinton_lubbe
Eie stories

Affairs met bekendes: Wat dryf die ander vrou?

Lindi Koch* (25), ‘n winkelbestuurder, is byna voor in die ure lange ry by een van Sandton se duurste nagklubs waar toegangsgeld vanaand R300 is. Dis bibberweer,maar sy het ‘n modieuse liggrys rokkie met ‘n lae hals en knielengte-stewels aan.

Nee, sy kry nie koud nie, sê sy, en dis gelukkig warm binne. Sy weet, want sy hang gereeld in dié klub uit waar bekende sokkersterre vanaand tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi kuier.

“Ons kom baie hiernatoe en daar’s die meeste aande ‘n bekende.Dis mos pret om saam met sterre te kuier!” verduidelik Lindi.

Hoewel dit dikwels ‘n negatiewe konnotasie het, noem sy haarself ‘n groupie, iemand wat graag rondom sterre uithang. “Dit pla my nie. Ek dink die meeste meisies is eintlik groupies, al wil hulle dit nie erken nie. Wie het nog nooit gedroom oor ‘n beroemde man nie?”

Lindi het nog nie ‘n verhouding met ‘n bekende man aangeknoop wat getroud is nie, maar sy is dalk net een stappie verwyder van ‘n rits vroue wat onlangs in die media beken het dat hulle dit wél gedoen het. Die Springbokslot Andries Bekker is op kamera betrap waar hy alte liefies is met ‘n ander vrou skaars twee jaar nadat hy getroud is.

Oud-Bok Joost van der Westhuizen was in ‘n seksvideo-skandaal met ‘n ontkleedanseres en die voormalige SA hoogspring-kampioen Charmaine Weavers het toe vertel hy het met háár ook ‘n seksuele verhouding gehad terwyl hy met sy eerste vrou, Marlene, en later met Amor, getroud was. Charmaine wil nie weer daaroor praat nie.

“Ek is nou in ‘n verhouding met Corrie Sanders [die bokser],” sê sy aan SARIE, “en ons het besluit ons wil dit eerder vergeet en aanbeweeg.”

Die gholfspeler Tiger Woods se affairs het die wêreld geskud en die sokkersterre Benni McCarthy (getroud) en Rowen Fernández (in ‘n langtermyn-verhouding) was onlangs in die pekel oor ‘n laatnag-kuiery met vroue in hul hotelkamer. Daar is gegis dat dit die eintlike rede vir hul weglating uit Bafana Bafana se finale Wêreldbekergroep was.

Dis die manne, maar wie is die vrou wat haarself in só ‘n verhouding verwikkel kry, waar haar liefdesgeheime voor die wêreld oopgevlek kan word en sy daarna gebrandmerk is as “die ander vrou”? Is sy anders as ek en jy?

Kan dit ons ook oorkom?

Lindi erken sy het al aktief bekende mans in die Sandtonse klub uitgesoek en sê eerlik sy sal graag ‘n verhouding met iemand bekend wil aanknoop.

“Dis nie asof ek hulle oral agtervolg en desperaat is nie,maar ek en my vriendinne kuier in dié kringe en bekende mans is natuurlik die beste vangs in die bondel,” sê sy.

Die TV-aanbieder Loui Fish, wat elf jaar met die sokkerster Mark Fish getroud was, sê groupies soos Lindi is deel van enige sportster se lewe. Voor Mark het sy ook twee jaar met die oud-Springbokvleuel James Small uitgegaan. Sy het hom as jong model deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Terwyl sy saam met Mark was, het sy “reeks-skattejagters” teëgekomwat van sportster na sportster rondspring – al moes hulle beslis vooraf in die media gelees het dié mans is getroud.

“Ek kon hulle naderhand maklik raaksien. Hul oë flikker sommer so as Mark naderkom. Hulle het soms fisiek tussen my en hom ingedruk om naby hom te wees. Dít terwyl die hele land geweet het ons is getroud en het twee kinders.”

Biologie se skuld?

Lindi se aangetrokkenheid tot bekende mans is glad nie ongewoon nie, sê Cheryl Sol, ‘n Durbanse sielkundige. “Mans wat invloedryk voorkom, is gewoonlik aantreklik vir vroue. Biologies maak dit sin, want ‘n vrou is geneties geprogrammeer om ‘n maat te soek wat haar oorlewing kan waarborg en sterk gene na haar kinders sal oordra.

“Al die publisiteit laat ons vandag glo bekende mans is slimmer, meer pret en interessanter as ander mense en dat hulle ‘n luukse lewenstyl aan hul maats kan bied.”

Dr. Claire Rockliffe-Fidler, ‘n sielkundige en seksterapeut van Kaapstad, stem saam. Nes mans die beste maat agternasit, sê sy, is vroue ook gemaak om die beste man uit te soek. Sommige vroue stop net nie by die duidelike grense, soos ‘n huwelik

Mans en vroue verskil egter wanneer dit by sportsterre kom. Gill Taylor, aan die hoof van die Instituut vir
Sportwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad seMacsteel Maestros-program om vir sportsterre lewensvaardighede te leer, sê dit gebeur minder dikwels dat sportvroue só verafgod word deur die teenoorgestelde geslag.

“Vir mans is ‘n sterk, onafhanklike sportvrou nie die tipiese trofee-maat nie. Maar vir ‘n vrou is só ‘n man ‘n
prys, iets om oor te spog.” Boonop is baie vroue op soek na die ridder op die wit perd uit kleintyd se sprokies, sê dr. Eugene Viljoen, ‘n Pretoriase sielkundige.

“Dalk het die vrou wat maklik voor ‘n bekende swig, net te veel sprokies gehoor waarin die prins haar sal wegvoer van ‘n eensame lewe of verwerping.”

Hoe werk haar kop?
Is dit dus ‘n vrou met ‘n lae selfbeeld wat ‘n getroude ster sal agternasit?
Claire dink so.
“Vir iemand wat ‘n lae dunk van haarself het, is ‘n verhouding met ‘n bekende ‘n groot ego-streling.Dit laat haar waarskynlik baie magtig voel, veral op ‘n seksuele vlak.

“Dis egter ironies dat so ‘n vrou juis dié moeilike opsie kies, want dis ‘n resep vir mislukking, wat dan net haar selfbeeldprobleme sal vererger,” sê sy. Adele Romanis, ‘n Johannesburgse sielkundige, sê dis moeilik om te raai wat presies ‘n vrou sal aanspoor om ‘n verhouding met ‘n bekende getroude man te gaan soek, maar sy word moontlik gedryf deur die adrenalien van die uitdaging en haar drome van roem of geld en duur geskenke.

“Sy voel natuurlik bevoorreg om in sy geselskap te wees.Hy behandel haar ook spesiaal. Sy glo sy is gemaklik met net ‘n seksuele verhouding,maar hoop sekerlik dit loop uit op meer.”

Eugene sê die psigiese dryfvere is waarskynlik sterker as die finansiële. Sy voel moontlik magteloos op ander gebiede van haar lewe en die mag wat ‘n bekende mens het, laat haar van die werklikheid ontsnap deur assosiasie. En sy geniet moontlik ook haar vriende se bewondering.

Wat dan van die vrou met wie die bekende man getroud is? Dink “die
ander vrou” ooit aan háár?
“Die soort vrou wat met opset uitgaan om ‘n sportster in haar net te kry dink net aan wat sy daaruit kan kry,”meen Gill.

“Dis ‘n lekker selfbeeld-hupstoot as sy hom vang en die geheimsinnigheid maak dit
opwindender.”

“Sy sal dus ‘n kansvatter wees – die soort mens wat perke minag,” sê Adele. Navorsing bevestig dit. Dr. David Schmitt, hoof van die Bradleyuniversiteit in die VSA se sielkundedepartement, het ‘n studie oor maatdiewery onder byna 17 000 mense in 53 lande gedoen. Dit het gewys die persoon wat ‘n ander se maat probeer afvry, is gewoonlik ‘n ekstrovert, onsimpatiek, ontrou en nie baie pligsgetrou in ander dele van hul lewe nie.

Maar dit gebeur darem nie altyd dat vroue absoluut daarop uit is om bekende mans te verlei nie, glo Gill. Meer dikwels is dit groepe vriendinne wat partytjies of klubs uitsoek waar sportsterre kuier omdat dit pret is om in dié kringe rond te hang. Hulle is dan op die regte plek op die regte tyd, ontmoet die
ster en besluit om hul flikkers te gooi.

Loui Fish meen groupies is aangetrokke tot spelers se bekendheid, geld en invloed – meer as tot die sterre self.
“Sou al die sportsterre só baie aandag van vroue gekry het as hulle in McDonald’s gewerk het? Ek dink nie so nie.”

Simptoom van ons samelewing

Al die media-aandag speel beslis ‘n rol in die baie buite-egtelike verhoudings met bekendes, sê Adele. Bekende mans is immers bekend omdat hulle so dikwels in die kollig is.

En vroue raak maklik op bekendes verlief omdat hulle reeds so baie van hulle hoor of lees, sê Claire. Die moderne vrou is ook seksueel meer liberaal en vry om haar drome aktief na te streef, sê Adele: “Die samelewing se respek vir perke het verminder en daarom word buiteegtelike verhoudings vandag byna genormaliseer. En die minnares dink dalk die kans is groter dat die man sy vrou vir haar sal los, want die huwelik word deur baie mense nie meer as ‘n lewenslange instelling geag nie.”

Die hartseer is egter dat dié meisies se fantasieë oor hul sterre nie naastenby met die werklikheid strook nie, sê Loui, wat met hul egskeiding Mark van verskeie buite-egtelike verhoudings beskuldig het. “Jong meisies dink dis ‘n sprokieslewe om met ‘n sportster getroud te wees, maar dis moeilik.

Hulle is min by die huis en jy wonder altyd of hulle getrou bly.”

Voor jy neerkyk . . .

“Maar onthou,” sê Cheryl, “dit vat twee gewillige partye om ‘n buite-egtelike verhouding te hê, so dis nie reg om net ‘die ander vrou’ die skuld te gee nie. Daar is ook ‘n man wat óf verlei wil word óf self die verleiwerk doen.
“Die bekende vra sy aanhangers om verskoning en skep dan ‘n bietjie goeie publisiteit deur weer as die familieman te probeer voorkom. Die vrou gaan net altyd bekend wees as die gevoellose ‘dief’wat by hom geslaap het.”

Die man is beslis nie ‘n “hulpelose gevangene”nie. “Veral in die geval van bekende mans, wat die dryfkrag en invloed het om hul lewe te stuur in die rigting wat hulle wil,” sê Cheryl. Lindi beaam dit. Sy het nog nie ‘n verhouding met iemand bekend gehad nie, maar die sterre wat sy al ontmoet het, was beslis nie skugter nie.

“Ek het hier een aand ‘n akteur gesien en langs hom gaan dans. Hy’t later met my begin praat en toe vir my ‘n drankie gekoop.” Dié akteur was nie in ‘n verhouding nie, maar Lindi sê dit sou haar nie gepla het as hy was nie. “Ek sou jammer voel vir sy meisie,maar ek kan nie ‘n man van sy vrou wegvat as hy nie weggevat wíl word nie. Dit werk oral só, nie net met bekende mans nie. As hy vir my gaan, is hy mos nie gelukkig saam met sy vrou nie, of hoe?”

*Skuilnaam.

  • http://vouffkppqvku.com/ jzrlyfpysw

    otQYzk jayfdzlraque, [url=http://xeazoemmkjzn.com/]xeazoemmkjzn[/url], [link=http://lqfpfmgencfs.com/]lqfpfmgencfs[/link], http://qeveoxkoopim.com/