Eie stories

Afrikaanse klanke

Ek woon sedert 2004 in Rome. Gister was vleisbraai-dag by my huis. My gaste daag op met hul colemans, gevul met bier, wyn en ietsie vir die braai. Die gemeenskaplike taal is Engels, maar as jy gou ‘n woordjie met jou buurman moet wissel oor die laaste strafskop op TV, val daar Duitse, Italiaanse én jou eie Afrikaanse klanke op die oor.

Die groep kom tot stilstand, stilswye hang in die lug en ek dog ek het weer eens die strafskop gemis. Ek vra wat gaan aan. Hulle vra: waste taal praat jy? Ek sê Afrikaans en vir die volgende halfuur is ons die middelpunt van belangstelling. Dis pragtig, hoe werk dit, waar kom dit vandaan? Leer my ‘n paar woorde, sê hulle.

Watter teleurstelling toe ek onlangs SARIE van Mei 2005 oopslaan en ‘n lesersbrief lees – ‘Ons dink nie almal so nie’ – na aanleiding van die artikel ‘Wat woel in jou tiener se kop’ (April 2005).

Is daar werklik tieners wat Afrikaans haat en dink Suid-Afrika is simpel?

Ek het SA meer as 11 jaar gelede verlaat omdat ek avontuurlustig is, net soos my Afrikaanse voorvaders. Ek wil die wêreld sien, en dít sien ek behoorlik. Ek het ‘n mening oor elke land en elke volk, en ek is trotser as ooit tevore om ‘n Suid-Afrikaner te wees, met Afrikaans as moedertaal. Ons is hardwerkend, goedgemanierd, trek smaakvol aan en het iets gemeen met ander swerwers weg van die huis – Afrikaans. ‘n Taal wat nuuskierigheid uitlok..

Ek glo daar is agentskappe wat slegs op Suid-Afrikaners konsentreer omdat ons bekend is vir ons hardwerkendheid, goeie maniere, humorsin en werklewering binne spertye.

Kultuur is jou eie, dis wat jou vorm en laat uitstaan. Wil ons nou verengels omdat ons dink dis meer modern? Ons aksent sal ons altyd ‘ weggee’.

Na 11 jaar in die vreemde en ‘n sesde taal wat aangeleer moet word, bly Afrikaans steeds my gunsteling, my moedertaal en my aksent dié van ‘n Afrikaner. Om dit te verruil vir iets wat nie joune is nie en nooit sal wees nie, is sinneloos.

Marinda Kuhn, Rome