Eie stories

Agter Margit se humor

Die komediant Margit Meyer-Rödenbeck is ernstig oor humor. “Mense lag hopeloos te min,” kla sy. “In dié land moet ’n mens kan lag. Daar is soveel dinge om oor te lag, maar daar’s soveel mislike mense. Goeie genugtig, dis so simpel as mense suur is!”

Margit is beter bekend as haar verhoogkarakter Dowwe Dolla, die ultimate dom blondine, wat gehore al jare lank laat lagtrane stort met haar waaghalsige sê-goed. Met ’n suigstokkie in die mond, koketterige stem, noupassende rokkies en lang blonde hare het sy landwyd groot aanhang verwerf. Maar daar was ’n tyd in Margit se lewe toe sy alles behalwe snaaks wou wees.

Lag met ’n traan
In 2002 is borskanker by haar ma, Retha, gediagnoseer. Sy is in Maart 2003 oorlede. “Toe my ma erg siek was, moes ek vir ’n maand en ’n half lank toer. Ek moes elke aand op die verhoog klim en snaaks wees. As ’n gehoor van duisend op hul voete spring en vir my ’n staande ovasie gee, was al waaraan ek kon dink dat my ma nie eens kan opstaan nie. Dit was letterlik ’n tyd van lag met ’n traan.”

Margit het egter ook vertroosting in humor gevind en op ’n ongewone manier kon sy haar ma se siekte en dood verwerk. “Nadat ek by my ma in die hospitaal gaan kuier het, het ek altyd by my goeie vriend en dramaturg Hennie van Greunen gaan kuier om te unwind. Hy het na al my bekommernisse geluister en besluit om ’n toneelstuk (getiteld K) te skryf oor die verhouding tussen ’n ma, wat kanker het, en haar dogter.

“Kanker is ’n tema waaraan niemand wil raak nie, maar dis ’n siekte wat so baie mense raak. Dis ’n verskriklike siekte, maar dit beteken nie ons moet wegskram daarvan nie. Hoekom kan ons dit nie op die verhoog sit nie? My ma het geweet ons sou ’n toneelstuk skryf. Maar ek het vir haar gesê dit sou nie oor ons gaan nie. Dit handel eintlik oor kanker in verhoudinge – hoe jy dikwels te laat agterkom hoe stupid jy was. Hoekom het ’n mens nie gepraat nie? Hoekom het ’n mens nie geluister nie en waar het ons mekaar gemis? Dit handel ook oor verlies en afgee aan die dood. Dit werk so goed deur die hele proses. Jy herken die stappe. Ek dink baie mense kan hulle daarmee vereenselwig.”

 

‘As ’n gehoor van duisend op hul voete spring en vir my ’n staande ovasie gee, was al waaraan ek kon dink dat my ma nie eens kan opstaan nie.’

 

Kanker is weliswaar g’n grap nie, dit weet Margit alte goed, maar sy wou nie hê die stuk moes net ’n tranetrekker wees nie. “Lag is genesend. Daar’s iets aan swart humor . . .  As jy lag oor ’n sekere situasie, begin jy dit in ’n sekere mate verteer. Jy begin dit in ’n breër prentjie sit. En so begin jy vrede maak daarmee. En in ’n sekere mate moet ons komediante die humor in alles kan sien om dit snaaks te maak. Dis jou job.”

Die verhoogstuk

K het momente van skreeusnaakse komedie. Karen (Margit), ’n suurknol en ambisieuse sakevrou, neem verlof om die laaste paar dae na haar sterwende ma, Karien (Trix Pienaar), om te sien. Maar haar ma het ander planne. “Van die intrapslag,” skryf die joernalis Hannelie Booyens in ’n resensie, “is dit duidelik dat Karien haar naderende dood met pikswart humor verwerk.” Karien het geen begeerte om soos “gewone mense” dood te gaan nie. Sy skryf die lirieke van liedjies teen die sitkamermure, sy slaap op swembadbeddens in die voorkamer. Karen kan glad nie die ligsinnigheid van haar ma verdra nie. Waarom is haar ma so weird? Waarom moet sy met haar drip ronddans? Hoe gemaak as haar ma die begrafnis wil inoefen, sodat sy Karen se toespraak kan hoor? “Die situasie leen hom tot verskriklike snaakse oomblikke en dan is daar weer ontsettende hartseer dele. Die toneelstuk werk so goed omdat die twee emosies so nou langs mekaar gestel word. Jy lag nog en dan besef jy eina, dis glad nie meer so snaaks nie. Dis hoe die lewe is,” verduidelik Margit.

Humorsin red
K bewys opnuut die ou stelling: Humor is lag met die traan. ’n Gesegde wat ook van toepassing was op Margit en haar ma se verhouding. “Wat my en my ma gered het, was ons humorsin. Ek sal haar bv. in haar rolstoel chemo toe stoot en dan sal sy sê: “Nie so vinnig nie, ek gaan nog my laaste hare ook verloor.” Tydens haar ma se laaste dae was Margit op toer en het amper elke dag huis toe gevlieg. “My suster was heeltyd by my ma. Twee dae ná die toer is sy dood. My suster kon die humor in alles raaksien. Ek het my eers vererg vir haar, maar ek het mettertyd besef dis al wat ons gaan red. Ons het op die ou einde baie gelag vir my ma. Nie vír haar nie, sáám met haar.” Sy vertel nog ’n staaltjie: “My ma wou altyd begrawe word en ewe skielik, op ’n dag, besluit sy sy wil veras word. My suster bel my en sê: ‘Ma wil veras word.’ ‘O, is Ma op morfien?’ vra ek. ‘Ma het gesê ek moet vir jou sê nee, nog nie,’ het my suster dadelik geantwoord. ’n Mens móét lag. Dis my ma wat opgeruimd gebly het en ons laat lag het. Sy’t óns getroos.”

 

‘’n Mens móét lag. Dis my ma wat opgeruimd gebly het en ons laat lag het. Sy’t óns getroos.’

 

Margit het ’n paar maande gelede verloof geraak en een van haar ma se koddighede het nou vir haar spesiale betekenis. “Ek het altyd gesê ek sal nooit familiename vir my kinders gee nie. Eendag op die toer het ek besef hoe simpel dit is en ek bel my suster. ‘Sê vir ma ek sal graag eendag my kind Retha wil noem.’ “My suster bel terug met die boodskap: ‘Ma sê nee, haar naam is Magrieta Maria Malan!’ Ek dink nie dis oneerbiedig om te lag nie. Ons kan nie op ’n hoop gaan sit en huil nie.” Daar was egter dae dat sy net gehuil het.

Weer seer
“Ons het op Pringlebaai gaan repeteer – ek, Hennie en Trix. Trix is my teaterma – so ek is baie lief vir haar. Dit was dus ’n baie beskermende omgewing. Die eerste twee weke toe ons deur die toneelstuk gelees het, het ek eers ’n paar uur lank gehuil. Dit was ’n katarsis. Ek kon dinge verwerk. Daarna kon ek dit agter my sit en van voor af begin met die ervaring wat ek deurgemaak het. ’n Mens moet weer êrens opstaan en begin lag.” Nietemin is elke opvoering van K steeds vir haar pynlik. “Ek en my ma het ’n wonderlike verhouding gehad, terwyl ek en Trix in die toneelstuk ’n aaklige verhouding het. En hoewel K nie op ons lewe gegrond is nie, is daar wel dialoog wat regtig my woorde was. Dis ook die moeilikste woorde in die stuk, want ek kan presies onthou waar, hoe en hoekom ek dit gesê het. So, daar was ’n moeilike parallelle situasie.”

Helende teater
Dowwe Dolla is gewild omdat sy dinge kan sê (en daarmee wegkom) waaroor min vroue in Afrikaans praat. En in K skram Margit ook nie weg van daardie dinge nie. Gehore is veral hiervoor dankbaar. Menigmaal het ma’s, dogters, susters én mans wat ook die kankerstryd moes hanteer, vir haar en Hennie bedank. Die toneelstuk help om die vrees vir die Groot K-woord ’n bietjie te besweer, sê hulle. Dit wys ook die kommunikasiegapings tussen ouer en kinders uit. Boonop kyk teatergangers nou met nuwe oë na die klein, kort blondine. “Mense wat nog nooit na my Dowwe Dolla-kabarette kom kyk het nie, sê hulle’t nie geweet ek kan act nie. Hulle sal my nou kom kyk! Dis wonderlik vir my, want ek het jare laas ’n ernstige rol gespeel. Ek het net gewag vir die regte ding en K is die regte ding. Dis helende teater. Ek het nodig gehad om te huil én te lag.”