Eie stories

Aletté-Johanni blog: Baba Simeon se dramatiese koms

Op Vrydagoggend 20 April 2012 was ek presies 40 weke swanger. 40 weke van 18-20 kg oorgewig wees. 40 weke van rugpyn, gereelde opstaan-in-die-nag-nagte, ongemak, oorgroot-klere, opgeswelde…wel ALLES, en die lysie hou aan.

Maar natuurlik ook 40 weke om die grootste wonderwerk onder die sterre te ervaar in jou liggaam. Simeon het geskop, gestoei, gehik en gedruk, en dit was woes spesiaal, maar ek kon nét nie meer wag om hierdie seuntjie van aangesig tot aangesig te ontmoet nie.

Dus het ek die 20ste opgestaan en geweet VANDAG IS DIE DAG. Ek sal elke boereraad in die boek uithaal…(ja, en sommige van hulle is met moeite so op 40 weke) maar uit, sal die knaap uit.

Vroegoggend het ek my dosis kasterolie in. Gelukkig het my ma ons van kleins af gewoond ge(s)maak aan die aaklige smaak. Maar soos ek sê, ek was desperaat. Toe vaar ek die winkels in en dink by myself: “Vandag LOOP ek hierdie baba uit.”

En was dit nie die snaakste ervaring nie. Soms druk Simeon op ‘n senuwee hier tussen my bene dat hulle sommer so onder my meegee en ek so half inmekaar sak, dan maak ek maar of ek iets BAIE interessant in die winkelvenster sien, wat mens nie uit ‘n normale hoogte sou raaksien nie. By twee of drie winkels het die winkelassistente vir my gevra: “So when is your baby coming?” “Today”, sê ek, dan lag hulle uit hulle mae uit en ek smile en wieps myself bietjies bietjies nat, soos knaap op die blasie lê.

Ek was seker so teen 4:30 by die huis en na ek my post-swangerskap-in-die-geloof-nommer-34-pakkies weggepak het, het ek uitgeput op die bed gaan lê. Heinz het so net na 5 ingekom en gevra of ek saam met hom en Lian wou gaan stap, waarop ek antwoord: “Ek dink ek het genoeg gestap vir een dag.” And off they went…

Teen 5:05 BBM my ginekoloog se vrou my (my vriendin en wonderlike ontwerper) en vra of ons die Saterdag gaan induseer want haar man gaan die volgende week Indië toe en hy wil graag by wees met die bevalling. Ek laat weet haar dis reg, ek wil OOK baie graag hê haar man moet by wees.

My BBM is nog êrens in die kuberruimte toe ek haar weer laat weet om 17:12: “Eish ek dink iets is aan die gebeur?” “RÊRIG?” kom sy terug “Time bietjie hoe ver uitmekaar uit” “*^&%#$@$%#%@!!!! TWEE MINUTE UITMEKAAR!!” “GAAN DADELIK HOSPITAAL TOE, ek bel solank vooruit en reël met my man om jou daar te kry!”

Ek voel soos ‘n hoender met ‘n af-kop. My man is êrens in ons kompleks en ek is besig om te kraam. Wat vat ek? Wat los ek? Is dit werklik NOU die tyd? Ek loer by die badkamer se venster uit en sien Heinz onder in die straat loop en skree soos ‘n vrou wat nie haar sout werd is nie: “HEINZ!!! Jy moet KOM!!” Dié skrik sy as af, gryp vir Lian en hardloop huis toe.

In ons kamer aangekom volg die gesprek so: “So, dis dit?” “Jip! OEPS, daar breek my water nounet!” (Gelukkig is ek nog in die badkamer?” “Is jy seker?” “JA HEINZ, want ek het nounet myself nat gepiepie en ek staan by die wasbak?” “GOED, ons ry dadelik.”

Hy gryp my tas, en Simi se tas en reël met ons assistent, Marisa, om na Lian om te sien. Ons spring in die kar en jaag in Vrydagmiddagverkeer Sandton toe. Ek praat in tale as iemand net effe te stadig na my (kontraksies se) sin ry.

Ek spring uit by die hospitaal voyer terwyl Heinz die kar parkeer en wys vir die bode om asb ‘n rolstoel te bring. Hulle kyk my met sulke groot oë aan asof daar nog nooit in die geskiedenis van Sandton Medi-Kliniek ‘n vrou in kraam aangekom het nie. Ek snap my vingers om hulle aan te moedig en na vele (minute) sekondes begin die spannetjie beweeg. Ek word “Maternity Ward” toe gestoot…

“Nee, skree ek half uitasem, kraamsaal toe, dadelik, daar is nie tyd vir Maternity Ward nie!” Die twee is nie op dieselfde vloer nie en skielik druk die man ‘n ander knoppie in die hysbak. Daar aangekom (17:45 se kant) word ek dadelik in die kraamsaal ingestoot en die suster praat baie rustig met my. “Ek soek ‘n epiduraal!”

Die kontraksies raak meer intens en vinnger op mekaar. Die suster verseker my sy sal die narkotiseur bel maar moet gou net gou ondersoek hoe ver ek al ontsluit is… “6 cm” “I can phone him but I doubt it if he will make it in time?” Ek druk daai gasmaskertjie oor my mond en haal diepier asem as wat ek gedink het ek het LONGE!

Nou moet julle verstaan, dit was nie ‘n geval van kontraksie vir 30 sekonde, rus vir 3 minute nie? DAAR WAS GEEN RUS NIE, dit was só opmekaar ek kon skaars ‘n woord uitkry om te praat. My dokter het 18:20 by die teater ingestap en my bevoel en bevat. Toe hy hoor ek het gevra vir ‘n epiduraal, bars hy amper uit van die lag: “Baie jammer maar daar is geen tyd nie!”

Die volgende oomblik voel dit of hierdie baba by my wil uithardloop en ek begin skree soos in die ou dae! En net daar kry ek die openbaring van “waar die kranse antwoord gee!” Dit was die Voortrekkers se geskree op daai waens wat vir hulle terug ge-eggo het! (Beste voorbehoedmiddel vir al die jong voortrekkertjies wat ‘n paar kilos agter die kraam-wa was.)

Die baie gereserveerde suster probeer vir my sê dat ek moet ophou skree en eerder my energie gebruik om te druk. Ek kon nie minder omgee wat sy sê nie, want ek het amper nie eers gedruk nie Simi wou UIT en hy het gekom!!

18:48 presies ‘n uur en ‘n half later (van die eerste kontraksie af) hou ek my mooiste donkerkop seuntjie in my arms. 4.34 kg, 55 cm en ‘n 37 cm grootte kop. Geen wonder ek het so gewaggel nie. Interessant dat Lian 4.12kg was en Simeon 4.34kg… wat sê dit van ‘n (moontlike) 3de baba…4.56 kg??

Vir julle dames wat mammas is (ek hoop dit is net dames wat hierdie ongesensorde details lees) sal weet die tweede baba is net anders! Ek is soveel meer op my gemak en geniet net elke liewe sekond saam met hom. Sy glimlag laat elke liewe sel in my liggaam smelt (wel apparently nie die vetselle nie) maar ALS anders. Julle sal BAIE binnekort vir Simeon ontmoet en verstaan hoekom hierdie mamma so koer!

Volgende keer vertel ek julle van die chaos met twee babas in die huis…soms drie!

Lekker om terug te wees,

ek

P.S blykbaar sê my dokter vir sy vrou dat sy ore nog ure na die bevalling gesuis het van hierdie sopraan stem!

* Lees al Aletté-Johanni se blogs hier

  • Marlene

    Uitstekend! Ek het nou so lekker gelag vir jou! Ons het nog nie kinders nie, beplan om einde van die jaar te begin! Sien uit na elke oomblik daarvan!!!

  • Delien Bothma

    Wat ‘n vreugdevolle gevoel kry ek nou toe ek Aletté se artikel lees! Baie geluk met jul 2de kleinding!

  • Marissa

    Fantasties!!! Nog spinternuut getroud, maar beter kon mens nie kry nie!! Kan nie wag vir baba nommer 1 nie – Pappa sê ons moet nog so bietjie wag 🙁 maar geen haas ook – tyd vir alles! 🙂 xx

  • Mariette

    Hahaha ek het nou so lekker gelag, baie dankie, dit nodig gehad. Geniet die mannetjie en weet jy die 3de enetjie is net soveel lekkerder en makliker veral as hy/sy so bietjie later kom en die ander manne al op pad skool toe is.

    Mooi bly en hoop die vetselletjies smelt gou weg, myne sit nog.

    Groete
    Mariette

  • Marni

    Dis so lekker om weer van Aletté te hoor! Ek het omtrent nou lekker gelag. Ek moet self oor 11 weke vir ‘n 3de keer kraam en hoop dit gaan net so vinnig soos met haar, maar na 2 geboortes sonder epiduraal hoop ek nie die tyd oorval my soos vir haar nie. Hierdie keer soek ek ook ‘n epiduraal! Ek hoop Aletté skryf sommer nou weer gereeld. Ek geniet haar blogs verskriklik baie.

  • anita carstens

    hoe lekker lag ek nou.. ek het net so geskree toe se die suster vir my .. ja dit gaan so as kinders wil kinders he.. ek was 21…. en as ek die energie gehad het het ek haar op daardie oomblik geskop by die kraamsaal se deur uit…. want glo my dis die laaste ding wat jy wil hoor as jy so pyn het…

  • MARIE-LOUISE SCOTT

    NA HIERDIE STORIE SAL HEINZ NOOOOOOIT WEER ‘N LIEDJIE SKRYF OF SING NIE!! SY VROU HET NOU TOTAAL OORGENEEM.

    BAIE STERKTE EN SEEN MET DIE TWEE PRAGSTUKKE.

  • Tania Hough

    Ek het dit nou vreeslik geniet!!! Kranse bo!!! Geniet d nuweling!! *

  • nelda du plessis nieuwoudt

    Ag ek het nou so lekker gelag!!! Uitstekend geskryf!

  • Ankia Janse van Vuuren

    Welkom terug Aletté! Moet sê ek het nou dag al kom "search" of ek nie ‘n blog gemis het nie.
    Baie geluk met Simeon se koms en sterkte met die aanpassing van 2 babas. Pasop net as die hond ook nog op jou skoot wil sit en jy reeds met een in elke arm sit 🙂

  • Nicola

    Ek het ook daai dag gekraam met my 2 e seuntjie! Dit klink presies soos ek!! Well done J!!!

  • Alta Vigus

    ek het jou artikel nou so geniet Aletté. Baie dankie dat jy dit met ons gedeel het. Geniet jou baba’s. Mag die Here julle seën.

  • Marisa

    Alette ek LOVE jou blogs en my trane loop soos ek lag elke keer as ek dit lees! Daai oomblikke is so spesiaal, dankie vir die voorreg om dit saam met julle te deel! Jy is beslis die beste "baas" waarvoor enige iemand kan vra om voor te werk, dankie, ek geniet elke oomblik! Elke mens het iemand soos jy nodig om hulle dag op te kikker… Ek sal beslis BAIE raad kom vra wanneer ek getroud is en kiddies verwag!xxx

  • Tania Snyman

    Ek is so bly dat jy weer blog – ek is mal oor jou en jou skryfstyl!
    Dankie dat jy ons maak lag vir ernstige sake. Ons is bly Simeon is gesond en so vreugde vir julle!
    Blessings
    xx

  • Mariska

    Dit was nou so oulik. Ek giggel so lekker dat pappa vra wat gaan aan.

    Baie geluk aan julle as gesin. ‘N Kind is DIE beste geskenk van God

  • Bettie

    Dit klink soos my eie storie !! My bulletjie is 20 April, 40 jaar gelede, gebore !! OOK kasterolie gedrink . . . dit was toe nie ‘n outydse boereraat nie, want dit WAS die outyd !! Wel saam met my man gaan stap . . . oeps. . . ‘n groot foutjie !! My man het huis toe gehardloop en die motor gaan haal . . . . my opgelaai en hospitaal toe gejaag !! Een en ‘n halfuur later, is mannetjie soos ‘n pyl uit ‘n boog, gebore!! Kon nie GLO dat dit ‘n boetatjie was nie . . . . (Ouma het *gedroom* dat dit weer ‘n dogtertjie gaan wees) nie sonars in daai tyd gewees nie . . . . ook nie epiduraal nie . . . . nie geskreeu nie, want my man het net die waslap in my mond gedruk en gesê: "BYT Koekoes, BYT" !! Mag hy vir julle net soveel vreugde verskaf, soos wat ons seunskind vir ons verskaf het !!

  • Ilze Loots

    Hoe lekker het ek nou gelag…ek het my met elke woord vereenselwig! Snaaks hoe al die pyn verdwyn sodra jy daardie klein mensie vashou en teen jou vasdruk!!! Puik artikel!

  • Madeleine

    Dit was heerlik om te lees. 1ste keer wat ek ‘n vrou regtig hoor vertel hoe dit in die kraamsaal gegaan het. Het elke tree saam met jou gegee, want dit is so waar en ek het dit net so beleef! kan nie wag vir die opvolg nie!

  • Magna

    Super super lekker gelag. Ek het begin by 3,942 en ge-eindig by 4.2kg. Het nie kans gesien vir die volgende een nie. Daardie twee rakkers is nou al 23 en 20 jaar oud. Geniet elke oomblik, dit gaan net so vinnig verby…

  • Antoinette

    Ek sê skreeu as jy moet! Lekker gelag, ek het 3 en ek stem saam nie een van hulle is dieselfde nie. My middelste, was ook makliker baba as die oudste maar die jongste is gebore met wil van haar eie.

  • Monique

    What an awesome way to start the day, you had me in laughter and in tears! The tears are because I think that I am actually ready now for no.2, and I can’t wait to experience that little new born all over again!
    Congratulations! I wish the 4 of you all the blessings and happiness the Lord has in store for you!

  • Helen

    Dit was baie lekker om te lees. Geniet jou baba.

  • Maritza

    Dis nou ‘n manier om jou dag te begin, om voor jou rekenaar te sit en te lag… bietjie humor vir die dag doen ‘n mens se siel sommer wonders… Baie geluk met julle nuwe baba seuntjie! Geniet elke oomblik, hierdie is sowaar ‘n verhaal wat jy eendag vir sy vrou kan vertel. 😎

  • Veronica

    Ai Alette, nou so lekker gelag vir al jou se-goed en dat jy dit nog so woord vir woord vertel, pyn en al. Net ‘n mamma kan weet van kraampyne. Kyk, wanneer hulle se moenie druk nie, my magtag man, of soos in jou geval, moenie so skree nie. Baie geluk en bly alles het goed gegaan.. Geniet die kleinding wat alweer more 3 maande oud is, en natuurlik vir ouboet ook.

  • Clivé Burger

    Ai ek wens ek kon ook sê ek lag lekker vanoggend, want ek kon net so ver kom as om te smile! Eintlik loop die trane in strome oor my wange, want ons tweede ou seuntjie is 6 maande gelede op 9 maande in ‘n ongeluk oorlede. Die mooiste ding wat hier op die foto langs my rekenaar vir my oopbek sit en lag. Maar vir elkeen van julle wat julle kinders het, wil ek net sê, waardeer hulle elke liewe dag – druk hulle vas (ag al is hulle al 40!) – eintlik is hulle almal maar net geleen! Liefde vir julle.

  • Anita Steenkamp

    Die artikel het nou ‘n sommer my dag opgebeur! Ek sit so en lag die mense om my dink ek is mal, dankie baie!

  • Monique Neethling

    Ek waardeer en geniet die eerlikheid van jou blog vreeslik! Oor so 10 weke is dit my beurt in die kraamsaal!

  • BW

    LOL het nou lekker gelag vir Alette!

  • Andri

    Dit was nou ‘n great stukkie om te lees. ek het so lekker gelag!! ja, die wonderlike manewales van swanger wees en kraam. dit bly maar net lekker en so ‘n groot voorreg.

  • Hanlie

    Dit was nou lekker om te lees. Ek is spyt ek het nooit die voorreg gehad om normaal te kraam nie. Beide my kinders was nood keisers. Ek moet egter se dit is baie pret in die huis met 2 kleingoed. Vanoggend oppad werk toe gedink aan die dae (soos 3 jaar terug) toe ek hulle beide soggens eers moes aantrek. Voer/melk gee hulle sakke pak en dan vir myself aantrek en dan by die creche gaan aflaai. Vandag doen hulle die aantrek self, maar dit voel asof dit langer neem. Geniet die 2 kleingoed! Daar wag nog baie dae se pret en gekners van tande….

  • Tarien

    Hoe lekker lag ek nou….Ek het self nie my eie nie, maar ek het myself nou so ingeleef in jou storie , ek kon nie anders as om te lag nie. Geniet die nuwe Lyfie. 🙂

  • Yolandi Du Plessis

    Dit was sekerlik die beste berig wat ek in 2012 nog gelees het!! Ek het sooooo lekker gelag! Ai, the joys of Motherhood! Geniet Simi elke oomblik!! Hulle word in ‘n oogwink groot!

  • Driekie

    Dit was van begin tot einde die moeite werd

  • Cindy

    Baie geluk met die wonderwerkie!!!! Ek het nou lekker gelag, en ook n traan of twee gepik. Ons het 3 weke gelede ons wonderwerkie verloor, en die trane sit nou vlak, as ek dink hoe ons storie sou wees, as ons in julle skoene sou wees. Maar die enigste troos woorde vir ons is, dat die Here weet die beste, en ons hoop dat ons binne kort sal geseen word met n gesonde baba en swangerskap.

  • Desirée

    Baie dankie Aletté. Ek het nou sooo lekker gelag en vreeslik geniet om dit te lees. Sterkte met die twee kleingoed!

  • Amelia

    Uitstekend geskryf!!!!!!!!!!!!!!

  • Andrietta

    Dit laat my dink aan 28 jaar gelede. 50 min… en die dokter sonder handskoene…., drafstap my derde dogter die wereld in!!!!! Daardie kraam kan ek vir niemand beskryf nie!!!! Het gevoel my asem raak op, want rustyd tussen kontraksies het nie bestaan nie……

  • Elma

    Ek het my nou gelag dat die trane loop! Jou blog is uitstekend! Dis lekker om te weet dat sterre ook in ‘n warboel kan wees met die koms van ‘n baba. My man was net so onvoorbereid en ons het ook soos af kop hoenders rond gehol of ek liewer gewaggel met die oorgroot handdoek tussen my bene om die water te keer. Kan net lag as mens nou terug dink daaraan. Dankie dat jy jou wonderlike ervaring met ons deel nes dit is en geen doekies omdraai nie.

  • Anne

    Dit het nou vir jou Memories terug gebring LOL My eerste baba se geboorte amper 16 jaar gelede > En al die jare voel ek skuldig oor ek wat so skree dat die kranse antwoord gee En vandag weet ek dat dit sooooo normaal is. Ai Aletté-Johanni baie dankie dit was lekker om jou weergawe te lees.
    Baie geluk aan jou en Heinz met jul 2de kleinding.
    Groete Anne