Eie stories

Aletté-Johanni blog: Die jaar van waarheid

Toe Heinz net na Idols Johannesburg toe getrek het en in sy eie nuwe plekkie kom bly het, het Joe Niemand eendag by hom kom kuier. Dit was in die week tydens werksure en die kompleks was bonatuurlik stil.

Heinz het vir Joe sy tuintjie gewys toe die volgende afspeel. Joe: “Hierdie is ‘n lekker plek, dit klink baie rustig en stil, is dit stil?” Heinz maak sy mond oop om te sê hoe bly hy is dat dit so stil is, veral deur die dag wanneer hy meestal by die huis is toe daar êrens uit een van die huise ‘n vrou is wat kliphard vir haar man/kêrel/minnaar/kind skree: “Praat die waarheid!”

En met daai woorde het sy bevestig dat dit toe nou wel nié so stil en rustig is nie, en die manne kon maar net lekker saam lag.

Ek, Aletté-Johanni Winckler het besluit 2012 is mý jaar waarin ek die waarheid gaan praat. Ek wil eerlik wees oor my gevoelens. Ek wil eerlik wees as dinge moeilik gaan en ek nie voel ek kom die mas op nie.

Ek wil die waarheid vertel vir my man oor my kredietkaartskuld, asook waarheen my voorkop plooie heen gaan verdwyn ná my swangerskap. Ek wil eerlik wees oor my verlede en ek wil eerlik wees oor die toekoms. Ek wil eerlik wees oor wat die skaal my toesnou en die waarheid in die gesig (of die boude) staar.

My laerskool se leuse was nie verniet: “In lig en waarheid lewe” nie,  en hoe sê hulle, dis in daai eerste 7 jaar van ‘n kind se lewe wanneer hulle fondasies gelê word. (Ek was skool toe toe ek 5 was so hulle het darem so 2 jaar se invloed gehad)

Iemand anders wat blykbaar ook besluit het om die waarheid te praat was my ginekoloog tydens my eerste besoek na die vakansie: “Het jy lekker vakansie gehou?” en nog voor ek kan antwoord kyk hy na my lêer en sê: “Nee toemaar, ek kan sién jy het baie lekker vakansie gehou?”

Hy is gewoonlik ‘n man van min woorde. My huishulp het met die intrapslag vir my gesê: “Eish, Lian has gotten beeg…and you also gained a lot of weight!” Dus is daar geen tekort aan mense wat die waarheid in my lewe inspreek nie.

Al wat ek wil sê is met Lian se swangerskap het ek 5 kg opgetel tydens my son, see en somervakansie in my skoonma se huis. Simeon, aan die ander kant was my baie begenadig en kon sy “cravings”  (soortvan) in toom hou, want hierdie Desember was dit ‘n skamele 3 kilos. Goed, so as ons dus die waarheid moet praat, is ek Vrydag 20 Januarie 27 weke swanger en het ek (laas toe ek op die skaal geklim het) 10.9 kg opgetel.

Maar dis hiér dames en here waar die koring en die kaf geskei word. Hier in die pylvak van die swangerskap. Volgens daai dokter se geweldige eerlike lêer, het ek laas keer in die laaste 3 maande sommer 14 kilos opgetel.

So dis hiér waar ek begin bid dat die Here my mond sal sluit soos hy met die leeus in Daniël se tyd gemaak het en dat ek ook eerlik sal wees oor wat ek (of Simeon) RÊRIG nodig het en wat ek net wil hê.

Ek hoop elkeen van julle het ‘n verfrissende vakansie gehad en dat die nuwe jaar ook net hoop, liefde, lig en waarheid vir elkeen sal inhou.

Tot ‘n volgende keer.

* Lees al Aletté-Johanni se blogs hier

  • Lynette

    Ai Lette! Dis n STUNNING blog! Jy het my nou so laat lag!

  • Frieda Penn

    Hello Alette,

    Wat n plesier om jou blok te lees,en soos altyd los jy iets om oor na te dink. Yip hierdie jaar praat ons die waarheid, skuif ons onsself vanag agter in die ry sommer tot heel voor in die ry, want ons is mos God se kinders…..watse agterbly staan en hoop maar dinge verander….neewat dis tyd hierdie jaar OM DIE WAARHEID TE PRAAT…..

    Dankie vir jou inspirasie

    Baie liefde Groete

    Frieda

  • Madeleine

    14kg is nie so erg nie Alette, gemiddeld tel meeste vrouens tussen 20 – 25kg op tydens n swangerskap.
    Jy is swanger, en jy het gewig aangesit, "so what??" Jy gaan dit mos weer afkry.
    Moenie hierdie gewig-ding so ernstig aantrek nie.

  • Dalene Bergh

    Hi Alette, ek geniet jou blogs vreeslik. Al waarin ek kan dink om vir jou te sê Simeon is ‘n baie spesiale, lewende, GROEIENDE mensie wat geniet om sy Rugbybal te skop binnekant jou!!! Nie lank nie, dan’s dit die 2 boeties wat verder gaan speel, en daar’s dan hope tyd vir jou om aan jou reeds mooi lyfie te werk… En wat gaan jy gebruik vir daai plooie op jou voorkop ? NUSKIN ?????? Of is daar ‘n beter geheimpie ? Liefde Dalene

  • Chantelle

    Alette – jy lyk pragtig!! So natuurlik en onopgesmuk!! Geniet die swangerskap en vergeet van die vetjies!

  • Elana

    Jy lyk pragtig! ek geniet jou blogs verskriklik!! wens jy kon meer skryf!!!

  • Lindi

    Dankie vir jou eerlikheid! Ek was nog nooit self swanger nie, maar ek kan myself indink watter stryd dit is om nie oor te gee aan die ‘cravings’ nie. Jy lyk pragtig en hoop jy sal die krag hê om sterk te bly. Sterkte met die laaste ent wat voorlê!