alette_30weke
Eie stories

Aletté-Johanni blog: In die pylvak!

Ek en my man het 21 dae lank gevas van alles wat sleg is, suiker, koffie, rooivleis, slegte stysel en (Heinz) van wyn. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons het eintlik gevas van alles wat LEKKER, en na ons ons vas gebreek het (EN O JA, ons het dit GROOTendeels gebreek) was ek weer baie gefokus en het ek die “gesonder” leefstyl (probeer) voort sit.

Miskien oor ‘n naweek vat ek ‘n kans of twee en begin my dag met “Fruit Loops” en ek ma dalk na ons Pizza 3 of 4 of 5 blokkies Lindt sjokolade verorber, maar RÊRIG oor die algemeen gaan dit baie goed. Ek het nie rare begeertes om vreemde goed te verslind nie, inteendeel ek het geen begeerte om enigiets te verslind soos in my vorige swangerskap nie, en ek moet sê, ek VOEL nie verblindend vet nie, maar ek is op ‘n trand van waarheid vertel en daarom sal ek eerlik wees . . . 3,2 kg OP!!!

800 g daarvan is darem toegewy aan my spierpaleis van ‘n seun wat besig is om binne my te groei en sy (duidelike) bos hare. Die res van die 2.4 kg gaan ek toewy aan spiere wat ek tydens my middag stappies en Pilates-klassies opbou… (HAHA) OK, miskien ten minste 1,4 kg daarvan…en as mens DAN na my sommetjie kyk het ek wel die 1-kg-per-maand-outjie opgelewer.

Lian het ook geen probleem om eerlike observasies te maak nie, Nou die dag kom klim hy op my skoot terwyl my Facebook oop is. Ek maak my profielfoto’s oop en vra vir hom: “Wie’s dit?” Sonder om te skroom sal hy sê “Mamma” of “Pappa” , maar met enige (vroeëre) foto’s waar Mamma dalk bietjie dunner en jonger is, as ek vra wie dit is, se hy: “Tannie”.

Nie eens die neus of oë of hare herinner hom enigsins aan die moeder waarmee hy tans te doene het nie. Ek kon net lag vir die mond van my suigeling en eintlik is ek dankbaar ek gaan 2 seunskinders in die huis hê wat eerlik vir hulle ma sal sê as sy nie meer sag op die oog is nie! (Of dalk té sag om die heupe)

Dus, dames en here, dis hoe sake staan: 30 weke 13 kilos later en ons is in die pylvak! Ek weet my kind kry wat hy nodig het, en dit is EERSTE prys, maar enige reserwes gaan gerantsoeneer word van hier af.

Elke kilo is ‘n week se werk oor 2 maande en as mens SO daarna kyk, is dit net nie die moeite werd om alles oorboord te gooi nie. My doelwit dus, om anders as met baba nr 1 se 30 kg slegs 18 op te tel…DUS 12 weke of 3 maande minder se werk. Hoop julle wiskunde is so inspirerend soos myne vandag!

* Lees Aletté-Johanni se vorige blogs hier

  • lettie

    Hi Alette-Johanni, jy lyk baie mooi, en rerig daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, baba besig om te groei, en al wat eindelik tel is dat hy n mooi sterk gesonde baba moet wees. Hierdie laaste paar weke sal jy nog meer optel, maar dit is die laaste trek na sy geboorte, so wees voorbereid en regtig jou gewig sal weer stabiliseer na die geboorte. Sterkte vir die laaste trimester, en geniet dit. Baie lief vir jou blog inskrywing elke maand en ek geniet dit baie. Baie liefde vir Heinz en Lian.

  • Tania

    Wil jy nie aanhou blog na die geboorte ook nie? Ek is regtig mal oor jou blogs!
    Geniet die laaste paar weke van swangerskap! Blessings

  • Alida Basson

    Ek geniet jou blog net so baie! Ek is mal oor die manier waarop jy dit vertel en skryf! Doen asb so voort en hou ons ingelig na die geboorte ook!! Sterkte met die pylvak!

  • Lomine Brynard

    Ek dink ook jy moet aanhou blog want ek geniet jou regtig baie. Sterkte en geniet die laaste paar weke. Jy lyk stunning.

  • Marlise Delport

    Jy het ‘n wonderlike eerlike trant van skryf wat so op die man af is! Ek is mal daaroor. Sterkte met die laaste 2 maande en "keep your eyes on the prize" – soos my sussie se 7-jarige altyd vir my se!!
    Groete – Marlise

  • Rene Kruger

    Lekker lag ek nou! Love jou blog inskrywings. Jy is so ‘n insperasie! Bly dit gaan verder goed met die swangerskap!

  • Amori

    Stem saam Tania,moet asb nie ophou nie.Geniet dit vreeslik!

  • Andrea

    Baie sterkte met die laaste stretch! Asseblief hou aan blog! Jou blogs is terselfdetyd snaaks en betekenisvol. Maak vir baie lekker leesstof!

  • Niekie Bushby

    Ja, ek moet met almal hierbo saamstem – jou blogs is altyd humoristies maar tog so eerlik. Baie dankie dat jy hierdie mooi en private deel met ons deel en onthou dat jy altyd ‘n stunning mens is – 13kg of nie! Kan nie wag om Simeon te sien nie – hy gaan net so stunning soos jy en Heinz wees. Sterkte vir die laaste paar weke.