Eie stories

Alexa Strachan gesels oor haar Met Mathys-inisiatief

Die Met Mathys-inisiatief is reeds deur Alexa Strachan, sangeres-aktrise en getroue vriendin van die sanger Mathys Roets, gestig toe hy bewusteloos was, kort ná die motorfietsongeluk op 6 April vanjaar waarin hy verlam is. Maar sy kry hom nie jammer nie . . . Marguerite van Wyk het met haar gesels.
 
“Enigiemand wat jammer is vir hom, gaan hom net beledig. Hy is ‘n ontsettende trotse, selfstandige mens. Dit was sý keuse om motorfiets te ry, en hy het geweet waarvoor hy homself inlaat. Dis hoe hy nou nog daarna kyk. Hy soek geen jammerte nie. Hy wil so gou as moontlik op sy voete staan.”

Sy vertel dat hy, daar waar hy nou by die Riverfield Lodge naby Pretoria rehabilitasie ondergaan om binne agt weke ten volle selfversorgend te wees, verstommend vinnig vorder.

“Hy is eintlik irriterend positief. Ek het nog nooit so iemand ontmoet nie. Hy het die wil om alles net só gou reg aan te leer.”

Toe sy hoor hy gaan verlam wees, het sy met Mathys se pa, Boet, gepraat, en sy was maar bra negatief. “Hoe gaan Mathys, wat so trots is, cope deur vir ander om hulp te vra?” het sy vir sy pa gevra.

“En daar bewys my vriend my toe weer eens verkeerd. Hy kry dit uitstekend reg. Hy het dit aanvaar en ek het weer eens besef jy dink jy ken iemand, maar jy ken hom nooit regtig nie. Hy sê hy voel nog steeds soos Mathys Roets, al is hy verlam. Dis hoe dit nou is en hy moet eenvoudig die beste daarvan maak.”

En hy het ongelooflik waardering vir wat sy vriende vir hom in die bedryf gedoen het. Die Met Mathys-inisiatief het hom opnuut laat besef hoeveel mense in die bedryf vir hom omgee, vertel Alexa. Dit het hom ‘n doel gegee om weer vinnig gesond te word en te begin musiek maak, vertel sy.

“As kunstenaars was dít maar wat ons vir hom kon doen. As ons ingenieurs was, sou ons seker iets anders uitgedink het.”

Dié inisiatief was beslis nie ‘n one woman show nie, sê sy. “Giep van Zyl het báie gehelp. Ek het Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla) in Italië tydens hul reis daar ge-SMS en gevra om terug te kom en ‘n show in die Kaap te kom doen. Almal het ingespring en gehelp. Mense van heinde en verre. En ons gaan dit aan die gang hou. Daar is nog nie definitiewe planne nie. Maar Mathys wil hê ons moet dit lewendig hou om mense in die bedryf wat in nood is in die toekoms ook by te staan.”

Nou is hul fokus Mathys. “Maar dis veel meer as net geldelike steun. Dis ‘n spirituele ding. Ons wou vir hom wys waar hy behoort. As kunstenaars wou ons ook aanvanklik vir hom tyd koop. Niemand het geweet hoe lank hy in die hospitaal sou bly nie. Ons het nie eens geweet of hy sou leef nie. Maar mense het maklik gegee vir Mathys. Hy is ‘n ou vol integriteit. Mense gee regtig om vir hom.”

Alexa vertel Mathys sê nou nog hy is oorweldig daardeur.

Sy voel baie dae skaam as sy by Mathys is en sy so maklik onvergenoegd is. “Ons word oorval deur mense wat ook wil hê ons moet vir hulle geld insamel. Ons hoor vreeslike verhale.”

Mathys se eerste solo-konsert is in Bloemfontein op 6 en 7 Augustus. Hy wil spesiaal ‘n dankie-sê-konsert in die Sand du Plessis-teater hou. Hy meen dis die stad waaraan hy sy lewe te danke het.

Hou dié spasie dop vir meer!

* In die Julie-uitgawe praat SARIE eksklusief met Mathys se eks-vrou, Karen, en sangmaat, Kevin Leo, oor die ongeluk. Vanaf 8 Junie te koop.