Eie stories

Alida Hoffmann: Afgerig vir die lewe

Alida Hoffmann, ’n afdelingsbestuurder van Somerset-Wes, was so ingestel op werk en prestasie dat sy voeling met haarself en haar gesin begin verloor het.

Sy het haar stres op kollegas begin uithaal.Ná nege maande se afrigting by dr.Martie Lancellas het sy nou nuwe lewenslus, harmonie is herstel en sy en haar man en seuns (9 en 14) is hegter as ooit. Die kersie op die koek: ’n droompos.

DIE KEERPUNT

“Ek het die hoogste sport op die leer nagejaag en die uitdagings van volmaakte eggenoot,ma en beroepsvrou ten volle aanvaar,maar iewers het dinge ontspoor. Die pendulum het al meer na my beroep geswaai.

“Ek het myself verloor en emosies diep weggebêre. Ek wou net als groter en beter hê, ek het klinies geraak en myself gedurig gemeet aan my werksuksesse.

“Vir vyf jaar was ek op die kruin . . . maar in 2009 het dinge drasties verander. Twee groot gebeurtenisse in my persoonlike en werklewe het my laat besef my lewe is buite beheer. My stres het my gedrag begin beïnvloed. 

“In ’n intense gesprek met ’n kollega het die woorde ‘vrees vir mislukking’ my kaartehuis laat intuimel. Dít was die keerpunt. Ek was angstig en het alles waarvoor ek staan, bevraagteken. Ek kon nie só aangaan nie.”

FASSINERENDE ONTDEKKINGSREIS

“My werkgewer het ’n lewensafrigter aanbeveel. Ek is so dankbaar,want ek sou dit nooit oorweeg het nie. Ek kon mos alles self uitsorteer! Die eerste stap was ’n  daaglikse joernaal om my kop te orden. In ons uur lange tweeweeklikse sessies het sy my gehelp om te besef wat my selfaftakeling en negatiewe denke aan die gang sit, hoe ek dit kon hanteer, en hoe om aan my selfbeeld te bou.”

 

My gedrewenheid het plek gemaak vir balans”

 


GROOTSTE STRUIKELBLOKKE

“Ek is ’n private mens. Dit was moeilik om eerlik met myself te wees en deur my emosies te werk. Dit was soms pynlik en by tye het ek erg blootgestel gevoel . . . ek wou selfs handdoek ingooi. Ek moes my trots begrawe. Martie het my veilig laat voel met haar deernis en begrip. Haar deurdagte vrae het my insig in myself, my behoeftes en waardes gegee.”

DINGE BEGIN VERANDER

“Ons het doelwitte gestel soos balans, begrip vir myself en beter kommunikasie en verhoudings. Hoe meer ek ingesit het in my ‘take’, hoe meer het ek uitgekry.

Soos: elke dag 15 minute gehaltetyd met ’n kollega. Of: Doen elke dag drie goed meer (bv. meer gesinstyd) en drie goed minder (bv. minder saaklik of gejaagd wees).

“Ná ’n paar maande het my kollegas gevra of ek oukei is – ek was rustiger, gemaklik met myself en wou eerder help as net bevele uitdeel. My man was so gefassineer dat ons gereeld ná my sessies gesels het daaroor. Hy het ook gegroei daardeur. Ek het tot vir my oudste seun tegnieke aangeleer. Soos om objektiewe besluite te neem en nie oorhaastig aannames te maak nie.”

VERBREEK OU PATRONE

“Ek moes ou roetines verbreek. Ek staan nou vyfuur soggens op – genoeg tyd vir refleksie en stil word voor die Here. Ek maak tyd vir oefening en lees. Ek het weer begin skilder.

“Ek het besef as ek nie vir myself lief is en na myself luister nie, het ek min om aan my geliefdes te gee. Ek moes patrone verbreek: Soos om tuis in my kop te besig te wees met werkdinge, of om skuldig te voel as ek etenstyd neem. Ek moet juis dan afskakel om asem te haal,om te luister na my interne stem en sinvoller besluite te neem. Só kon ek ook werkverhoudings versterk.”

WAT EK NOU WEET

Psalm 139 gee my veral krag. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou lewe. Wéét jy kan
verander.

Vervang negatiewe denke met woorde wat ’n positiewe houding kweek.

Jy kan vergifnis kies. Dit help jou om van toksiese gedagtes soos bitterheid, angs en skuldgevoelens ontslae te raak.

Lag meer – vir goedvoelhormone.

Staan by jou waardesisteem, dit help jou standpunt inneem.

Tune into your heart, it’s your mini-brain. Doen moeite om jou emosies te verstaan en werk daardeur. Moenie dit onderdruk nie.