Eie stories

Alida op pad: ‘Kosfees in die Kaapse stadsaal’

Wat ’n statige gebou. Om in die gange en sale rond te drentel was al klaar baie besonders.

In die eerste lesing van die dag wys skryfster Eloise Alemany van Argentinië foto’s van haar kosboeke en raak sy allerlei slimmighede kwyt. Ek was jammer ek het nie ‘n SARIE KOS gehad om haar in die hand te stop nie. Sy kan nog baie leer oor hoe om mense te inspireer by Barbara Joubert en Herman Lensing.  

Anna Trapido, skryfwer van Hunger for Freedom: The Story of Food in the Life of Nelson Mandela, se lesing was nou iets om oor huis toe/’n blog te skryf.  

Toe ons die saal binnestap, was daar ’n groot kardoessak op elkeen se sitplek. Binne was allerlei houers met kossies in. Anna het lank gesels oor hoe kos, smake en geure mense, veral kinders, beïnvloed en ook ’n rol in Madiba se lewe gespeel het.  

Sy het by Madiba se kinderjare begin en ons kon amasi proe nes hy dit as kind gedrink het. Hierna het die een vertelling ná die ander gevolg met ’n eetding uit daardie tydperk. Daar was pastrami op ’n rogbroodjie, wat hy as prokureursklerk leer eet het, ’n stukkie troukoek, soos wat hy met sy troue met Winnie geniet het. In houer no. 12 was ryswater, wat gevangenes in alleenopsluiting op Robbeneiland gekry het. No. 13 het ons ’n idee gegee van die eiland-gevangenes se Kersfeeskoek. Dis gemaak van witbrood en sjokoladepoeier. Toe ek so met die houertjies in my hand sit, kon ek die knop in my keel nie weggesluk kry nie . . .

Deur middel van kos het ons op ’n baie tasbare manier ’n klein kykie in Madiba se lewe gekry. Ja, daar was ook gemmerbier, wat adjudant-offisier Jack Swart hom leer maak het, en ’n koeksister soos wat hy by mev. Betsie Verwoerd geëet het.

Van al die uiteenlopende eetgoed in die kardoes het Thayanagee Pillay se Besan Ladoo my behoorlik nuuskierig gehad. Dit het Madiba tydens die Rivonia-verhoor leer ken. Kollega Lou-Ann Stone, wat ’n ruk terug in Indië was, vertel sy het dit daar geëet. Dis soeter as soet, maar die kardamom en amandels maak dit iets baie besonders.   

Hoewel daar resepte in Anna se boek voorkom, is dit volgens haar nie ’n kookboek in die gewone sin nie. Dis ook ’n lewensreis met allerlei vertellings en stories van mense en kos wat onthou moet word.   

Die 19 disse wat deel gevorm het van die Hunger for freedom praatjie Die 19 disse wat deel gevorm het van die Hunger for freedom praatjie

Van links: Roti’s, samosa langs ‘n piesang, vrugtekoek langs mielie, ingelegte perske, sjokolade voor die gemmerbier , nr. 7 is die Besan Ladoo, heel voor is ‘n koeksister en rissies en in die middel ‘n houer (wit vloeistof) met amasi.  Op Robbeneiland het die gevangenes rissies gebruk om hul kos mee te geur.

[box:full:grey:both]

Die boek word deur Jacana Media uitgegee en tans herdruk. ’n Sagteband-uitgawe behoort binnekort beskikbaar te wees, volgens die uitgewers.

[/box]

Alida Vos.