Eie stories

Amanda Botha van Waterval Boven, skryf:

My kameraad, my kamermaat

Die hadida se geroep na sy maat laat my nou na jou verlang. Dit voer my gedagtes ver deur seisoene van vreugde met harlekyn-gelag, asook droefheid sonder end.

Jy het my hart se “osoonlaag” binnegedring met jou minsaamheid. Jou eerlikheid, opregtheid en jou liefde vir jou skepper vorm vir my ’n veilige hawe vir asiel in jou hart. 

Met jou liefde bou jy vir my ’n bomskuiling teen die aanslae van die lewe. Jy gee my die ruimte om myself te kan wees. Wanneer ek opstyg en stoom afblaas, laat jy my valskerm sag land.

Dankie dat jy my beter as ekself ken … elke kuiltjie, elke gril, elke hartsnaar en elke grys haar. Dankie dat jy my grootste “fan” is en my deurdra met jou standvastigheid. Dankie dat jy ook kan “nee” sê wanneer jy sien ek vlieg te na aan die son.

Jy is my kosbaarste afgemete deel, en ook waardevol met silwer in die hare en goud in die tande!

Jy’s my “comrade” en ek is lief vir jou.