love_letter_rooi_blom_in_houthart
Eie stories

Ané Smit van Londen, skryf:

My Liefste

As ek jou in die oggend wakker maak, saggies aan jou perfekte gesig vat en jou sagte wange soen, kan ek net nie my luck glo dat jy myne is nie. Liewe Jesus het my baie bederf toe Hy jou vir my gegee het. My hart huppel en ek glimlag wanneer ek aan jou dink. Ek voel 100% veilig by jou. Dis vir my so lekker om volkome op jou te kan vertrou en te weet jy sal besluite neem wat die beste vir ons twee is.

Ek is oneindig dankbaar vir jou onvoorwaardelike liefde. Ek waardeer die manier wat jy teenoor my optree. Ek voel soos die belangrikste persoon in die wêreld vir jou. Wanneer jy na my kyk, voel dit of net ons twee bestaan. Wanneer jy met my dans, dans my hart saam. Wanneer jy my soen, kry ek steeds vlinders in my maag.

Ek is so opgewonde oor ons troudag, maar ook vir ons huwelik daarna. Ek kan aan niks anders dink wat ek eerder wil wees as jou vrou vir die res van my lewe nie. 

En vandag – 24 Januarie 2009, op jou verjaardag – wil ek net weer vir jou sê hoe lief ek jou het en hoe ek alles wil doen om jou gelukkig te maak. Ek wil vir jou net die beste in die lewe gee. Die volgende verjaardagwense kom uit my hart:
* dat jy ons Hemelse Vader se teenwoordigheid elke tree van jou lewenspad sal aanvoel;
* dat jy jou sukses in die lewe nie sal meet aan finansiële status nie, maar aan jou verhouding met God en die mense wat jy liefhet;
* dat jy altyd sal weet hoe lief ek vir jou is en nooit ooit vir een sekonde daaraan sal twyfel nie;
* dat jy altyd sal besef hoe uniek en spesiaal jy is en dit sal koester, én
* dat jy altyd sal weet ek is jou grootste fan.

Ek is baie lief vir jou!

Van jou toekomstige vrou