Eie stories

Anita van der Merwe van Die Wilgers, Pretoria, skryf:

My liefste man

Vanoggend, in ’n oomblik van stilword en terugspoel in die getye van ons lewe tot nou, spartel ek om ons twee se herinneringe in woorde vas te bind. My woorde is beperk in onvermoë om my liefde aan jou te beskryf. Jy ken my mos … ons saamwees lê nie in my kop nie, maar in my hart. Met die palet van ons 25 jaar saam in my hand, skilder ek die bekende terreine.

Ek onthou ons kaalvoetdae op Rustoordplaas se gras. Die oggend-uitstappies in kosmosweelde langs die dam. Namibië se ver, oop sandvlaktes met jou aan my sy, verwonderd en aangeraak. In jou vrede sink ek weg, ’n oase in die gejaag na wind. In elke verfkwas-haal sien ek die donker-donker hemel met spatsels sterre, en ek hoor die dreuning van jou stem in die bors waarop ek lê. In die bors is ’n hart wat klop, wat lewe, en ek leef saam. Iemand het met sorg, hoop, geloof en liefde ons paaie na mekaar en in mekaar laat vloei. In die ontmoetingsdelta van my en jou, is die lewe geskenk aan ’n nuutgevonde liefde. Die ek en jy word die bloed in ons huweliksaar, en hartstog die pols.

Deur die jare bou ons ons met stene van stiltes, groeipyne, vreugde en geluk. Ons word verenig in ’n huis as ma en pa met drie wonderlike kinders. In jou oë kan ek woorde lees wat nog nooit gesê is nie, en wat ek altyd wou hoor. In jou stem kan ek die aarde hoor roep – standvastig … ek is veilig. In jou aanraking lê die wete ek lééf. Jou sonbruin vel tintel koesterend en vertroetelend onder die raakpunte van my vingers, my wese voel jou en weet van jou.

Van ons onthou-jy-nog-dae tot nou het die silwer van die maan skelmpies afgeglip en in jou hare kom sit. Sonder die nodigheid van woorde weet ons die tyd het aangestap, ons tyd raak minder. Die diepte van jou siel, die put van jou bestaan, sproei sielsdruppels op jou omgee-mense. Ek hou van die wysheid op jou tong en die hunker na lewe in jou stap. Jou denke wat jy met my deel, laat my nie onaangeraak nie. Dit rimpel in my binneste. ’n Gesprek met jou is ’n avontuur, ’n ontdekking. Dit begin in Niemandsland en word ’n reis na ’n bekende wêreld … myne, joune, ons s’n.

Lank is jou lyf, hemelbesem, nee my Lief, eerder hemelwése met ’n liefdesopdrag. Ek lief om my langs jou menswees neer te vlei en op wolke van ek-en-jy drome weg te gly. Van tienerkind af ken ek jou. In die metamorfose van vlerke sprei, het ek jou verwonderd aanskou en is ek meegesleur deur die transformasie-towerkrag van die lewe. Toe ’n kind, nou ’n man. Mý man.

Ek is verlief op jou groot, sterk hande wat altyd sag kan vat, veral aan my. Mooi is die are en fyn haartjies daarop. Jy’s ’n man na my hart. My onskuldige liefde vir jou het wortel geskiet en blom gedra … deur die seisoene het die vrugte sag en ryp geword. Weg is die dinge van ’n kind. Dis ongesiens vervang met volwasse liefde. Ek omwentel van skugter sekelmaan tot volwees vrou en ontdek jou … en my. Deur jou oë het ek my glans sien skyn, dankbaar in my hart vir ’n man soos jy. Saam het ons paaie gestap deur dale van pyn en heuwels van vreugde. En die stof daarvan wat aan my voete klou, is die wete dat ek kon voel om liefgehê te word en lief te hê.

My hart wil uitbundig skreeu: “Ek het jou lief!” Ek wil hê jy moet dit altyd hoor … nou en in die onbepaalde jare wat wag. En wanneer ons reis hand aan hand eendag by ’n kruispad kom, en ons moet groet, het ons hierdie aardse liefde gevóél en gelééf tot die dood ons skei, my Lief.
O, ek gaan jou menswees mis.