stock00083
Eie stories

Anja van den Berg van Ruimsig, skryf:

My liewe Mansmens, Mensmens.  Mens.

Dis nogal ’n vreemde bynaam, besef ek nou weer: Méns. Ek het dit sommer eendag spontaan vir jou gegee en jy het dadelik gewéét ek praat met jou. Dis seker omdat jy die eerste, werklike, warmbloed-méns in my lewe is.

Soos ’n lappop op die ashoop weggegooi (ek was gedaan en stukkend) het jy my opgetel, afgestof, in goud geklee en as prinses gekroon. Ek sit op jou troon, staan sterk op jou skouers, lê veilig in jou arms, vlieg met jou vlerke. Ék is méns deur jou menswees. Soos Eva uit Adam se rib geraam. Jou lewe het asem in my ingeblaas.

Ek is trots om deel van jou te wees. By jou lag ek hard en val ek sag. My liefdesbeker loop oor. Jy versorg my en sorg vir my. Jy dra my en help my dra. Jy laat my toe om gelyk klein dogtertjie én vrou te wees. Saam met jou blaas ek seepborrels, dra ek feëtjievlerkies en swaai my stertowerstafie rond. En saam jou is ek filosoof, akademikus, wêreldleier en aktivis.

Soveel jare terug … ek onthou nog ons heel eerste soen … jy was bietjie skaam (en ek eintlik ook!) Ek kon jou hartklop hóór toe jy my hand vashou in die fliek (ek het die fliekkaartjie gebêre tot nou toe) en jy senuweeagtig springmielies kou-kou-kou. En kaaskoek en koffie by die coffee shop daarna. Waaroor het ons nou weer gepraat? My hart het in my keel geklop! En as studente het ons Tassenberg gedeel en by die Fishmonger uit dieselfde bord geëet. Onthou jy die Valentynsdag by die ou museum in Potch … piekniek en Ddisselblom se musiek op die gras? Die studentepret, lawwigheid, lewenslus. Die hele lewe was ’n bring en braai!

’n Paar sakke sout later en die dominee vra of jy vir ewig my minnaar, manlief, malverliefde, maatjie, mede-ouer en medepligtige sal wees. Jy sê ’n duidelike “ja!” en ek lag en huil sommer gelyk. Ons eet, drink en dans van donker tot lig die volgende dag. Kerslig en wit blomme. En lewensvriende. Onthou jy ons troue se liefdesversie uit Hooglied aangehaal: “Eet vriende, drink. Word dronk van die liefde.”

En ek dink weer aan Spreuke wat wonder hoe ’n groot skip op die water dryf, ’n arend op lugstome sweef, ’n akkedis op die rotse rondklouter en hoe die liefde tussen ’n man en ’n meisie werk.

Jy het die seerplekke gesond gesoen en die wonde toegewerk. En selfs in die besige, oor-en-oor roetine van die lewe stop ek elke nou en dan en dink terug aan daardie dae toe ek gedaan en stukkend was en jy my weer aanmekaar gewerk het. En aan die konflik en kuiers en koffie en confessions.En toe ons mekaar uiteindelik gevind het (en soms steeds vind in die moeilike oggendure). Die avontuur van mekaar leer ken, misverstaan, oorbegin. En toe jy my op die strand gevra het om te trou. En my diamant. En dat ek elke dag as mens meer en meer in myself groei en rustiger en reëlmatig word. En dat jy alle kante van my ken – sag, hard, bang, bly, speels, vies en soms onbillik vrou.

En dat ek by jou méns kan wees. Sommer net mens.