Eie stories

Anne-Marie Bartie van Somerset-Wes, skryf:

Vir Jou

Hier waar ek met my tone in die koel water van die vlak poeletjie sit, speel ek met die twee spoelklippies wat ons kind netnou vir my kom gee het. In my palm lê die twee. Een, half bruinerig en ovaal. Die ander,  plat en wit. Maar albei is glad. Seepglad. Soos die see hulle geskuur het. Soos ek en jy. Glad soos die lewe ons geslyp het. Tot gladde, enerste, maar ook anderste klippies. ’n Geurige versnit van ’n druif wat die Heer Homself geplant het. Ek roep jou later om te kyk. Jy kyk en knik, want jy weet. Jy wéét!

Die dood is ’n diaboliese sadis wat in een asem die helfte van my weggeruk het. Soms het ek in die spieël gekyk en die blindheid in my eie oë het my laat sidder. ’n Egskeiding het jóú dak afgewaai. Ek onthou daardie tyd se ewige eensaamheid in die plooitjies om jou oë en die diep kepe om jou mond. Ons was soos twee verslete haweloses. Gevaarlik kantelend. Skepe wat in die donker sou vergaan.

En tog, in my woede, my eie magtelose hulpeloosheid, het ek nie ophou hoop nie. Sal daar dan weer iemand kom? En jy, in jou verbittering en verworpenheid, moes jy ook bly hoop het, teenstrydig met die ongenaakbare verbetenheid van ’n “nooit ooit weer nie?

Ek het oral na jou gesoek, onder bossies in die veld, in die wolke tussen polle helder lug. Waar bly jy dan? Waar is jy, het ek bly hunker. Ek wil jou dan liefhê. Uit drome en drome het ek jou beeld vir my gevorm. Iewers in my versigtige hart het ek ’n gemaklike holte gemaak waarin jou sou pas. Jou oë sou sag wees. Innig. My woordeloosheid sou in jou kon verdrink.

En toe daag jy op, onverwags en bo verwagting eerlik! Jy hou jou blind vir die woede, ek temmer myself teen jou bitterheid. Ons ontdek mekaar se geheime plekke wat ons oor jare so jaloers bewaak het. Ek het jou geken, maar amper tog nie erken nie. Maar iewers, vaagweg, het ek iets in jou gesien, die versugting van jou hande, die verwagtinge van jou lyf, die sagtheid in die bekende toonlere van jou stem.

Toe net, skielik, begin die dae blou en baldadig deur die skigtige oggendhorisonne breek. Sou ons gewonde harte kon rus? Jy het later die vlinder geword wat oopvladder teen my mond, soms selfs my woorde vorm, dit tot in my maag laat insink, my laat lag.

Dis toe jy, my Lief, wat vir my die heel langste van al die langsteel-vonkelsterre gaan pluk het. Selfs die sterk klank van jou naam in woeste tye bring die sekerheid dat daar nog ’n dag sal breek, dat die son die aarde vir seker sal verlig. Dis jy wat die deinserige wolke van eensaamheid verdryf het. Dis jy wat maak dat die sekelmaan ’n kelkie wyn in die water van die baai lê. Jy het die noemnaam geword van die liefde wat nou my menswees bewoon.

My woorde waai nie meer soos blinde papiere in die strate van my gedagtes rond nie. My woorde het uiteindelik papier gekry. Jy breek saam met my brode, voer die armes, aaanskou saam met my die wonder van ’n sekere soort saligmaking. Ja, soms brand ons die droë gras om die huis en gooi ons speelgoed uit betraande vensters uit. Selfs dit is goed, want uit gebrande gras kan welige uitbundige polle weer in alle geilheid groei!

Jou oë kyk vir my, jou mond lag vir my. Soms, as ek bang is, skuif jy teen my aan, keer jy die koue en die seer van my af weg. Jy bring vir my wyn. Wierook. Mirre. Ek eet jou vrugte. Ek drink jou wyn. Ek salf myself met kosbare olies…vir jóú.

Elke skemeraand staan ons op die stoep. Kyk ons na die swewing van die wind en die takke. Na die silwer lig op die donker water en iewers in ons is daar ’n enigheid. ’n Innigheid. ’n Woordelose belofte. Iets magies. Iets heiligs.

En ons albei besef ons is klippies, eners en anders. Want ons sal steeds mekaar se voete was as ons iewers op ons oudag in die maanlig op ’n rivierbedding sit. Ons sal altyd bymekaar in my oop handpalm lê. Ek en jy.