Eie stories

Anneke Rautenbach van Lichtenburg, skryf:

Likkewanus

Onthou jy ons weergawe van Crocodile Dundee? Die Afrika-weergawe? Omdat jy dit waar gemaak het toe jy my kloppende hart teen joune vasgedruk het in Savuti toe die leeus om ons tentjie gebrul het. Omdat jy my met ’n hamer teen ’n hiëna sou beskerm. Omdat jy ’n stormende olifant kaalhande vir my kan trotseer. Omdat jy onwettig vuurwerke in Mosambiek op die strand afskiet om kinders te laat skater. Omdat jy nie bang is om ’n fool van jouself in ’n parkeerarea voor ’n klomp tieners te maak met jou mannewales op ’n skaatsplank nie. Omdat jy steeds my beste maat is en ons kinders se coolste pa. Omdat jy my geleer het om vreesloos met ’n 4 x 4 die manne te wys waar Dawid die wortels gegrawe het en omdat jy my geleer het om op Iets groters as ek te vertrou. Daarom is ek lief vir jou.

Oorlat ek myself by jou kan wees met geen vrees vir veroordeling. Oorlat jy my kan laat lag net omdat jy nie bang is vir wat ander van jou dink nie. Oorlat jy my humeur kan ontlont met ’n enkele kyk. Oorlat jy ons kinders partykeer teen my woedebuie kan beskerm. Oorlat jy my rug masseer as die lewe vir my te swaar raak en oorlat jy vir my “medisyne” ingooi as mense my verinneweer. Daarom kan ek nie sonder jou.

Ek is mal oor jou wanneer jy my die ligter kant van ’n saak laat sien. Die eierdoppe vir my in die yskas bêre. Jou sleutels by my soek wat jy in die deur vergeet het. My bel om die helfte van die klanktoerusting agter jou aan te ry vir ’n belangrike optrede. Blou moord met my stry, net om dan verleë die waarheid agter te kom.

Jy maak my rasend as jy nie mooi luister nie en ek die storie weer moet vertel. Jy dryf die kinders teen die mure uit omdat jy nie hul maats se name kan onthou nie. Ek wil jou verwurg as jy my nie van ’n vergadering in ’n ander dorp (of land) vertel nie, omdat jy gedog het jy het. Ek gaan stap ’n ent as jy nie by ’n ooreenkoms hou nie en ek kners op my tande as jy ’n afspraak vergeet. Maar ek weet dat jy dit nie so bedoel nie. Wat jy bedoel, is altyd goed. Jou lyf hardloop partykeer maar net met jou kop weg en die aardse dinge kom nie met die sterrestelsel ooreen waarin jou gedagtes reis nie.

Ek sien hoedat jy stukkende mense na jou toe trek met jou sagte hart en ek onthou hoe jy my heelgemaak het.

Ek hoor jou stem as jy met kinders praat en ek weet hulle voel veilig by jou omdat jy hulle verstaan. Ek leer by jou om nie mense te oordeel nie, maar om hulle lief te hê soos hulle is. Om te wag as ek nie seker is nie en om met ’n rooskleurige bril na die wêreld te ky. Om nie ’n angsaanval te kry as dinge nie presies loop soos ek dit beplan het nie of as paspoortbeheer van die land wat ons besoek opkoopgeld vereis. Om soms geld uit te gee net omdat ons kan en te glo die dag van môre sorg vir homself.

Ek kan jou nie verlaat nie, want sonder jou is ek half. Ek mis jou as jy op ’n ander plek is, al het ek met jou baklei. Ek kan jou nooit laat gaan nie, want wat van die volgende avontuur? Ek hou aan jou vas, want jy is my anker en my vlerke. Ek vergewe jou jou foute, want jy het my eerste vergewe.

Jou smousie