Eie stories

Annemarie Cronjé van Hartbeespoort, skryf:

Om te onthou … 30 jaar later

Eerstens wil ek vir die Here dankie sê dat Hy ons soveel jaar saam gespaar het, ek het baie stof tot lof en dankbaarheid.

Op ’n koue wintersaand in 1976 het jy my hart verower toe jy vir my gesing en so mooi kitaar gespeel het. Onthou jy nog? Nog altyd is ek jou Engel en jy myne. Wat ’n voorreg!

Sedert ons troue het ek gemaklik onder jou vlerk inbeweeg en geniet ek steeds jou beskerming en versorging.

Dankie vir ons twee pragtige dogters. Die Here het vir ons twee wonderlike skoonseuns gegee.

Praat nie van Zoë nie!  Sy’s die GROOTSTE geskenk wat ons gekry het.

Ek vertrou jou ten volle in alle opsigte en is gemaklik dat jy altyd leiding neem. As ek kon kies om my lewe anders te kon hê, sou dit presies dieselfde wees. Saam met jou is die lewe ’n fees, ek bewonder jou humor, jy is mos ’n “magician” en hanteer alles met gemak.

Die pad wat ons geloop het, was soms op die grond, met klippe, hobbels en slote, maar altyd het jy voorsien en plan gemaak.

Ek bewonder jou energie en positiwiteit. Jy het innerlike vrede en dit weerspieël in jou handel en wandel. 

Jou blou oë is steeds vir my mooi. As ek ’n kompliment oor my voorkoms kry, kom dit jou toe, want dis jý wat al die jare so mooi na my gekyk het. Ons lyk al na mekaar, dink beslis dieselfde en geniet soms net mekaar se teenwoordigheid sonder om ’n woord te sê.

Dankie vir elke oggend se ontbyt in die kamer en vir die pakkie eetgoed elke dag werk toe. Ek sorteer die wasgoed en jy was dit in die masjien. En jy was altyd die skottelgoed as die skottelgoedwasser “rus”.

Ek dink nie daar is EEN ander man wat soveel bydra in die huis soos jy nie. Baie dankie daarvoor, ek behoort jou voete elke dag te soen.

Ek het nog nooit gras gesny, die motor gewas, geld by ’n OTM getrek of brandstof in die motor gegooi nie.  Dankie dat jy my beskerm en al hierdie takies vir my doen!

Ek is dankbaar dat God eerste kom en opregtheid seëvier in ons lewe. Met die grysheid kom wysheid en ons is nooit te oud om te leer nie.

Dis wonderlik om elke week ’n “trip down memory lane” te neem wanneer ons jare gelede se koortjies sing.

Is dit nie so dat hoe ouer ons word, hoe meer herkou ons aan die verlede nie? Ons is wat ons is, weet wie ons is, het nie meer nodig om te beïndruk nie en daarom is die nostalgie van die verlede so kosbaar.

30 jaar is ’n leeftyd, ons troudag is vars in my geheue asof dit gister was. Tyd staan nie stil nie, elke sekonde tik seker, maar beslis verby.

Toe die dogters klein was, het ek gebid: Here spaar my net sodat ek hulle self kan grootmaak, want niemand sal dit beter as ek kan doen nie. Die Here het my gebed geleer en ek loof Hom daarvoor.

Nou is my gebed: Spaar my net sodat ek Zoë kan vergesel op haar ontdekkingstog in hierdie wêreld. Wat ’n voorreg sal dit nie wees nie!

Ek dink die grootste seën is om saam oud te word. Dis my gebed vir ons. Ek het my plek volgens die handboek van die lewe getrou ingeneem, my ouers verlaat en onderdanig aan jou gewees. Jou toegelaat om die MAN te wees en so jou Skepper se doel te kon verwesenlik. En bowenal het ons respek vir mekaar behou.